Amore en haar engele kuier by ATKV-tak Wellington
Die ATKV-gesinstak in Wellington het die gewilde en bekroonde voormalige RSG-aanbieder, Amore Bekker, uitgenooi om ’n praatjie te lewer oor haar nuwe boek, Ek het ’n Engel gesien.
Die boekbekendstelling is in die Breytenbach-sentrum in Wellington aangebied.
Ek het ’n Engel gesien is stories wat Amore ontvang het nadat sy destyds haar RSG-luisteraars gevra het om hul ontmoetings met engele te deel.
Volgens Tharina Schweidler, voorsitter van die ATKV-gesinstak in Wellington, het die idee om Amore vir ’n praatjie oor haar boek te nooi, ontstaan vanweë die tak se missie om elke jaar ’n bydrae in die Breytenbach-sentrum se Tuin van Digters-program te lewer.
“Taal is die hoofbeen van die ATKV, dus doen ons elke jaar iets om by die Tuin van Digters, ’n woordfees wat ook aan die Afrikaanse taal erkenning gee, in te skakel,” sê Tharina.
“Amore se boek was in die proses om uitgegee te word en daar is redelik baie daaroor in die media berig. Die tema van die boek is wat ons oog gevang het en dit is hoekom Sandra Hugo, ’n bestuurslid van ons tak, vir Amore genader en die boekbekendstelling georganiseer het.”
Tharina sê die ATKV-gesinstak Wellington en Amore deel ’n lang geskiedenis en geniet ’n goeie verhouding.
“Sy het deur die jare op verskeie van ons feeste opgetree en ook as seremoniemeester by van ons funksies gedien. Ons verhouding met haar spruit uit haar liefde vir die taal,” sê Tharina.
Tharina meen Amore se skryfstyl is nommerpas vir doodgewone mense wat Afrikaans eenvoudig wil geniet.
“Haar aanslag in dié boek, asook in haar vorige boeke, is eenvoudig en maak dit maklik om te lees. Taal klink soms soos dié van professors en doktors, maar Amore gebruik gewone Afrikaans en gewone mense wat ’n storie het om te vertel,” sê Tharina.
“Haar tema met Ek het ’n Engel gesien stem ook ooreen met die ATKV se etos om ’n spoor van hoop agter te laat, om in al ons projekte die individue en gemeenskappe waarna ons uitreik in ’n beter posisie te laat as waarin ons hulle gevind het.
“Ons wil graag Afrikaans as medium gebruik om lig en lekker te wees, nie net ’n taalstryd op Stellenbosch nie, nie net die bekommernisse oor of Afrikaans uit skole en universiteite gegooi gaan word nie. Dit is ook waaroor die Tuin van Digters gaan – mense op grondvlak wat in die Afrikaanse taal ’n verskil maak.”
Tharina sê 100 mense het die funksie bygewoon, wat ’n lekker groot getal vir ’n boekbekendstelling is.
“Die lokaal het net 100 mense toegelaat, anders sou ons maklik 300 gewees het!” sê sy.
“Ek dink die pitkos wat diegene wat die boek gelees het, ontvang, is dat elke persoon van geboorte af ’n beskermengel het. Ek glo en vertrou hoe nader jy aan die Here leef, hoe meer ervaar jy daardie beskermengel.
“Die boek het ook ’n sterk gelowige aanslag en ons as ATKV-gesinstak vind daarby aanklank. Ek glo dit is juis een van die redes hoekom ons een van Amore se volgelinge is. Sy spreek altyd hoop en sy kan altyd die blink kant sien.
“Iemand het my juis gevra of ek dink dat lede van die ATKV ook op ’n manier engele is. Ons tak se mense is almal gemenskapsmense en ons harte en hekke is altyd oop om te help. Ek het byvoorbeeld gedurende die Covid-19-pandemie gesien hoe gemeenskappe deur organisasies soos die ATKV gedra word.
“Ons is ’n sterk tak, ons leef reg, bou brûe en plant hoop, en die feit dat ons positief leef, maak golwe in die gemeenskap.”
Tharina sê die tak soek reeds vir sy volgende taalprojek wat die regte aanklank sal vind en aanstaande jaar weer hand aan hand saam met die Tuin van Digters-fees kan loop.
“Ons hou maar die media dop en woon kunstefeeste by om dit wat relevant is, te identifiseer,” sê sy.
“Jou funksies en byeenkomste moet in ’n klein dorp soos Wellington van uitstekende gehalte wees, anders gaan jy voete verloor. Dus is ons baie sorgvuldig met wat ons kies om aan te bied.
“Wat projekte in die nabye toekoms betref, beplan ons om leierskapsopleiding op 3 November vir die leierskaprade van al die landelike laerskole in die omgewing aan te bied. Ek maak vanjaar van die dienste van die opvoedkundige sielkundige, Quinton Adams, as hoofspreker gebruik. Ek nooi ook ander gassprekers om ’n bydrae te kom lewer, terwyl ek self leiding met sommige van die onderwerpe neem.
“Dit is ’n dag wat ons inploeg in ons graad 7’s wat volgende jaar hoërskool toe moet gaan. Dit is ’n groot stap vir leerders van die landelike laerskole wanneer hulle na die hoërskole op die dorp oorskakel, dus is ons doelwit met die leierskapsopleiding om daardie kinders met ’n bietjie meer selfvertroue toe te rus wanneer hulle die skuif maak.”