Adam Small-fees: Afrikaans die gemene deler

Tydens ’n ommietafelgesprek by vanjaar se Adam Small-fees, wat by die Pniël-museum gehou is en ’n vol gehoor getrek het, is daar gepraat oor hoe Afrikaanse musiek lewe en hoe jong kunstenaars moet veg, waag en hul talent gebruik om die regte vastrapplek in die mark te kry. Bekendes in kultuur- en feeskringe, onder andere Karen Meiring en Saartjie Botha, het die gesprek bygewoon.
Chareldine van der Merwe, projekbestuurder van die Vriende van Afrikaans (VVA), het dié dinamiese paneelbespreking met die tema: “Hoekom ’n musiekloopbaan in Afrikaans?” gelei.
Die paneel was Frazer Barry (bekende musikant, televisieaanbieder en woordkunstenaar), Sarah Theron (akteur, sangeres en ’n ATKV-Crescendo-mentor) en Quintin Goliath, alias Jitsvinger (bekroonde uitvoerende kunstenaar en musikant).
Maak die pad oop
Die gehoor het aan Barry, wat op Kleinmond grootgeword het en al vir meer as 20 jaar ’n musikant op nasionale en internasionale verhoë is, se lippe gehang.
Volgens Barry, getooi in ’n rooi hoedjie en rooi velskoene, moet die gehoor teruggaan en kyk hoe Afrikaanse musiek destyds nié gelyk het nie.
“Politiek en segregasie het ’n rol gespeel in watter musiekstyle aanvaarbaar was. Popmusiek vir wit mense het deurgekom in die populêre wêreld ... Toe gebeur die groot liedjiebeweging van sagte, ligte musiek en toe later ernstige musiek. Steeds het my ooms, wat almal musikante is, vir my gesê: ‘Frazer, ons het nie hierdie geleenthede gehad nie.’ Dit het my diep geraak. Hulle het basies gesê, ‘Gaan en maak die beste daarvan.’ Die verteenwoordiging van bruin stemme het ontbreek, maar dit is die verlede,” sê hy.
Barry meen die verlede se uitsluiting het wel vandag nog ’n impak en dat dit belangrik is om moeilike gesprekke te hê, want dit is nodig vir die volgende generasies se onthalwe. Hy sê rolmodelle vang die kinders, maak seker hulle kry ’n goeie inspuiting, beskerm hulle, sê hulle is waardig, en bevestig dat hulle hul herkoms mag liefhê.
“Kunstenaars is begeester deur die toestand van die gemeenskap en ons reageer hierop. Dit is so lekker om dit in my taal vir my mense te kan doen.”
Hy sê dat Afrikaanse musiek in die bedryf, veral die teaterbedryf, baie vêr gekom het en dat daar baie ontwikkelingswerk is.
“Niemand gaan ons weer kom terugdruk nie.”
Hoe lyk Afrikaanse musiek?
Barry meen segregasie geld steeds sover dit populêre musiek betref.
“Ons sit met ’n klomp musikante wat gefragmenteerd werk en hulself nie opstel om in die besigheid in te gaan nie. Daar is ’n sterk stem daar buite wat dikwels die uitgangspunt het: ‘Ek hoop ek maak dit.’
“Dan kry jy die bedryf waar mense kuns skep in die teater, ’n nismark, waar mense lewe gee aan ’n storie. Dis waar ek my bevind,” sê Frazer.
Hy beklemtoon dat jou gawe, sangtalent en manier van loopbaanbestuur jou roete bepaal.
Gee aan wat jy het of weet
“Wat is jou eerste liefde?” vra Chareldine van der Merwe aan die begin van die gesprek aan die sangeres Sarah Theron.
“As jou loopbaan begin lank raak, soos ek in my 33ste jaar as verhoogkunstenaar, dink jy oor die goed. My eerste liefde bly storievertel, daarom het ek gaan drama swot. Ek het twee padwysers, Laurika Rauch, wat ook drama gaan swot het en toe ’n sangeres geword het wat liedjies sing wat stories vertel. Die ander dame wat my aan die hand gevat het, was June van Mersch. June het vir my gesê: ‘Absorbeer alles wat jy kan, wees lief vir alles en moet nooit jou oë laat dood raak nie. Jou eerste doel is om die storie te vertel.’
“Ek gee nie eintlik om waarmee ek besig is nie, ek wil net die storie vertel. Dis verteenwoordigend van jouself en ander mense. Om ’n storieverteller te wees, is ’n voorreg en ’n plig, jy moet dit aangee.”
Sarah het tydens die gesprek ook die belangrikheid van mentorskap onderstreep.
“Die proses maak nooit klaar nie, kuns maak nooit klaar nie. Mentorskap is belangrik, omdat ’n mens dit moet aangee,” sê sy.
Taal is Jitsvinger se ‘tux’
Die kletsrymer en hip-hop-kunstenaar, Jitsvinger, is die gesig van Afrikaapse kletsrym.
“Adam Small glimlag seker vandag as hy aan jou dink as die gesig van Afrikaaps,” noem Chareldine.
Quintin Goliath het vertel dis nogal soos “a blast from the past” om te dink aan hoe hy aan sy verhoognaam gekom het. “Jits” is ’n kragwoord, vertel Goliath, en die “vinger” is die intellektuele padwyser.
“Ek wil mense wys na die probleme in gemeenskappe. My taal is my tuxedo as ek uitgaan, my taal is my Rolls-Royce as ek optrek by die winkel. In Afrikaans kan ek die Rolls-Royce gebruik om pos te gaan uithaal. Hoe doen ons daai? Met nuwe woorde waarmee ons opkom.”
“Watter kopskuif het ons nog nodig binne die kunste?” het Van der Merwe die paneel gepols.
“Ons moet ophou om so precious te voel oor die taal. Die taal het ontstaan om kulture te oorbrug – ek wil jou verstaan want jy is inheems,” reken Barry.
“Kruisbestuiwing is baie noodsaaklik. Diversity is ’n krag en ons kan dit hier in ons gehoor sien. Ons kom van regoor die wêreld. Dit is maar net reg dat ons die taal versterk deur ons invloede en heenkome. Dit sal die vooruitgang wees.”
“Wat die jongspan betref, moet hulle doen wat hulle wil. Hulle is genoeg gesê en voorgeskryf. Die jongmense kan nie hulself wees as mense hulle alewig in ’n raampie wil hou nie.”