30 kersies vir die Vriende van Afrikaans
Die Vriende van Afrikaans (VVA), wat in 2014 ’n afdeling van die ATKV geword het, is dertig jaar oud. Dit word op 8 Februarie 2024 luisterryk gevier tydens die jaarlikse Johan Combrink-gedenklesing met, onder andere, optredes van ATKV-Crescendo se finaliste.
Die VVA se voorgeskiedenis
Prof. Johan Combrink was ’n taalkundige wat bekend was daarvoor dat hy moeilike konsepte op ’n maklike manier kon verduidelik. Hy het moeite gedoen om vrae oor Afrikaans in ’n geselstrant oor die radio, televisie en in koerante aan te spreek. Daarby het hy ’n passie vir geletterdheid gehad, want iemand wat met begrip kan lees, word moeiliker om die bos gelei.
Ná 1990 het Afrikaans se rol in die samelewing verander. Combrink was ’n praktiese en pragmatiese mens wat die breë Afrikaanse gemeenskap uitgedaag om self betrokke te raak by projekte om ons taal te laat floreer.
Oom Willem Dempsey, ’n oudsenator wat op Stellenbosch gebly het, was benoud oor die verengelsing van Stellenbosch. Ná 1990 het Suid-Afrika ’n opbloei in toerisme beleef. Wynplase en sakeondernemings het gedink Engels sou besoekers lok. Toe hy eendag nie meer speserye kon koop met Afrikaanse etikette op nie, was dit tyd om iets aan die saak te doen. “My kleindogter moet tog nog borrie in die kos kan gooi, nie net turmeric nie!” was sy gevatte samevatting van die situasie.
Oom Dempsey het ’n afspraak met Johan Combrink gemaak. Die twee het ’n aantal invloedryke mense bymekaar gekry om die saak te bespreek.
’n Verkennende vergadering is op 12 Januarie 1994 gehou. Veertien dae later het ’n kleiner groep weer vergader, dié keer met ’n doel: Om die Vriende van Afrikaans op die been te bring.
Die eerste vergadering, en dus die stigting van die VVA, het plaasgevind op 2 Februarie 1994.
Die VVA groei
Oom Willem Dempsey wou ’n verskil in sy tuisdorp maak. Die VVA het egter gou vertak.
Johan Combrink, wat wyd gereis het en gereeld praatjies gelewer het oor taalkwessies, sou ander gemeenskappe aangemoedig om ook takke van die VVA te stig.
Met die ontydige dood van Johan Combrink het die bestuur van die VVA besluit om dr. Louise Combrink, Johan Combrink se weduwee, te nader om tydelik die leisels oor te neem. Louise is ’n akademikus en denker in eie reg. Werkywer en passie het nie by haar ontbreek nie. Sy het gesorg dat die VVA se kundigheid onder die aandag van nasionale liggame soos die Voortrekkermonument kom.
In 2001 word Louise Combrink verkies tot die direksie van die Voortrekkermonument en só raak sy betrokke by die skep van die Erfenisstigting, waar sy ook as direkteur aangestel word. Combrink het intussen begin soek na ’n opvolger, en het Amanda de Stadler genader om die leisels by haar oor te neem. De Stadler was ’n knap leier en het die VVA uiteindelik op ’n hele aantal direksies verteenwoordig.
Leesvaardighede
Onder De Stadler het die VVA ál meer betrokke geraak by die ontwikkeling van leesvaardighede. Sy sal veral onthou word vir die boektrommels wat aan verdienstelike kleuterskole en grondslagfaseklasse uitgedeel is. Daarmee saam is boekopvoeding en storievoorlesings vir kinders gehou, voorleeswerkswinkels vir ouers en leeskonferensies vir opvoeders.
Die VVA as ’n afdeling van die ATKV
Hoewel die VVA sonderlinge werk gedoen het, was die taallandskap drasties aan die verander. Die VVA se bestuur het besluit dat dit ekonomies meer sin sou maak om met die ATKV in gesprek te tree oor samewerking.
Japie Gouws, die toenmalige hoof- uitvoerende beampte van die ATKV, het ’n gesprek gefasiliteer en op 5 September 2014 het die lede van die VVA formeel gestem om as regspersoon te ontbind en voortaan as ’n afdeling van die ATKV op te tree.
Nuwe leiding
Chareldine van der Merwe het in 2012 saam met De Stadler begin werk. Sy het in 2018, toe De Stadler aftree, as projekbestuurder van die VVA oorgeneem en Shireen Crotz het in 2022 by Van der Merwe aangesluit.
Dié twee bou onverpoos voort aan die VVA se werk.
Volgehoue groei
Die VVA se leesbevorderingsprojekte word steeds entoesiasties uit Nederland ondersteun. In Mei 2023 het Van der Merwe en Dokka Swart (Doen en Leer) ’n baie suksesvolle toer na Nederland en België onderneem om aan donateurs en vriende van die VVA verslag te doen.
’n Boom kom in die VVA se logo voor. Daardie akkertjie wat dertig jaar gelede geplant is, het ’n boom geword. Dit groei steeds en die ATKV se logo pronk deesdae trots op die stam van daardie boom. Mag hierdie samewerking in die toekoms verder vrugte dra.