Andante Plus50-musiekkompetisie: Finaliste bekend!

As ’n mens aan ’n talentkompetisie dink, dink jy gewoonlik aan jongmense met sterre in hul oë oor ’n loopbaan op die verhoog, maar die Andante Plus50-musiekkompetisie is effens anders.
Daar is geen jongmense nie, maar wel volwassenes bo 50 wat graag hul musiektalent ten toon wil stel en vir die wêreld wil wys dat talent geen ouderdomsbeperking het nie. Die oudste finaliste in dié kompetisie is 80 jaar oud!
Cor Uys, die organiseerder van die kompetisie, is self al amper 40 jaar lank voltyds in die sangbediening. Cor, ’n liedjieskrywer en vervaardiger van verskeie musiekproduksies, radio- en TV-programme, het Suid-Afrika al platgetoer en was ook betrokke by die reël van gospelfeeste en nasionale gospelmusiekkompetisies.
“Baie mense dink dalk ons ouer mense is al oor die muur, maar ons godgegewe talente is beslis nie! Daarom is ons eerste musiekkompetisie vir 50-jariges en ouer gebore. So baie mense het ’n gevoel van ‘ek kan nog’ of ‘ek het dit nog’ en hierdie kompetisie wil hulle en hul musiektalent erken,” vertel hy.
Waar hulle aanvanklik tussen 50 en 60 inskrywings verwag het, het hulle nagenoeg 200 inskrywings ontvang waarvan 76 nuwe komposisies was. Hulle beoog om hierdie kompetisie jaarliks aan te bied en verder uit te brei.
Hier is die finaliste van die Andante Plus50-musiekkompetisie in die verskeie kategorieë:
Kategorie: Sang
- Duet: Lientjie Sothmann (56) en Izak de Villiers(56) van Pretoria. Lientjie bedryf haar eie sangskool en Izak is in die IT-bedryf.
- Johan Erasmus (56), ’n skoolhoof van Vereeniging.
- Steve Buys (73), ’n afgetrede weermagoffisier-instrukteur en voormalige brandweerman van Krugersdorp.
- Elsabe Erasmus (80), ’n afgetrede musiekonderwyseres van Pretoria.
- DU-DA bestaan uitWynand du Plessis (70) van Worcester en Dawie Fourie (70) van Kroonstad. Albei is afgetrede musikante wat in Kroonstad se gevangenisdiensorkes was.
Kategorie: Nuwe komposisie
- Hendro Bekker (52), ’n entrepreneur van Benoni.
- Cecilia Tolken (50), ’n boervrou van Kleinmond.
- Duet: Lientjie Sothmann (56) en Izak de Villiers (56) van Pretoria.
Kategorie: Instrumentaal
- Louwena Brand (80), ’n orrelis van Riebeek-Kasteel.
- Witte Beetge(68), ’n vrugte- en wildsboer van Levubu.
- Margreet du Plessis (60) van Pretoria enWillemien Schoombee (62) van Kimberley, twee susters wat albei praktykbestuurders is.
- Die Boereworsbroers-orkes wat uit vyf Pretorianers bestaan wie se ouderdomme wissel van 60 tot 72. Die lede is Louwrens Smit (entrepreneur), Pieter Anderson (afgetrede elektrisiën), Marius van Wyk (afgetrede staal- en konstruksievoorman), Willie Jooste (motorhandelaar) en Sakkie Pretorius(entrepreneur).
Die algehele wenners word op 4 November 2025 tydens die PLUS 50-kuierweek by die gala-aand by ATKV-Buffelspoort aangewys.
Daar is verskeie pryse op die spel, onder andere ’n professionele klank- en video-opname, radio-onderhoude, lugtyd op radiostasies, ’n onderhoud op die TV-program Met ’n huppel in die stap en ’n midweekvakansie by ATKV-Buffelspoort.
Die beoordelaars is bekende name in die Afrikaanse musiekbedryf, soos Jannie du Toit, Ronéll Erasmus, Franna Benadé en Rudi Muller. Francois Botha (Groot FM, sangbeoordelaar, liedjieskrywer, musiekverwerker) is die hoofbeoordelaar in die sangkategorie en Steyn Fourie (musiekkunstenaar en -verwerker, orkesleier, liedjieskrywer) is die hoofbeoordelaar in die instrumentale kategorie.
Deon Meiring (liedjieskrywer, kunstenaar, ATKV-Crescendo-faam) is die hoofbeoordelaar in die nuwe komposisiekategorie. Sandra Jacobs (mede-organiseerder van die Innibos-fees en sangbeoordelaar) en Letitia Uys (liedjieskrywer en musiekkunstenaar) is ook deel van die beoordelingspan.
Kontak gerus vir Cor Uys telefonies by 082 788 2736 of per e-pos by andanteplus50@gmail.com vir onderhoude en meer inligting.