AbbAsorg bemagtig jeug én kleuters

ATKV-AbbAsorg, die ATKV se sosiaal-maatskaplike verantwoordelikheidsprogram, bied sedert Junie 2024 in vennootskap met die Afrikaanse Taalraad (ATR) ’n geakkrediteerde vlak 4 VKO (vroeëkinderontwikkeling) -opleidingsprogram vir 15 werklose jeug in Macassar aan.
Die opleiding strek oor ’n jaar en bevat beide praktiese en teoretiese komponente. Die eksterne eksamen vind in Junie 2025 plaas.
“Dit is merkwaardig dat talle van die studente reeds in die werksmag opgeneem is voordat hulle hul kwalifikasies voltooi het,” sê Jerome Steenkamp, bestuurder: ATKV-AbbAsorg.
Jerome verduidelik dat die inisiatief nie dié van AbbAsorg as sodanig was nie, maar van die ATKV.
“Omdat dit in die aard van die ATKV se werksaamhede is om gemeenskappe op te lei en te ontwikkel, is ’n opleidingsinstituut in 2018 gestig,” sê hy.
“Een van die kerndoelwitte van die ATKV is om as burgerlike organisasie ’n bydrae tot die vestiging van ’n suksesvolle Suid-Afrika te lewer. Die instituut is gevestig om deur opleiding en ontwikkeling hierdie doelwit te bereik.”
Jerome sê die ATR het aanvanklik na hulle uitgereik.
“Die ATR het ons genader om ’n gesprek te voer oor die raakpunte tussen die twee organisasies, waarvan een die vlak 4 VKO-opleidingsprogram was. Hulle het reeds ’n verhouding met die gemeenskap in Macassar gebou en ons het ooreengekom dat dit die ideale area vir die opleiding sou wees,” verduidelik hy.
Studente word vir die duur van die opleidingsprogram ondersteun en bygestaan.
“Studente ontvang hierdie opleiding gratis,” sê Jerome.
“Hulle kry leermateriaal en word vir hulle praktiese opleiding by VKO-sentrums binne die gemeenskap geplaas. Tydens hulle praktiese opleiding word hulle die geleentheid gegun om dit wat hulle vanuit ’n teoretiese perspektief geleer het, by die sentrum toe te pas. Die sentrumhoofde waar hierdie studente geplaas word, tree as mentors op om hulle verder touwys te maak en tot volwaardige en goed opgeleide VKO-praktisyns te ontwikkel.”
Volgens Jerome is nege uit die 15 studente alreeds in die sentrums aangestel waar hulle hul praktiese opleiding gedoen het.
Hy voeg by daar is planne om die program voort te sit en selfs na ander gemeenskappe uit te brei.
“Die program gaan vanjaar in Bloemfontein uitgerol word,” sê Jerome.
“Dit is vir ons krities belangrik dat kleuters tot voorskoolse onderrig toegang het. Soms blyk dit asof daar ’n groter fokus op toegang geplaas word, maar gehalteonderrig vind by gans te min van die kleuterskole plaas.
“Volgens die General Houseld Survey (2019) het 64,1% van ons kinders een of ander vorm van voorskoolse program bygewoon. Volgens die basislynassessering van Thrive by Five se nasionale indeks, was 45,7% van kleuters op koers vir voorskoolse ontwikkeling. Laasgenoemde bevestig net weereens dat daar ’n strenger fokus op gehalte- voorskoolse onderrig geplaas moet word.”
Nicolette Oerson, een van die fasiliteerders van die VKO-opleidingsprogram, vertel kortliks van ’n suksesverhaal wat opgelewer is.
“Een van die studente het by twee verskillende kleuterskole gewerk. Sy het nou die voorreg gehad om by ’n Montessori-skool ook te werk. Daar het sy haar kennis verbreed en begin agterkom hoe sekere kinders verander en hoe sekere sentrums van mekaar verskil,” sê Nicolette.
Sy voeg by dat die studente die kursus sonder enige kennis van VKO-opleidingsprogramme of agtergrond begin het.
“Hulle het met die verloop van tyd só gegroei dat hulle nou volwaardige praktisyns wil wees.
“Baie van hulle was aan die begin baie onseker van hulself, maar is nou baie positief omdat hulle so gegroei het in die afgelope tyd wat hulle met die kursus besig was.
“Dan het hulle ook agtergekom dat elke kind nie dieselfde is nie. Daar is sommige kinders wat spesiale behoeftes het wat in die sentrums is, wat anders behandel of geakkommodeer moet word. Maar dit het hulle nie afgeskrik om ook met hierdie soort kinders te werk nie.
“Hulle is baie dankbaar dat die ATR en AbbAsorg vir hulle die geleentheid gegee het om hierdie kwalifikasie te kan bekom. Hulle is baie opgewonde en sien daarna uit om die kwalifikasie te voltooi sodat hulle as volwaardige praktisyns in ’n werkplek kan instap.”
Jerome sê ander organisasies of individue is meer as welkom om na hom uit te reik by jeromes@atkv.org.za indien hulle wil betrokke raak of die program wil ondersteun.