Afrikaans by SPAR Kirkwood Wildsfees gevier

Die uiters gewilde SPAR Kirkwood Wildsfees word vanjaar van 27 tot 29 Junie aangebied en die ATKV-tak Kirkwood sal oudergewoonte weer ’n noemenswaardige teenwoordigheid by dié geleentheid hê.
Willie Rossouw, voorsitter van die ATKV-tak Kirkwood, sê hy is baie opgewonde oor vanjaar se fees. Hy verduidelik hoe die samewerking tussen hulle en die Wildsfees-organiseerders ontstaan het.
“Die ATKV-tak Kirkwood is aktief betrokke by die kulturele belewenis in die plaaslike gemeenskap en fondse word vir plaaslike taal- en kultuurprojekte in die omgewing aangewend.
“Die ondersteuning van plaaslike sakeondernemings en organisasies lê vir Jenni Honsbein, direkteur van die fees, baie na aan die hart. Die samewerking tussen ons het dus deur die jare as gevolg van ons gemeenskaplike doelwitte gegroei.”
Hy voeg by dat vanjaar se samewerking selfs meer besonders as vorige jare is.
“Afrikaans het op 8 Mei 2025 sy 100ste verjaarsdag as amptelike taal gevier. Die feeskomitee gee erkenning aan hierdie mylpaal en alle gesprekke rondom vanjaar se beplanning sluit die viering van die Afrikaanse taal in.”
Willie sê belangrike ATKV-bestuurslede woon vanjaar se fees by.
“Die openingsgeleentheid van die Wildsfees word jaarliks deur uitgesoekte rolspelers bygewoon,” sê Willie.
“Vanjaar gee die fees erkenning aan die viering van ons moedertaal se verjaarsdag as amptelike taal en word die seremonie tydens hierdie spoggeleentheid vir die eerste keer in Afrikaans aangebied.
“Die seremoniemeester vir hierdie geleentheid, Jaco Spies, is die ATKV-streeksbestuurder van die Oos- en Noord-Kaapstreek. Die fees gaan ook bygewoon word deur Johan Schoeman, maatskappysekretaris van die ATKV-groep, Elda Kruger, ATKV-bestuurder: takke, en Christie Swanepoel, ATKV-streeksbestuurder vir die Oos- en Suid-Kaapstreek. Dit skep die ideale geleentheid vir lede van die ATKV om skouers te skuur met diegene wat aan die hoof van ons vereniging se bestuur staan.”
Willie meld dat die fees vanjaar “meer Afrikaans” as vorige jare sal wees.
“Feesgangers gaan blootgestel word aan baniere wat Afrikaanse idiome uitbeeld wanneer hulle die dorp inry.
“Verder kan hulle ook regmaak vir Afrikaanse kunstenaars soos Juanita du Plessis, Droomsindroom, Spoegwolf, Jakkie Louw, Refentse, Kurt Darren en vele meer.
“Die Lekker Lang Lamtafel maak ook voorsiening vir eg Suid-Afrikaanse geregte soos lekker lamspotjie, lamkop of afval met ’n lekker sous.
“Taalgenoot – die amptelike kwartaallikse kultuurtydskrif van die ATKV en die tydskrif vir mense wat in Afrikaans leef, liefhet en werk – word ook tydens die fees gratis aan gaste by die openingsgeleentheid en die Lamtafel uitgedeel.”
Willie brei uit oor watter aktiwiteite en programme die ATKV-tak Kirkwood by die fees aanbied.
“Die ATKV bring die Prins Albert Vastrappers, wenners van die Grietjie van Gharies-toekenning tydens die 2018 ATKV-Rieldanskompetisie, na die wildsfees. Feesgangers kan by die ATKV-Kalmeerkraal kom kuier en skoffel saam met Kobus Gouws en sy orkes. By die Kalmeerkraal raak jy rustig, kry jy jou lidmaatskap en sit jy jou voete omhoog. ’n Afrikaanse leeshoekie deur LAPA-uitgewers dra ook by tot die bevordering en viering van Afrikaans.”
Willie verduidelik verder hoe die plaaslike gemeenskap by die ATKV se betrokkenheid by die Wildsfees baat.
“Ons het elke jaar by die fees die Lemoenstasie – ’n sitrusstalletjie waarby feesgangers plaaslike ‘gesondheid in ’n sak’ kan koop,” sê Willie.
“Suurlemoene, nartjies en lemoene is by ons sitrusstasie te koop en die fondse wat hierdeur ingesamel word, word aangewend vir projekte wat die tak deur die jaar aanpak. Die tak is natuurlik baie afhanklik van die skenkings van die plaaslike groeiers en pakhuise.
“Fondse word aangewend vir onder andere die Vallei Diere Vriende, die jaarlikse prysuitdelings by skole in die omgewing en kompetisies in die gemeenskap waar ons ’n bydrae tot die bevordering van kultuur en Afrikaans kan maak.”
Willie sê die feit dat ’n fees van hierdie omvang erkenning aan Afrikaans gee, is ’n belangrike mylpaal.