Adam Small-fees blom uit die gemeenskap
“As jy ’n fees êrens gaan neersit en sê: ‘Wees nou ’n fees,’ sukkel dit om lewenskragtig te bly. Maar as ’n fees uit ’n gemeenskap kom, is al die organiese wortels daar.”
Met daardie beeld – wortels wat diep in grond groei – het Saartjie Botha, dramaturg en feesdirekteur van die Toyota Stellenbosch Woordfees, haar pluimpie uitgedeel aan Janine Myburgh en Darryl David. Hulle is die groot geeste agter die negende en mees suksesvolle Adam Small-fees nóg.
Dis erkenning dat dié fees nie ingevoer is nie. Dit het gegroei uit Pniël se grond, uit die Dwarsrivier se mense, uit die erfenis van ’n dramaturg, Adam Small, wat saam met ’n wyle mededigter, Diana Ferrus, met mense oor gemeenskappe heen praat.
“Die fees raak nou baie bekend en het sy plekkie gevind op die kalender van feeste. Verlede jaar het ons saam met Afrikaans100 ’n program aangebied. Baie van die Afrikaanse organisasies soos die ATKV, die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) en die Het Jan Marais Nationale Fonds ondersteun ons ook,” vertel Janine.
Die gewilde fees het oor vier dae gestrek – van Donderdag se skoleprogram saam met die ATKV en Vriende van Afrikaans tot Saterdag se hoogtepunt, wat saamgeval het met Internasionale Moedertaaldag. Verrigtinge het afgespeel in die Pniël-museum se tuin, die Pniël Congregational-kerk en die kerksaal. Die Sondag se Adam Small-feesdiens was, soos altyd, ook ’n belewenis.
Vanjaar sou Adam Small 90 jaar oud gewees het. Dit is ook tien jaar sedert sy heengaan. Maar Small se stem – soms sag, soms snydend – was orals hoorbaar. Met die ondersteuning van die SBA was daar ’n sterk fokus op die relevansie van sy werk vir die jeug: toe én nou.
Dit het gestalte gekry in ’n vierbedryfproduksie met segmente soos Waar Oekal Dje Belong, Ongekarteerde Drome, Tussen Vlugte en Langs die Pad Uitsak. ’n Gedenklesing met die aangrypende titel “Hulle praat oor afstande, jare, drome en die dood heen: Adam Small en die jeug” het verder die brug tussen generasies gespan.
Want dit is wat dié fees doen: dit bou brûe tussen toe en nou.
“Ons het vandag waarskynlik jongmense wat vir die eerste keer met Adam Small te doen het,” het Saartjie gesê. “Dis ’n goeie projek om jong skrywers aan te moedig om iets uit sy werk te vat wat hulle inspireer en dit te laat resoneer met vandag.”
Daar was egter ook ’n stille teenwoordigheid. By ’n portretfoto het ’n kers deurentyd gebrand vir die ikoniese digter Diana Ferrus.
“Ek mis haar vandag,” het Saartjie sag gesê. “Sy het elke jaar hier gebly. Sy het mense ondersteun. Sy het kontak gemaak met digters uit die gemeenskap. Sy het soveel belê in ander.”
Diana Ferrus se Mengelmoes Digters was nie net ’n projek nie – dit was ’n beweging. Haar krag het gelê in haar orale aanbieding, haar vermoë om poësie te laat leef en asemhaal. Sandra Prinsloo het dit so gestel: “Sy was ’n groot lig in ons kulturele landskap.”
En toe – op Saterdagoggend – het die doyenne van Suid-Afrikaanse film en teater haar verskyning gemaak. Sandra Prinsloo het sjarmant en nederig in die voorste ry gaan sit om die SBA se 16-lid dramaspan te ondersteun.
Sy praat oor mentorskap – oor hoe jongmense vandag hul mentors op TikTok en sosiale media vind.
“In my jare was daar baie mentors. Mentorskap help ’n mens. Dis goed wat my jare gevat het om te leer.”
Saartjie het die Adam Small-fees beskryf as ’n “baie belangrike sustersfees” vir die Woordfees.
“Hier word saadjies gesaai wat ons later kan oes. Dis ’n wonderlike platform om mense deel te maak van ’n gemeenskap wat kunstefeeste bywoon.”
Daar is ’n nederigheid in dié erkenning – dat feeste nie in isolasie bestaan nie. Dat kulturele oorlewing samewerking verg.
“Ons almal het te min geld,” het Saartjie eerlik gesê. “As ons nie saamwerk en bymekaar leen nie, sny ons ons eie kele af.”
Die negende fees is veral gekenmerk deur die ryk teenwoordigheid van groot name op die program: Michael le Cordeur, Gaireyah Fredericks, Hein Willemse, Willem Fransman jr., Elias P. Nel, Martelize Brink, Frazer Barry, Lynden Jafta, Crystal Orderson, Julian Jansen, Adrian Enthoven en Popina Khumanda. Karen Meiring, Johnny Davids, Charlyn Dyers en ander bekende gesigte was ook in die gehoor.
Die Adam Small-fees wys dat Afrikaans nie net oor nostalgie gaan nie. Dit gaan oor inklusiwiteit. Oor die bereidheid om nuwe stemme toe te laat. Oor die moed om vir jongmense te sê dat hul taal tel. Of jy Kaaps, Gariepafrikaans of Standaardafrikaans praat – almal het ’n stem.
“Kanna, hy kô huis toe”, want dis híér waar ons hoort. En solank daardie wortels daar is, sal die Adam Small-fees bly blom.