Afrikaans se vlam brand hoog

Toe Sakkie Kotze (72), voormalige voorsitter van die ATKV-tak Centurion, besluit het om 'n vlam vir Afrikaans te laat brand was dit om die erkenning van Afrikaans as amptelike taal op 8 Mei 1925 te herdenk. Die Vlam vir Afrikaansprojek het egter veel meer gedoen as bloot erkenning aan die ontstaan van die taal te gee. Mense het weer begin dink oor die taal, die taal onder mekaar begin vier en ook boodskappe oor Afrikaans die wêreld in gestuur. Die idee vir die projek het jare terug by Sakkie posgevat toe hy as jong Afrikaans onderwyser by Helpmekaar Kollege in Johannesburg begin skool gee het. Hy sê: "Die vlammetjie (om iets te doen) het heeltyd in my hart gebrand. Toe ek ook begin skool hou en die wonderlike talent by ons kinders is vir Afrikaans sien, en toe ek baie later inspekteur word en ek sien die entoesiasme by ons onderwysers om Afrikaans aan te bied, het ek begin dink aan 'n manier om dit te vier." Sakkie, ook oud-direksielid van die ATKV, vertel sy liefde vir Afrikaans het werklik begin blom toe hy begin skool gee het. In die laat sestigerjare het hy saam met wyle mnr. Louis Malan Afrikaans gegee, dieselfde mnr. Malan wat ook eens op 'n tyd vir hóm Afrikaans gegee het.
Die Vlam vir Afrikaansprojek het uiteindelik op 25 Mei 2016 die lig gesien toe Afrikaans se eie ikoon en diva, Mimi Coertse, die vlam in die senotaafsaal van die Voortrekkermonument aangesteek het. Dít is waar die vlam sedertdien brand en deur talle besoekers aanskou is. Teen die vlamstaander pryk gedenkplate om drie waardevolle gebeurtenisse in Afrikaans te gedenk. Die eerste plaat herdenk die eerste Bybel in Afrikaans in 1933. Die plaat is deur die Bybelgenootskap onthul. Nog 'n plaat gedenk die eerste Afrikaanse radio-uitsending in 1937 en is deur Magdaleen Krüger, afgetrede stasiebestuurder by RSG, onthul. Daar is 'n gedenkplaat vir Afrikaans as televisietaal (sedert 1976), onthul deur Heinrich Marnitz wat die eerste Afrikaanse uitsending hanteer het. Om die eerste Afrikaanse kunslied te herdenk is 'n gedenkplaat deur die sanger Coert Grobbelaar onthul.
Die projek is ook ’n middel om erkenning te gee aan die toppresteerders in Afrikaans in die Tshwane-gebied. Dit sluit eerste-, tweede- én derdetaal Afrikaanssprekers uit alle kulture in. In die boodskapboek op die lampstaander neffens die fakkel, is al oor die duisend groeteboodskappe aan Afrikaans deur sulke toppresteerders gelos. Een só ’n spesiale boodskape lui, Afrikaans is my geboortetaal, my lyftaal, my vingertaal, my vloektaal, my dinktaal, my droomtaal, my bidtaal, my singtaal
Volgens Sakkie het die projek ook ’n positiewe impak op toerisme en besoekersgetalle aan die Voortrekkermonument gehad. Dit het egter tyd geword om die Vlam vir Afrikaans wyer te deel, en sal dit vanaf 5 November ’n tuiste vind by die ATKV se hoofkantoor in Randburg. Sakkie sê, "Ek voel die vlam moet ook nou tuis kom." Mag die vlam vir ons moedertaal, huistaal, droomtaal, huiltaal en lagtaal nog lank en hoog brand.