Alna Belendez-Retief: Een saadjie op ’n slag
Alna Belendez-Retief se naam kon maklik in die woordeboek langs “inspirerend” gestaan het, want dié sakevrou en tuinghoeroe van Burgersdorp borrel oor van entoesiasme en planne vir haar gemeenskap. Alna is ’n bekende naam in ATKV-kringe, en loop al ’n paar jaar ’n pad saam met dié organisasie om te saai, oes en gemeenskappe op te hef.
Dit het alles ’n paar jaar gelede begin toe ’n ATKV-personeellid by haar gastehuis oorgeslaap het. Hulle het ’n gemeenskaplike doel ontdek om ’n verskil in gemeenskappe te maak. Só het Alna, die
ATKV en Seed2Harvest ’n projek begin om mense te leer hoe om groentetuine aan te plant.
Haar liefde vir tuinmaak en die natuur is iets wat van kleins af daar was, gesels Alna. Haar ouma het haar geleer hoe om ’n vetplanttuin te begin.
“’n Liefde vir plante word by ’n mens gekweek. My ouma was so dinamies dat sy met min water op die plaas snyblomme gekweek en dit met ’n trein Bloemfontein toe gestuur het. Latere jare het ek en my ma ook dikwels gaan stap en sy het vir my plante uitgewys en hul name vir my geleer.”
Alna het ná skool gesukkel om haar plek te vind, maar al haar wedervaringe het die bloudruk vir haar suksesverhaal geword.
“Ek was in argeologie en in homeopatie geïnteresseerd, maar het toe agt maande lank onderwys gaan swot en besef dit is nie vir my nie.”
Sy het toe besluit om oorsee te gaan werk en is na Israel om op ’n kibboets te gaan werk.
“Daardie ervaring het my lewe verander.”
In daardie tyd het Alna met avokadopere gewerk, in ’n kaasfabriek, in ’n kosjer-restaurant waar sy via prentjies moes kommunikeer, en selfs op ’n boot op die Rooisee. Daarna is sy Engeland toe waar sy as ’n versorger vir bejaardes gewerk het.
“My pa het later vir my gesê om iets te gaan studeer. Ek het op bemarking besluit en uitstekend daarin gevaar.”
Met haar terugkeer na Suid-Afrika het sy ’n pos in Bloemfontein losgeslaan wat tot ’n baie suksesvolle 15 jaar lange loopbaan in die korporatiewe wêreld gelei het.
Vervelig was Alna se lewe gewis nie, want sy het in 2010 haar eksman, ’n Spanjaard, tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi ontmoet. Hulle het getrou, twee dogtertjies gehad en het vir ’n ruk in Rio de Janeiro en ook Saoedi-Arabië gebly.
Alna het later terug Suid-Afrika toe gekom en het ’n erf in Knysna gekry om te bou.
“Ek het my familie op Burgersdorp besoek en my broer het my een oggend ’n huis gaan wys. Ek was nie baie geneë nie, want ek het ’n plek gehad waar ek wou bou. Ek het na die huis gekyk en net geweet dis myne. Ek het nooit gedink ek sou terugkom Burgersdorp toe nie, maar ek het.”
Die huis is meer as 100 jaar oud en was op ’n tyd ’n Nederlandse skool en selfs ’n seunskoshuis. Alna het op ’n gastehuis besluit, en het gedink aan die naam Rhoom, wat vir recycle, homemade, organic, original, en manual staan.
Dit is ook die gastehuis wat gelei het tot die groenteprojek waar Alna se pad met die ATKV begin het. Saam was hulle betrokke by die Ukwethu Farming-projek en daarna het Alna deur die ATKV opleiding by Farming God’s Way in Gqeberha ondergaan.
“Farming God’s Way het my lewe verander en ek het ’n onmiddellike band met hulle gevorm. Hulle het my ook gehelp om ’n groentetuin vir ’n sentrum vir jeugmisdadigers op die dorp te begin. Ons het saam die 33 seuns geleer hoe om groente te kweek en ons het met 12 beddings begin.”
Die groentetuine is haar manier om die seëninge in haar lewe in ander mense se lewens terug te saai. Sy is ook betrokke by ’n groentetuin vir die Mzimkhulu Primary School en die hoërskool op die dorp het haar gekontak om ’n groentetuin daar te begin.
Alna het ook haar eie knoffelboerdery wat uit sy nate bars, en sy beoog om volgende jaar vroue uit die gemeenskap te kry om saam met haar knoffel te kweek.
“Ek is betrokke by ’n nuwe ontwikkelingsgroep wat Burgersdorp wil laat herlewe en is baie opgewonde daaroor. Verder wil ek van volgende jaar af werkers oplei om groente te kweek. Ek wil graag hê dat boere hul mense vir opleiding moet stuur.”
Alna wil met Burgersdorp ’n voorbeeld maak van wat kan gebeur as ’n gemeenskap hande vat.
“Ek wil graag iets hier los wat nog jare kan uitkring en ’n impak maak.”
Wil jy ’n groentetuinprojek begin? Stuur gerus ’n e-pos aan Alna by alnabelendez@gmail.com.