Albert Maritz met ATKV-oorkonde vereer
Die ATKV-tak Peaat het onlangs ’n ATKV-oorkonde-toekenning aan die talentvolle akteur, Albert Maritz (63) oorhandig. ’n Oorkonde is die hoogste nasionale ATKV-prys vir ’n persoon of instansie wat ’n noemenswaardige verskil maak op ’n sekere gebied en in lyn is met die ATKV se visie om Afrikaans te bevorder. Die akteur-skrywer-regisseur word vereer vir sy bydrae tot die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf oor 51 jaar, wat onder andere teater en televisie, plaaslik en internasionaal, insluit.
Maritz het van 9 tot 14 Oktober saam met die ATKV-tak Peaat die toneelstuk Die buite-egtelike oupa in Gqeberha opgevoer.
Dié teks, geskryf deur Nico Luwes, gaan oor ’n oupa, ’n prettige kêrel wat eintlik die kinders op ’n trajek van romantiese geluk laat beland.
Emercia de Lange is die voorsitter van die ATKV-tak Peaat en was die regisseur van dié produksie.
Peaat staan vir die Port Elizabethse Afrikaanse Amateurtoneelvereniging. Dié vereniging is in 1951 gestig, maar het in 2005 hande gevat met die ATKV om Afrikaanse toneelkuns in Port Elizabeth te bevorder.
Die maatskappysekretaris van die ATKV, Johan Schoeman, het die oorkonde-oorhandiging gedoen.
“Ek het hierdie stuk gekies omdat ek jare gelede self in die stuk gespeel het, maar toe was ek die buite-egtelike ouma – dit kan die een of die ander wees,” sê De Lange.
Volgens haar is die ATKV-tak Peaat baie dankbaar dat ’n man van Maritz se kaliber ingestem het om saam met die groep amateurkunstenaars te kom optree.
Die ATKV-tak Peaat het verlede jaar saam met Tobie Cronjé gewerk, wat Maritz dalk oortuig het om hierdie jaar deel van die toneelgeselskap te wees. Albert moes glo sy woorde in Kaapstad leer en het letterlik drie dae gehad om in te skakel by die ATKV-tak Peaat se optrede.
“Dis ’n risiko,” sê Emercia. “Hy weet nie noodwendig hoe talentvol en professioneel die spelers en die organisasie is nie.
“Dit beteken regtig vir ons so baie. Sy gesig, sy naam, trek mense. Mense wat nie noodwendig teater ken nie, is dan opgewonde om hom in produksies te sien. Só groei ons gehoorgetalle vir volgende jaar.
“Dis baie nodig vir Gqeberha, waar daar geen Afrikaanse teater is nie. Die ATKV-tak Peaat is die enigste organisasie wat Afrikaanse teater aanbied,” sê De Lange.
Volgens haar doen die ATKV-tak Peaat elke jaar een groot produksie, wat ’n komedie is.
“Ons lees baie tekste en moet gewoonlik ’n fyn aanvoeling hê van of mense daarvan sal hou en of die stel gebou kan word. Ons moet die regte hoeveelheid karakters ook betrek.
“Jy moet onthou, ons oefen twee keer ’n week, ’n dag in die week en op Saterdae. Dis moeilik om ’n klomp dagboeke te koördineer,” sê sy.
Vir Maritz voel die ATKV soos ’n familie en laat die oorkonde hom voel of die kring nou voltooi is.
“Ek was die eerste keer op ’n verhoog saam met my pa, Dawie Maritz, in ’n amateurproduksie vir die Bellville-amateurtoneelvereniging (BAT),” sê hy.
“Dit was deel van die destydse senior ATKV-toneelkompetisie. Die opvoering was in die Bellville-burgersentrum en die naam was Die Erfenis.
“Sedertdien het ek baie met die ATKV te doen gehad.”
Volgens Albert onthou hy hoe die passievolle Emercia de Lange hom al ’n paar dekades gelede hulle teatertjie gaan wys het. “Haar hartstog het nie getaan nie. Sy verrig wondere met ’n sterk span aan haar sy. ’n Mens moet eintlik befondsing vir haar beskikbaar maak om die operahuis en die Little Theatre die hele jaar lank met produksies te kan vul. Totdat dit gebeur, is die ATKV-tak Peaat die surrogaatma van Gqeberha se teaterkuns,” sê die veelsydige Maritz, wat “glo dat dat dit die plig is van die individu om eerstewêreldse aspirasies van teatermaak te ondersteun.”
“Dis die oeroue kuns van storievertel en die pas afgelope amateurproduksie het pas bewys hoeveel plesier gehore uit hierdie kunsvorm put,” vertel Maritz.
Meer oor Maritz:
Wat doen jy in jou vrye tyd?
“Vanoggend het ek 30 minute met my ou afgetrede hond gestap, toe so 42 lengtes by die gimnasium geswem, toe was ek by ’n produksievergadering, en daarna moes ek my tyd mooi indeel tussen administrasie, lees, krieket, swem in die see en ’n fietsrysessie van nog so amper 40 minute.”
Wie inspireer jou en beskou jy as die mees talentvolle akteur, skrywer en regisseur?
“Sandra Prinsloo is vir my ’n lewende legende. Ek was mal oor mense soos oom Fanie Bekker (Rob Louw se skoonpa), die radiolegende, omroeper Pierre Marais, nog ’n omroeper, Cobus Robinson, Nerina Ferreira, en die talle ander gewone mense wat my geïnspireer het as ’n pikkie.”
Wat maak jy in Desember?
“Ek sal moet help om Onrus se strand vol te maak sodat ons ’n bietjie strandtennis kan speel en met die kleinkinders in die water kan plas.” – Marzahn Botha