Skip to main content

Albert Engel-beurs: ATKV belê in belowende musikante

Vir die afgelope 14 jaar het die ATKV jong opkomende musikante se drome bewaarheid met die borg van die Albert Engel-beurs.

Dié beurs word aan belowende studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) se musiekdepartement toegeken.

Die meeste van die studente kom uit voorheen benadeelde agtergronde en sou sonder die beurs nie hulle studies kon voortsit nie.

“Opleiding is nog altyd ’n groot fokus van die ATKV. Die beste manier om by klassiekemusiekopleiding betrokke te raak is om ’n goed beplande program met akademiese resultate te ondersteun,” sê Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur by die ATKV.

Dié beurs stel ’n kandidaat wat sukkel met toelating in staat om hom/haar vir BMus aan die Konservatorium van die Universiteit Stellenbosch se musiekdepartement te registreer en te studeer.

Die beurs word spesifiek toegeken aan die student met die meeste entoesiasme, wat uitstyg ongeag moeilike omstandighede en die beste van elke geleentheid maak.

Die beurs is genoem na die ontslape koperblaasdosent, Albert Engel, wat die eerste dosent van kleur in die departement was en die dirigent van die Universiteit Stellenbosch Simfonieblaasorkes.

Volgens Felecia Lesch, dosent van gemeenskapsmusiek aan die Universiteit Stellenbosch, is die borgskap van die ATKV die hoogtepunt van ons prysuitdeling, dis die topprys. Die beurs help studente om hulle drome te bewaarheid,” sê sy.

Volgens haar is daar talle suksesstories danksy die toekenning van die beurs aan belowende en talentvolle studente.

Roshan Chakane van Kimberley was die eerste student wat die Albert Engel-beurs ontvang het. Hy het sy BMus by US voltooi en is tans in Amerika waar hy sy meestersgraad voltooi.

Lunathi Ncamani van Mdantsane in die Oos-Kaap was die tweede ontvanger van die beurs. Hy het die diploma in praktiese musiek, asook sy BMus by US voltooi, en is tans besig met sy meestersgraad. Hy is hierdie jaar aangestel as ’n deeltydse dosent in koordirigering aan dié universiteit.

Volgens Gerrie strook die beurs met die doelwitte van die ATKV.

“Die ATKV belê elke dag deur middel van sy kultuurprojekte, opleidingsprogramme en beurse in mense se toekoms. Daar is baie jongmense wat net ’n hupstoot of geleentheid nodig het om uiteindelik uit te blink en ’n suksesvolle loopbaan in die kunste te bou.

“Op die manier verseker die ATKV dat gemeenskappe se behoeftes en belangrike kultuuraangeleenthede aangespreek word.”