AbbAsorg bring hoop in Cloetesville
Dit was ’n jare lange droom om ’n plek in Cloetesville, Stellenbosch, te open waar die dorp se jong inwoners in ’n veilige ruimte kon speel en leer. Dié droom is nou verwesenlik en is die geesteskind van Johanna Vermaak, die stigtershoof van ATKV-AbbAsorg. Haar droom is in ’n brief in 2017 neergepen, maar dit het lank gevat voordat die plan spreekwoordelike vlerke kon kry.
ATKV-AbbAsorg is die ATKV se sosiaal-maatskaplike verantwoordelikheidsprogram en het ten doel om ’n veilige omgewing te skep waar kinders gehalte-opvoeding en versorging kan ontvang. Daar is tans vyf sentrums: Boskabouters en Pinocchio in Hartenbos, Estoire in Bloemfontein, Promosa in Potchefstroom, en natuurlik Cloetesville. Daar word beplan om die AbbAsorg Cloetesville-sentrum, wat as ’n pyplyn vir graad R-leerders sal dien, in November 2025 amptelik te open.
Johanna het intussen die bekende akademikus prof. Jonathan Jansen genooi om te kyk wat hulle doen en hy het die kerk besoek. Hy was instrumenteel daarin om die regte mense bymekaar te kry om Johanna se droom waar te laat word.
As sy nou terugkyk, besef sy dit was “alles deel van die Vader se meesterplan”, het Johanna by die opening vertel. “Ons het ’n klein begin gehad, maar danksy ons korporatiewe borge het ons vandag drie klaskamers, ’n siekeboeg, ’n kantoor en ’n speelgrond. Ons het ’n kurrikulum en ’n program wat geregistreer is. Ek glo ’n mens moet elke dag iets doen wat jou bang maak en ons het nie teruggedeins vir die uitdagings nie.”
Johanna het vertel dat die projek moontlik gemaak is deur ’n klomp partye wat almal ’n gesamentlike verbintenis tot vroeëkinderontwikkeling deel, en mense wat werklik ’n verskil wil én kan maak.
Sonél Brits, die besturende direkteur van die ATKV-MSW, het daarop gewys dat AbbAsorg as ’n vrywillige struktuur ontstaan het.
“Ons eerste AbbAsorg-tak, Promosa, is in Potchefstroom en daar is vandag vyf sentrums landwyd. Die ATKV is vanjaar 95 jaar oud en dit is in die DNS van ons organisasie om mense te bemagtig – of dit nou in die jare dertig met die ouens op die Spoorweë was, of waar ons vandag met kinders werk. Ons wil ’n verskil in die land maak deur mense te bemagtig en waarlik te ontwikkel.
“Die sentrum is as ’n takprojek begin en ons takke is steeds betrokke, en wil nou ook ’n groentetuin vir die skool vestig. Ons glo dat daar so vroeg as moontlik met vroeëkinderontwikkeling begin moet word, en jy moet so vroeg as moontlik in kinders se toekoms belê, want dis dan wanneer ons ook ’n blink toekoms vir ons land sal sien.”
Hennie Louw is die hoof- uitvoerende beampte van Breadline Africa, ’n organisasie sonder winsbejag, wat fokus op opvoedkundige infrastruktuur vir vroeëkinderontwikkeling. Dié organisasie het saam met die Universiteit Stellenbosch ’n allemintige R1,5 miljoen vir die sentrum bewillig, wat die oprigting daarvan moontlik gemaak het.
“Alles gaan oor vennootskappe,” het Hennie gesê. “Dis hoe Breadline werk en ons is baie opgewonde oor die ontwikkeling van AbbAsorg Cloetesville. Die kinders herinner ons waarom ons werk saak maak. Dis die 64ste sentrum wat ons vanjaar geopen het, en die gebou is ’n bewys van ’n gesamentlike geloof dat elke kind ’n veilige ruimte nodig het om te leer en te groei.”
Prof. Jonathan Jansen het ook klem gelê op die belangrikheid van vroeëkinderontwikkeling, en daarop gewys dat vele studies al bewys het dat as jy in die onderrig van jong kinders belê, jy ’n blywende impak op hul lewe maak.
Dr. Badroonesa Govender, die Wes-Kaapse onderwysdepartement se adjunkdirekteur van vroeëkinderontwikkeling, het daarop gewys dat die sentrum die gemeenskap se projek is en dat ’n kleuterskool by ’n laerskool die toekoms van vroeëkinderontwikkeling is.
“Ons wil nie hê ons kinders moet bloot TV kyk of oorsese projekte in klasse volg nie. Dis belangrik om ’n eie kurrikulum en program te hê. Baie graad R-onderwysers sukkel met kinders wat nie weet wat hulle op daardie ouderdom moet weet nie, en daarom is die ontwikkeling van kinders in hierdie fase fundamenteel. Ons moet in vroeëkinderontwikkeling belê sodat daar gehalte-onderrig in elke klaskamer, skool en provinsie is.”
Rodger Cupido, die hoof van die Laerskool Cloetesville, het die bedankings gedoen en dit benadruk dat elkeen sy deel kan doen, want dis dán wanneer gemeenskappe kan verander en verbeter.
“Iets wat dalk vir jou klein lyk, kan ’n groot verskil in iemand anders se lewe maak. Ek hoop die sentrum sal ’n plek wees waar jong breine kan groei, hul nuuskierigheid geprikkel en gekoester kan word en dat dit ’n grondslag vir lewenslange leer sal lê. Ek hoop vele generasies ná hulle sal voordeel hieruit trek.”
Het jy geweet?
Die bekende Afrikaanse rockster Francois van Coke het ook sy deel vir AbbAsorg Cloetesville gedoen. Hy sou aanvanklik in Oktober aan die Kaapstad-marathon ten bate van die sentrum deelgeneem het, en wou R1 000 vir elke kilometer insamel. Die mikpunt was om R42 000 vir die sentrum in te samel.
Die radiostasie Jacaranda FM se Good Morning Angels het daarvan te hore gekom en het R10 000 vir die projek geskenk. Die marathon is egter deur wind gekanselleer, maar Francois het bloot ’n ander idee uitgedink. Hy het daarom besluit om op 6 November vanaf sy huis in Bellville na die AbbAsorg-sentrum in Cloetesville te hardloop en mense kan hom steeds ondersteun deur bydraes te maak. Hy het meer as 60% van sy doelwit bereik.
Wil jy betrokke raak?
- Vind meer uit oor ATKV-AbbAsorg deur atkv.org.za/neem-deel/abbasorg te besoek.
- Besoek gerus breadlineafrica.org vir meer inligting oor Breadline Africa.