Adam Small-fees: Kô laat ons dans!

Maak jou reg vir ’n onvergeetlike feesnaweek van woorde en musiek! Maak jou litte los en skud jou vere reg vir vanjaar se Adam Small-fees, wat van 21 tot 23 Februarie in die prentjiemooi sendelingdorpie Pniël plaasvind.
Die fees word reeds vir die agste keer gehou en vier die lewe en nalatenskap van Adam Small, die briljante digter, dramaturg, politikus en akademikus. Vanjaar se feestema, Kô laat ons dans, het ’n musikale boodskap en vier ook Afrikaans se 100ste bestaansjaar as ’n amptelike taal.
“Dit beloof om ’n heerlike naweek in ’n warm, betowerende dorpie te wees,” sê Janine Myburgh, voorsitter van die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust (PEKT). Die Adam Small-fees is oorspronklik in 2017 – wat Small, wat die vorige jaar oorlede is, se tagtigste jaar sou wees – van stapel gestuur as ’n huldeblyk aan Small en was ’n geskenk van Darryl David aan die inwoners van Pniël, die Afrikaanse taal en die digter wat so baie vir sy mense beteken het. David, bekend vir sy inisiatiewe om boekefeeste in kleiner dorpies, soos die Boekbedonnerdfees in Richmond, te vestig, het die fees geskep met die droom om Adam Small se nalatenskap lewendig te hou.
“Die storie wat Darryl vertel, is dat hy na die Kaap onderweg was om ’n nuwe werk te aanvaar, maar toe word hy siek,” sê Myburgh.
“Hy wou in Pniël kom woon, sou hy die werk kry, maar KwaZulu-Natal het toe sy tuiste geword. Terwyl hy siek was, het hy begin dink aan ’n Adam Small-fees en dit was een van sy drome om dié fees te begin.
“Hy het besluit só ’n fees sou nie op Wellington werk nie, want dit kon net dalk in die literêre reus, Breyten Breytenbach, se skaduwee wees. Soos hy vroeër in ’n onderhoud aan LitNet te kenne gegee het, is die fees eintlik te danke aan Breytenbach, wat gevoel het dat Adam Small lankal die Hertzogprys vir sy literêre werk moes ontvang het. Die fees is toe op 1 Februarie 2017 op Pniël gebore, in samewerking met die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust (PEKT).
Dankie, Breyten
Een van die fees se groot ondersteuners deur die jare was niemand anders nie as Breyten Breytenbach. Sy steun aan Adam Small en sy skryfwerk het die fees van die begin af vlerke gegee. “Ons bring vanjaar spesiale hulde aan hom en sy nalatenskap,” sê Myburgh.
Die fees is oop vir almal en gratis, behalwe vir die hoogtepunt van Saterdagaand, die Kô laat ons dans-konsert met Fraser Barry, Brandon October en Selby William en orkes. Kaartjies hiervoor kos slegs R50.
Een van die belangrikste vertakkings van die fees is die Pniël-skryfskool, wat skrywers van die Boland en enigeen met ’n verbintenis met die dorpie help ontwikkel. Gedurende die Covid-19-pandemie is ’n spesiale digbundel genaamd Voetspore oor die gemeenskap, sy mense en sy slawegeskiedenis gepubliseer. Verskeie Afrikaanse organisasies, soos die ATKV, Het Jan Marais Nationale Fonds en die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), SASNEF en Afrikaans.com het gesorg dat die fees net groter en beter word.
Die ATKV het twee jaar gelede as hoofborg ingetree en ’n skryfskool vir laer- en hoërskoolleerders in samewerking met die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n afdeling van die ATKV, gevestig. Leerders van die P.C. Petersen Primêre Skool en die Kylemore Senior Sekondêre Skool kry die kans om hul werke tydens die skryfwerkswinkel by die fees voor te dra.
Wat wag op jou?
Die feesprogram is propvol boeiende gesprekke, inspirerende optredes en literêre hoogtepunte:
Vrydag:
Die fees open by die Pniël-museum se teetuin. Skrywers soos Ena Jansen (Max Havelaar), Theresa Papenfus (Sing, Mamma, Sing) en Mia Arderne (Yaadt music, a people’s expression) sal gesels oor hul werke. Diana Ferrus en die Mengelmoes-digters bring daarna hulde aan Breytenbach. Verder kan jy uitsien na:
- Die SBA se internasionale moedertaalviering en die bekendstelling van die musiekboek, Rielritme, sarsies op snare.
- Die ATKV se skole-skryfskoolwenners tree op saam met Anzil Kulsen.
- Chareldine van der Merwe se Xavier en Kendrick-boekereeks.
- Gesprekke oor jeugboeke en sport, insluitend Malika – The Girl Who Loves Sport deur Malikah Hamza.
Saterdag:
- 09:00: Afrikaans 100-eeufeesbekendstelling met Churchil Naudé en Riku Lätti.
- 10:00: Die SBA se Adam Small-gedenklesing deur prof. Michael Le Cordeur.
- Middag: ATKV- en VVA-Ommietafelgesprek waar Chareldine van der Merwe met ’n paneel gesels oor taal en musiek en hoekom Afrikaanse musiek so gewild is. Die paneel sluit in Frazer Barry, Sarah Theron en Quintin Goliath/Jitsvinger, en hulle gesels oor hoekom iemand ’n musiekloopbaan in Afrikaans sou volg.
- Aand: Kô ons dans-konsert met Fraser Barry, Brendan October en Selby Williams en die Crescendo-orkes.
Sondag:
- 9:00: Adam Small-feesdiens met ’n huldeblyk aan Breyten Breytenbach, gelei deur Dominique Botha en Darryl David daarna.
- Slotgesprek oor die tendens van gentrifikasie in klein dorpies soos Pniël, Kylemore en Jamestown, gelei deur prof. Ronnie Donaldson en Willemien Brümmer van Netwerk24.
Die fees is ’n unieke geleentheid om die rykdom van Afrikaans en die diep wortels van Adam Small se nalatenskap te vier. Die ATKV, PEKT en SBA nooi almal – gemeenskappe, skole, borge en kultuurliefhebbers – om saam te kom kuier op die ritme van woorde en musiek! Vir meer inligting, kontak Janine Myburgh by 072 245 1415.