63 onnies by VVA-leeskonferensie in Kylemore
Lees lê die grondslag van alle leer. As ’n mens in ag neem dat ’n kind meer leer van voorskool tot 6 jaar as wat hulle vir die res van hul lewe sal leer, kan ons nooit te vroeg met voorlees en lees begin nie.
Niemand weet dit beter nie as die gedugte ATKV- en Vriende van Afrikaans- (VVA)-personeel wat hulself heelhartig daartoe verbind om deur leesprojekte ’n leeskultuur te skep wat kinders aanmoedig om in woordryke omgewings groot te word.
Vanjaar se Adam Small-fees te Pniël het op ’n lees- en leerhoogtepunt afgeskop met die ATKV en Vriende van Afrikaans se leeskonferensie vir laerskole wat op 22 Februarie by die PC Petersen Primêre Skool in Kylemore, met sy indrukwekkende Banhoekberg, gehou is.
Dit was die eerste VVA-leeskonferensie met die tema, “Elke kind wil lees!”, wat by die gewilde Adam Small-fees ingelyf is as deel van die skoleprogram en die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust (PEKT) se strewe om leerders in die hartjie van die Dwarsriviervallei te betrek. Die VVA is ’n afdeling van die ATKV.
Elkeen van die 63 leergierige onderwysers en deelnemers van verskillende skole in die omgewing was entoesiasties om die drie uur lange program met vyf hoofsprekers by te woon.
Onder die sprekers was Janine Myburgh, feeskoördineerder, asook die voorsitter van die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust (PEKT), wat die verwelkoming gedoen het, Dokka Swart met haar Doen en Leer-leesintervensieprogram en die spraakterapeut en leeskundige Christien Neser, met ’n meelewende gesprek oor die inklusiewe klaskamer.
Na afloop van pouse het Jaconette van Dyk van Lapa-uitgewers gesels oor voorleesboeke om kinders se emosionele welstand te bevorder, waarna Chareldine van der Merwe, ATKV-projekhoof by die VVA, interessante pitkos gedeel het omtrent die belangrikheid van voorlees vir kinders. Dié aktuele program is afgesluit deur André Hendricks, aan die stuur van van die ATKV se Kopskuif-program, wat die gehoor laat skaterlag het met sy vermaaklike motiveringspraatjie. Die programorganiseerder by die VVA, Shireen Crotz, het dié leeskonferensie gelei.
Die leeskonferensie is deel van die ATKV se boektrommelprojek, wat boeke aan skole verskaf, asook voorleeswerkswinkels hou waar daar vir leerders by skole voorgelees word. “As ’n span doen ons saam boekopvoeding en wys die leerders hoe werk ons met ’n boek,” sê Chareldine.
“Ons wil almal graag daaraan herinner dat boeke nie ’n luuksheid is nie. Dit is ’n noodsaaklikheid vir ons kinders se toekoms. Ongelukkig kan baie skole en mense nie altyd boeke bekostig nie. Daarom bied die VVA deur middel van ons boektrommelprojek die geleentheid dat kinders so vroeg as moontlik aan die wêreld van woorde en stories blootgestel word.
“Die boektrommelprojek is die VVA se vlagskipprojek. Hierdie boektrommels is vol heerlike boeke – sowat 100 boeke per trommel – wat aan verdienstelike skole en goed bestuurde kleuterskole geskenk word,” sê Chareldine.
Die VVA se boektrommelprojek bestaan uit:
’n Boekverspreidingsprojek (boektrommels aan verdienstelike kleuterskole, graad R-klasse en grondslagfaseklasse); boekopvoeding en storievoorlesings vir kinders sodat hulle die waarde van boeke kan besef en ’n liefde vir lees ontwikkel; voorleeswerkswinkels vir ouers, ander belangstellendes en opvoeders (vroeëkinderontwikkelingpraktisyns); en leeskonferensies.
“Die VVA se boektrommelprojek gaan binnekort boektrommels uitdeel in Hermanus, Struisbaai, Wupperthal, Elizabethfontein, Sandberg, Leipoldtville en die Stellenbosch-omgewing,” sê Chareldine.
Sy brei uit deur ysingwekkende statistieke te noem wat in Augustus 2019 in Die Burger verskyn het oor hoe ’n mens maak met kinders wat hulself nou moet help omdat hulle nie met begrip kan lees of selfs geensins kan lees nie:
- Net 14% van Suid-Afrikaners lees aktief, terwyl 58% van huishoudings nie ’n enkele boek het nie.
- ’n Derde van ouers vertel nie vir hul kinders stories nie en nog 50% het nog nooit vir hul kinders ’n boek voorgelees nie.
- Verdere studies in 27 lande toon dat kinders ’n veel groter kans op sukses in die lewe het as hulle grootword in ’n huis waar daar so min as 20 boeke beskikbaar is.
- Ons weet ook dat byna 80% van graad 4-leerders nie met begrip kan lees nie (PIRLS).
Volgens Chareldine is dit vir die VVA belangrik om as ’n span saam te werk omdat ’n mens dan meer kan doen en bereik. “Ons besef ook dat ons nie op alle gebiede kundig is nie, daarom werk ons saam met mense in ons onderwysafdeling, ATKV-takke en ander vennote buite die ATKV om saam projekte aan te bied wat sodoende ’n groter voetspoor laat,” sê sy.
Ander VVA-projekte wat landswyd gaan plaasvind, is by die Ommietafelgesprek by die Suidoosterfees, en Doen en Leer-opleiding in Struisbaai, Merweville en Prins Albert.
Vanjaar se leeskonferensie was so ’n groot sukses dat dit onlosmaaklik deel sal wees van volgende jaar se Adam Small-fees, wat op 20 tot 23 Februarie te Pniël duskant die Simonsberg sal plaasvind. Wees op die uitkyk vir meer inligting.