Annie se leesgroepie ’n fees in Atlantis
Om te lees, is om ’n nuwe wêreld te ontdek – dié sentiment is een wat die kinders wat aan Annie se leesgroepie in Atlantis behoort, sekerlik deur en deur deel.
Die leesgroepie is deur Annie Petersen, die voorsitter van die ATKV-tak Atlantis, gestig om kinders met ’n leeragterstand te help. Die leergierige kinders kry dan soggens en smiddae ná skool sommer ook ’n broodjie by Annie se huis.
Volgens Annie kom die leesgroepie so een keer ’n week vir ’n uur en ’n half bymekaar.
“Daar is 15 kinders tussen die ouderdomme van 6 en 15 jaar oud. As hulle hard gewerk het, kry hulle sommer ’n broodjie of versnaperinge ná die aktiwiteite,” sê Annie. Die aktiwiteite sluit enigiets in van lees en kreatiewe skryfwerk, verf en kleiwerk tot voorlees en hulp met huiswerk.
“Ek leen ook boekies soos Die Krimpvarkie vir die kinders uit, dan moet hulle kom vertel wat hulle gelees het. As alles baie goed gegaan het, maak ons tyd vir sing en danspassies, en verjaarsdae word gevier,” sê Annie.
Annie vertel hoe hierdie leesprojek al gehelp het om die kinders se selfvertroue te bou en om hulle akademiese vermoëns te bevorder. Dié barmhartige Samaritaan hou die groepies klein sodat sy noukeurige aandag aan individuele kinders kan gee.
Sy fokus ook op spesiale temas en kalendermaande, soos byvoorbeeld Internasionale Moedertaaldag, waar baie klem gelê word op die liefde vir jou eie taal, in hierdie geval Afrikaans.
As al die harde werk verby is, bly die kinders kreatief met projekte soos die versameling van afvalmateriaal, waarmee vaardighede soos mandjievleg geleer word.
Om betrokke te raak by die ATKV-tak Atlantis, kontak Annie Petersen by 073 397 9717 of stuur ’n e-pos na apreachout7@gmail.com. Besoek https://atkv.org.za/ons-storie/takke/ om jou naaste ATKV-tak of ATKV-jeugtak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.