Afrikaans 100 vier inklusiwiteit

Afrikaans klop vir meer as ’n eeu lank al warm in die harte van ’n diverse klomp Suid-Afrikaners. Ons sing, dig, skryf, skep, bid, en werk in ’n taal wat plek het vir jou, maak nie saak wie jy is of hoe jou Afrikaans klink nie. Byna soos ’n minibustaxi – altyd plek vir meer! Vannie Kaap? Klim in. Namakwaland? Welkom! Griekwa? Natuurlik. Die lys hou aan.
Volgens Afrikaans.com is daar ’n allemintige twaalf variëteite van ons taal. Om hierdie rede sorg die Afrikaans Amptelik 100-organisasie dat daar ordentlik partytjie gehou word ter viering van Afrikaans as amptelik 100 jaar oud. Hoewel Afrikaans baie ouer as 100 jaar is, het dit op 8 Mei 1925, naas Engels, een van ons land se amptelike tale geword.
Die ATKV ondersteun die vieringe luidkeels en is op verskeie maniere betrokke deur Taalgenoot, die ATKV se kwartaallikse glanstydskrif, ATKV-takke, -projekte, en -oorde. Oor die ATKV se betrokkenheid by die Afrikaans Amptelik 100-vieringe, sê Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, dat die ATKV dit belangrik ag om die gesprek oop en inklusief te maak.
“Die ATKV wil aanhou om platforms daar te stel waar ons nie net die geskiedenis van ons taal en kultuur krities in oënskou neem nie, maar waar daar ook vorentoe gekyk word sodat die wonde van die verlede as lesse dien en vir ons insig gee oor Afrikaanssprekendes se behoeftes en menings.”
Die ATKV se nasionale taal- en kultuurprojekte, takke en oorde bied verskeie inisiatiewe aan met ’n fokus op Afrikaans Amptelik 100. Wat sou meer gepas wees as om die eeufeesviering ook met ’n spesiale uitgawe van Taalgenoot te vier?
Vier dit met variëteit
Die Taalgenoot stel vanjaar ’n spesiale uitgawe vry, waarvan die doel is om Afrikaans in al haar baadjies te vier en om aan opkomende, ongepubliseerde skrywers die geleentheid te bied om hul werk in druk te sien.
Angie Gallagher, senior subredakteur by die ATKV, sê ongepubliseerde skrywers word genooi om hul bydraes – sowel digkuns as langer skryfstukke in alle variëteite van Afrikaans – vir keuring voor te lê.
“Op hierdie manier lewer Taalgenoot ’n betekenisvolle toevoeging tot die Afrikaanse letterkunde en stel nuwe Afrikaanse stemme aan lesers bekend, terwyl die spesiale uitgawe ook ’n wonderlike versamelstuk sal wees. Behalwe dat dit vir ongepubliseerde skrywers ’n geleentheid bied, sal meer gevestigde skrywers ook bydraes lewer,” sê Angie.
René Arendse, nasionale adjunkkoördineerder van Afrikaans Amptelik 100, sê een rede (vir die viering) is om te sê: “Kyk hoe ver het ons gekom.”
“Ons staan op ’n interessante plek, dit hang net af hoe jy daarna wil kyk. Afrikaans 100 wil, met die 100-jarige viering van Afrikaans as platform, terugkyk na Afrikaans se inklusiewe komvandaan in al haar vorme en fasette, maar terselfdertyd vorentoe kyk na die taal se potensiaal en geleenthede binne die breë Afrikaanssprekende gemeenskap en die plek wat die taal in die Suid-Afrika van vandag en môre inneem.
“Afrikaans Amptelik 100 se doel is om deur vieringe landwyd, en met die samewerking van elke individu, organisasie of instansie wat Afrikaans in hulle harte dra, ’n omvattende en inklusiewe blik te gee op Afrikaans se unieke, ingewikkelde verlede en ontwikkeling,” sê René.