AbbAsorg: Kinderfonds-skenking ’n kleinood

AbbAsorg, die ATKV se sosiaal-maatskaplike verantwoordelikheidsprogram, het onlangs sy jaarlikse finansiële skenking ter waarde van R100 000 van die Beeld-Kinderfonds ten bate van die liefdadigheidsorganisasie se Promosa-sentrum in Potchefstroom ontvang.
Volgens Elsie Helberg, sentrumhoof van ATKV-AbbAsorg se Promosa-sentrum, doen dié instelling wonderlike werk vir die kinders.
“Beeld-Kinderfonds se betrokkenheid by ATKV-AbbAsorg is eintlik iets wat nie in woorde beskryf kan word nie,” sê sy.
“Ons kinders bly in Promosa en kom uit gesinne wat oor min geld en hulpbronne beskik, maar hier by ons geniet hulle die voorreg om aan buitemuurse aktiwiteite deel te neem.
“Hulle het by AbbAsorg toegang tot ’n arbeidsterapeut en ’n musiekterapeut. Dit word alles moontlik gemaak deur die geld wat die Beeld-Kinderfonds aan AbbAsorg skenk. AbbAsorg is ongelooflik dankbaar vir die finansiële hulp en ons werk uiters verantwoordelik met die fondse.”
Daar is vyf AbbAsorg-sentrums in Suid-Afrika wat ten doel het om ’n veilige omgewing te skep waar kleuters gehalteopvoeding en -versorging kan ontvang: Promosa, Heidedal (Bloemfontein), Cloetesville (Stellenbosch), Pinocchio (Mosselbaai) en Boskabouters (Ruiterwag).
Jerome Steenkamp, nasionale bestuurder van AbbAsorg, sê: “Die bydrae stel ons in staat om meer aandag te skenk aan georganiseerde voorskoolse strukture en programme en daardeur ’n verskil in die lewens van ons 50 kosbare peuters te maak. Behalwe kos wat verskaf word, ondersteun arbeidsterapeute die kleuters om hul mylpale te bereik en aan praktisyns uit te wys waar daar leemtes by kleuters bestaan wat aandag verg.
“Die bydrae word ook aangewend vir die aankoop van hulpmiddels en skryfbehoeftes, vir rekenaarlesse en ’n vlak 4 VKO-kwalifikasie vir een van ons praktisyns wat nuut aangestel is.”
Jerome verduidelik watter soort impak die skenking op die kinders het wat by AbbAsorg se programme baat.
“Hierdie skenking sal ons beslis ’n paar treë nader bring aan die verwesenliking van ons doel om aan elke peuter ’n gelyke kans vir skolastiese vordering te bied,” sê hy.
“Ons kry gereeld terugvoer van oudleerders se ouers of van die personeel by die Laerskool Promosa. Kinders wat die AbbAsorg-sentrum bygewoon het, vaar baie goed op laerskool. Dit is duidelik dat hulle ’n goeie fondasie het waarop voortgebou kan word.”
Jerome sê die Beeld-Kinderfonds se skenkings het AbbAsorg toegelaat om nuwe projekte te begin en om bestaande programme te versterk.
“Ons kon ons dienste uitbrei. Die Thrive by Five-indeks, Suid-Afrika se eerste indeks om vroeëkinderontwikkelingsuitkomste te meet, is in April 2022 geskep. Hierdie indeks het ten doel om te bepaal hoeveel kleuters in Suid-Afrika tussen die ouderdomme van 50 tot 59 maande hulle ontwikkelingsmylpale behaal.
“Volgens Statistiek Suid-Afrika is daar nagenoeg 7 191 000 kinders tussen die ouderdomme van 0 tot 6 jaar in Suid-Afrika. Die Kinderinstituut beweer dat ongeveer 62,4% van die kinders uit lae-inkomste huishoudings kom. Dit impliseer dat hul ouers oor slegs genoeg finansies beskik om basiese voeding en ander noodsaaklikhede aan te koop.
“Dit is teen hierdie agtergrond dat AbbAsorg hulself meet om te bepaal in watter mate hulle daarin slaag om kleuters te ondersteun met die bereiking van hul ontwikkelingsmylpale. Die basislynassessering is in 2023 op AbbAsorg gedoen en ’n eindlynassessering in 2024. Die kleuters by AbbAsorg se Promosa-sentrum vaar gemiddeld beter as die nasionale standaard. Die statistiek is op aanvraag beskikbaar.”
Jerome beklemtoon ook hoe belangrik vennootskappe soos dié met die Beeld-Kinderfonds vir AbbAsorg se werksaamhede is.
“Bydraes – klein of groot – gaan vir kleuters tussen drie en ses jaar die geleentheid tot ’n grondslag vir ’n beter toekoms gee,” sê Jerome. Bydraes kan aan die ATKV-Woekerfonds gestuur word.
Vir meer inligting oor die Woekerfonds se werksaamhede, skakel 011 919 9000, of stuur ’n e-pos aan woekerfonds@atkv.org.za. Persone wat ’n skenking van meer as R100 maak, sal op 1 Maart van die volgende belastingjaar ’n artikel 18A-sertifikaat ontvang.
Niewinsgewende organisasies kan by die Beeld-Kinderfonds aansoek doen, waarna ’n komitee besluit wie vir hulp kwalifiseer.