AbbAsorg en ROC Foundation maak reuseverskil

AbbAsorg, die ATKV se sosiaal-maatskaplike verantwoordelikheidsprogram, het in 2024 ’n ondernemingsontwikkelingsprogram saam met die ROC (Reach Our Community) -stigting in Bloemfontein begin – en dié vennootskap werp goeie vrugte af.
AbbAsorg ondersteun die ROC-stigting se praktisyns nie net deur dié kwalifikasie nie, maar voeg deur sy begeleiding waarde by.
Jerome Steenkamp, bestuurder: ATKV-AbbAsorg, verduidelik wat die organisasie geïnspireer het om spesifiek saam met die ROC-stigting in Bloemfontein te werk.
“AbbAsorg besit geen van die persele waar die sentrums geleë is nie. Vennootskappe word gesluit met gemeenskappe waar die verskeie sentrums geleë is. Kort voor die aanvang van die Covid-19-pandemie het een van die eienaars van ’n perseel met wie ons ’n vennootskap gehad het, hul perseel verkoop. Ons was daarom genoop om na ’n ander perseel te kyk waar die sentrum in Bloemfontein heen sou verskuif.
“Terwyl ons gesoek het, het ons paaie met Patrick Kaars van die ROC-stigting gekruis. Dit het uit aanvanklike gesprekke duidelik geword dat hulle ’n soortgelyke visie en waardestelsel deel as dit wat ons by AbbAsorg nastreef. Ons het kort daarna ’n eie perseel gekry en nadat ons by die perseel gevestig was, het ons die ROC-stigting genader om vas te stel hoe ons die raakpunte tussen die twee organisasies beter kan ondersoek en benut, en vandaar die vennootskap gevestig.”
Jerome bespreek watter behoefte die program in die gemeenskap aanspreek en hoe dit by AbbAsorg se oorhoofse missie en visie inpas.
“Ons bied ondersteuning deur groter klem te plaas op gehalte vroeëkinderontwikkeling (VKO) -dienste en nie net bloot op toegang nie.
“Die ATKV wil deel wees van ’n suksesvolle Suid-Afrika. Een van die areas wat deur die ATKV geïdentifiseer is om te werk aan ’n suksesvolle Suid-Afrika, is vroeëkinderontwikkeling. Onderwys is dus ’n uitstekende instrument vir ’n suksesvolle land.
“Ons het arm gemeenskappe regoor die land waar mense dit nie kan bekostig om hul kinders na VKO-fasiliteite te stuur nie. Wanneer ouers nie kan bekostig om hul kinders na voorskoolse instansies te stuur nie, word hierdie kinders sonder toesig gelaat. Dit lei daartoe dat hulle op straat ronddwaal en slagoffers van sosiale euwels, soos bendegeweld, alkohol- en dwelmmisbruik word.
“Wanneer ’n kind skool met ’n leeragterstand begin, is die kans dat hulle op skoolvlak gaan uitblink, beperk. Daarom het die ATKV ’n bewuste besluit geneem om VKO-dienste te verskaf aan kinders uit die armste gemeenskappe sodat hulle ’n gelyke geleentheid het om suksesvolle lewens te lei. Die visie en waardes van die ROC-stigting stem hiermee ooreen.”
Jerome verduidelik wat die mentorskapprogram behels en hoe lank dit duur.
“Die mentorskapprogram word oor ’n periode van ’n jaar geïmplementeer. Ons doen ’n analise van die stelsels van aflewering vanuit die perspektief van strategie, bestuur, finansieel, menslikehulpbronbestuur en operasioneel.
“Nadat sterkpunte en leemtes in hierdie stelsels geïdentifiseer word, word ’n program gevolg wat help om spesifiek die leemtes aan te spreek.
“Wat ’n kurrikulum betref, betrek ons AbbAsorg-sentrumhoofde wat ervaring het met die toepassing, monitering en evaluering van die AbbAsorg-program. Hulle analiseer komponente, onder andere die dagprogram, lesbeplanning, bestuur van hulpbronne, hoe kleuters se mylpale waargeneem word en watter monitering en evalueringsmaatreëls daar by die sentrum bestaan.
“Deur gereelde skakeling en mentorskap tussen bestuur en die praktisyns, word daar intervensies van stapel gestuur wat ’n bydrae daartoe lewer dat gehalte VKO-dienste by die sentrum gebied word.
“Waar praktisyns nie oor die voorgeskrewe VKO-kwalifikasies beskik nie, bied die ATKV-Instituut ’n geakkrediteerde vlak 4 VKO-opleiding aan om te verseker dat praktisyns oor die minimum vereistes beskik wat hulle in staat stel om volwaardig en met groter geloofwaardigheid in die sektor te kan werk.”
Jerome sê een van die grootste struikelblokke vir VKO-praktisyns in hierdie gemeenskappe is die feit dat daar gans te min by sentrums in die gemeenskappe gefokus word op stelsels wat gehalte teweegbring.
Daar is tans 15 werklose jeug wat aan die program deelneem en in Julie gaan ’n groep van 20 werkende en niewerkende studente, wat in sommige gevalle alreeds sonder kwalifikasies in die tuig staan, aan die program deelneem.