Afrikaanse Olimpiade verbreed taalhorisonne
Die ATKV se Afrikaanse Olimpiade is elke jaar ’n uithaler-uitdaging vir taalfoendies om hul slag op ’n verskeidenheid fronte ‒ van prosa en poësie tot opstelle en advertensie-ontledings ‒ te wys.
Vanjaar was geen uitsondering nie. En buiten hul taalvaardigheid, deel 2024 se wenners ’n diep insig in en waardering vir die wye spektrum voordele wat uit hul liefde vir Afrikaans spruit.
Lelize van der Walt, Clara Serfontein, Erik Senekal en Viljee Smit is nie net uitblinkers in die taal self nie; hulle is bewus van die talle maniere waarop dit die grondslag van hul lewens- en loopbaanrigtings bevorder.
Soos Lelize dit stel: “Die kruisbestuiwing van taal met ander vakke is so belangrik: Dit leer ’n mens hoe om te skryf, dit leer jou logika, dissipline en probleemoplossing.”
Vier wakker wenners op ’n ry …
Lelize van der Walt
Lelize vertel haar liefde vir Afrikaans spruit onder meer uit die feit dat sy lees vandat sy ’n klein tjokkertjie was. Tog, terwyl haar moedertaal haar baie na aan die hart lê, is biologie en wetenskap haar gunstelingvakke: “Dis fassinerend wat op ’n dieper vlak in die wêreld gebeur,” verduidelik sy.
Om hierdie dieper vlakke te verken, sou egter nie moontlik wees sonder haar diepgaande taalkennis nie. “My wetenskaponderwyser sê Afrikaans is die moeilikste vak; taal is nodig om ander vakke te bemeester,” verduidelik sy.
Clara Serfontein
Clara beplan ’n lewensreis wat begin by taal, met draaie deur musiek en wetenskap. Haar gunstelingvakke is wetenskap en musiek, en haar droom is om medies te studeer, in ’n vakgebied soos kardiologie te spesialiseer, en dan vroeg af te tree en boeke te skryf waar haar liefde vir taal en poësie haar ongetwyfeld weer ʼn voorsprong sal gee.
Erik Senekal
Erik is ’n deurwinterde Olimpiade-uithaler wat reeds van Graad 3 af meeding. Sy gunstelingvakke is wiskunde en wetenskap, met sy taalvaardigheid wat ’n groot bydrae tot sy begrip lewer en ook sy vernuf as debatteerder ’n hupstoot gee. Nadat hy matriek, nog ’n Olimpiade of twee en paar debatskompetisies voltooi het, wil hy ’n ingenieur word.
Viljee Smit
Menlopark-hoofseun, Viljee Smit, se liefde vir sy taal straal nie net uit elke woord wat hy oor die onderwerp uiter nie; dit verwoord op ’n sonderlinge manier die passie en toewyding van elke deelnemer en wenner.
“Die Olimpiade en die Afrikaanse taal is vir my belangrik, want ’n mens het altyd ’n sagte plek vir jou moedertaal,” verduidelik hy. “Ek glo ook dit is belangrik om in jou moedertaal te groei en dit so suiwer as moontlik te hou. Ons behoort die prag van Afrikaans te waardeer en te bewaar.”
Wat die Olimpiade self betref, was sy gunsteling-afdeling poësie. Hy het ook die diverse manier waarop vrae gestel is, geniet. “Daar was behoorlik iets van alles en dit het die geleentheid geskep om jouself te verryk,” vertel hy. “Die begripsvrae was vir my die interessantste weens die aard van die leesstukke. Dit het gehandel oor hedendaagse onderwerpe wat op ons van toepassing is.” As ’n geheel, sê Viljee, het die Olimpiade hom laat besef hoe min hy van ons geliefde taal weet en hoe ryk Afrikaans eintlik is.
Afrikaans vorm ook die grondslag van sy liefde vir sy gunstelingvakke, lewens-en fisiese wetenskappe. “Ek is passievol oor God se skepping en die detail waarmee Hy alles geskape het. Hierdie vakke stimuleer daardie passie,” verduidelik hy. Hierdie siening is ook ’n daadwerklike deel van sy droom om medies te studeer en as dokter klinieke in arm gemeenskappe te stig sodat hy mense op fisiese en geestelike vlak kan bedien.
Vir aspirant-Olimpiade-deelnemers het Viljee ’n bemoedigende boodskap: “Jy sal jouself ’n groot guns bewys deur deel te neem. Moet dit nie sien as nog ʼn toets nie, sien dit as ’n geleentheid om die prag van Afrikaans te ontdek en daarin te groei.”
En vir die ATKV het hy oneindige waardering: “Ek wil graag die ATKV vir hulle ongelooflike werk en insette bedank. Dit is so ’n groot voorreg om te sien hoe julle ons taal bevorder en in die jeug se lewens terugploeg!” sê hy.