AbbAsorg Cloetesville kry R1.5 miljoen-skenking
ATKV-AbbAsorg Cloetesville het op Donderdag 7 September ’n astronomiese skenking van R1 500 000 van die Universiteit Stellenbosch (US) en Breadline Africa ontvang.
Nagenoeg 150 gaste het die swierige geleentheid ter viering van korporatiewe filantropie op die 28ste vloer van FNB se hoofgebou in Kaapstad bygewoon.
Bekende rolspelers wat die aand meegemaak het, was Rolene Strauss, mediese dokter en ’n voormalige Mej. Suid-Afrika- en Mej. Wêreld-wenner, Gesie van Deventer, Stellenbosch se burgemeester, prof. Hester Klopper, viserektor: strategie, globale en korporatiewe sake by die US en Marion Wagner, direkteur van Breadline Africa.
Een van die vele hoogtepunte van die aand was die gesprek tussen die bekende CapeTalk-radiopersoonlikheid, John Maytham, prof. Jonathan Jansen, buitengewone professor in onderwys (US) en prof. Thuli Mandonsela, verbonde aan die regsfakulteit van die US, oor hoop in Suid-Afrika.
Op die vraag of daar nog hoop vir Suid-Afrika is, was Jansen se besliste antwoord betreffende onderwys, “As ’n onderwyser kan ek jou nou sê daar is geen verskil tussen kinders van die rykste skole en kinders van skole in arm gemeenskappe nie. Die enigste verskil is die verskil in geleenthede. Met hierdie nuwe plan om ’n embriotiese program (AbbAsorg Cloetesville) aan ’n bestaande skool (Laerskool Cloetesville) te verbind, skep ons ’n pad vorentoe.
“Hierdie skenking konnekteer die vroeëkindergehalteopvoedingsentrum aan die primêre skool om toe te sien dat daar ’n gemaklike oorgang vir die kind na die laerskool is. Dis net ’n wen-wen situasie,” sê Jansen.
Janine McEvoy, besigheidsontwikkelingsbestuurder by Breadline Africa, sê Johanna Vermaak, stigtershoof van ATKV-AbbAsorg, het Breadline Africa gekontak om te sê ATKV-AbbAsorg Cloetesville funksioneer vanuit ’n kerkfasiliteit en voldoen nie aan al die opvoedingsbehoeftes nie.
“Breadline Africa het toe na die behoeftes gekyk, dit beoordeel, by AbbAsorg Cloetesville gaan kuier en besluit om met die projek voort te gaan. “Enige vroeëkinderontwikkelingsprogram is afhanklik van befondsing sodat hulle die regte infrastruktuur het om optimaal te funksioneer. Ons het besluit om die pad saam met hulle te stap.
“Ons het genoeg geld ingesamel vir drie klaskamers, ’n voerkombuis, ’n kantoor, ’n siekeboeg en ’n speelpark vir die kinders om te speel,” sê McEvoy.
Volgens Sonél Brits, besturende direkteur: ATKV-MSW, het ATKV-AbbAsorg Cloetesville glad nie dié groot skenking verwag nie. “Dit was die mikpunt wat gestel is, maar ons was onder die indruk dat hierdie net die afskop sou wees, en ons nog handespitwerk sou doen om daarby uit te kom.
“Die inspuiting help ons om ’n droom te verwesenlik om dié sentrum te huisves in ’n pasgemaakte omgewing waar ons vir die kinders die beste moontlike geleenthede kan gee. Dit is vir die ATKV belangrik om in ons jongmense te belê, want hulle bly die toekoms van ons land, en ons glo dat al die saad wat jy saai wel die resultaat sal lewer om ’n verantwoordelike, etiese samelewing waar mense vir mekaar omgee, te skep.
“Dis ongelooflik om te sien hoe so ’n sentrum in ’n gemeenskap ’n positiewe invloed het, want jy werk ook met die ouers en jy bring tuis hoe belangrik opvoeding, lees en struktuur met voeding saamgaan. Dit raak ’n netwerk in die gemeenskap,” sê Brits.
Aldus Jerome Steenkamp, bestuurder: ATKV-AbbAsorg, is die leuse van AbbAsorg “Om ’n kind vlerke te gee”. “Ons weet hoe die werkloosheidsyfer en opvoedingskrisis in ons land lyk, en daarom wil ons ons hande saamsit om te beste opvoeding vir ons kinders daar te stel,” sê Jerome.
“Die nuwe struktuur sal ons die vryheid gee om die kinders in ’n veilige omgewing te laat leer. Die onderwysers kan in dieselfde veiligheid klasgee en hoef hulself nie te veel te bekommer oor ander onnodige uitdagings nie.
“Ons wil ons opregte dank uitspreek teenoor prof. Jansen, die US, asook Breadline Africa, wat hierdie inisiatief moontlik gemaak het. Mag dit wat julle so onbaatsugtig saai veelvoudig na julle toe terugkeer.”
Die inspirerende boodskap van die aand was dat die oplossing van Suid-Afrika se probleme in elke landsburger se hande lê, asook sy vermoë om die korporatiewe burgerskap onder ander te mobiliseer om sodoende ’n bydrae te lewer tot ’n suksesvolle Suid-Afrika.