Anti-sosiale media
Die meeste mense is dalk bewus van internetslenters, kuberboeliery en identiteitsdiefstal, maar daar is ’n nog donkerder sy van die internet en sosiale media. Dis wat na vore kom in die doku-drama The Social Dilemma op Netflix. Dié dokumentêre prent handel oor dit wat agter die skerms by sosialemedia-reuse soos Google gebeur.
Onderhoude word gevoer met van die grootste rolspelers wat voorheen by sulke maatskappye gewerk het. Skokkende onthullings word gemaak, soos oor die manier waarop dié maatskappye op mense spioeneer om persoonlike inligting te bekom. Elke klik, elke “like” en ook die hoeveelheid tyd wat elke persoon op onder meer Google en sosiale media deurbring, word gemonitor. Meer nog, die maatskappye fokus daarop om mense se aandag te kry én te behou.
Boonop word dié soort inligting aan adverteerders verkoop in ’n stelsel wat mense reduseer tot ’n kommoditeit. Bepaald ’n etiese dilemma, om nie eens van privaatheidskending te praat nie.
Massa-manipulering
Prof. Basie von Solms van die Sentrum vir Kuberveiligheid aan die Universiteit van Johannesburg sê sosiale media is nie nét sleg nie. Verlore familielede word opgespoor, orgaanskenkers word gevind en geld word vir filantropiese projekte ingesamel.
Die slegte dinge sluit ook fopnuus, kubermisdaad en “-oorloë” en politieke veldtogte in.
Die sakemodel waarop kubermaatskappye geskoei is, noem prof. Soshana Zuboff, sosiale sielkundige en skrywer, surveillance capitalism en dit is daarop gemik om mense se denke te “beheer” en gebruikers afhanklik te hou van tegnologie.
Growth hacking – ’n bemarkingsterm vir die meeste groei moontlik met die laagste begroting – word gebruik om gebruikersgetalle ’n hupstoot te gee.
Basie sê persoonlike inligting word misbruik om die wêreld te beïnvloed en mense van sekere dinge te oortuig. “Idees en kennisgewings wat hoogs individueel is, word doelbewus op mense se profiele gepos.”
Kenners soos Tristan Harris, ’n voormalige Google-werknemer wat sedertdien die Centre for Humane Technology gestig het en ’n kampvegter vir die etiese gebruik van tegnologie is, meen dit kan die samelewing polariseer en in uiterste gevalle tot botsings, anargie en selfs politieke onstabiliteit lei. Basie voeg by dit kan selfs ’n bedreiging vir die konsep van demokrasie inhou.
Daarby waarsku kenners dat die mens weens moderne tegnologie op ’n eksistensiële krisis afstuur. Dr. Jonathan Haidt, Amerikaanse sosiale sielkundige, vertel die neiging tot depressie, angs en selfmoord onder tieners het skerp toegeneem.
Volgens Tristan is dit byna of die mensdom onder die invloed van ’n soort toorspreuk verval het. Veral tieners sukkel om weg te kom van hul slimfoon en sommige kenners vergelyk sosiale media met ’n dwelmmiddel. Die Amerikaanse psigiater en kenner oor verslawing dr. Anna Lembke verduidelik sosiale media het selfs ’n uitwerking op die breinstam en dit beïnvloed die brein se dopamienvlak (wat ’n rol speel in hoe ’n mens plesier voel, dink en planne beraam).
Basie sê die terugvoering wat hy ontvang, bevestig dat mense se persoonlikheid en sosiale verbintenisse deur tegnologie beïnvloed word. “Mense skep ’n elektroniese identiteit en hulle is totaal verslaaf aan tegnologie.” Die ware uitwerking sal eers oor 50 jaar of meer duidelik wees, meen hy. “Dan gaan daar moontlik ’n hele geslag mense wees met afwykende gedrag weens tegnologieverslawing.”
Kan die monster getem word?
Die uitvinder van die internet, Tim Berners-Lee, meen hy het ’n monster geskep. Voorste tegnologie-kenners soos Tristan glo daar moet ’n verskuiwing plaasvind en dat die tegnofirmas se sakemodel moet verander.
“Tegnologie is veronderstel om ’n nuttige hulpmiddel te wees, maar dit word eerder as ’n manipulasiemiddel gebruik,” sê hy. “Etiek moet teruggesit word in tegnologie. Die manier waarop tegnologie gebruik word, moet verander.”
Kenners stel onder meer voor dat wetgewing in plek gestel word. Mense se privaatheid moet beskerm en ’n belasting ingestel word ten opsigte van dataversameling- en verwerking. Basie meen ’n maatskappy soos Google het te veel mag. “Dis nodig dat regulasies in werking gestel word om monopolieë in dié verband te beheer.”
Rianette Leibowitz, stigter van die Johannesburgse maatskappy SaveTNet Cyber Safety en outeur van Maak jou kind skermslim, het ’n program bekend gestel om “kuberwelstand” te bevorder. Sy sê dis belangrik dat mense ingelig en bewus is van alles om die internet en sosiale media. “Verantwoordelike digitale burgerskap waarin mense ’n positiewe impak oor die internet en op sosiale media maak, is die antwoord.”
Aan die keersy meen mense soos Richard Seymour, Amerikaanse skrywer, dit wat in sosiale media gebeur, is bloot die spieëlbeeld van ’n siek samelewing. Daarby ontken maatskappye soos Facebook van die bewerings wat in The Social Dilemma gemaak word. Hul uitgangspunt is: Met verloop van tyd sal mense bloot leer om met tegnologie en sosiale media saam te leef. Kenners waarsku dit is ’n drogbeeld.
’n Doelbewuste en daadwerklike poging moet aangewend word om die situasie te verander en dit verg leierskap en ’n kollektiewe wil.
DEUR ANNE MARAIS
Die nuutste uitgawe van Taalgenoot is nou beskikbaar by https://adobe.ly/2Q46QbE of https://atkv.org.za/taalgenoot.