Applous vir handvol kleinkinders in koorkompetisie
Bloed kan soms saamkoek en dik deur die regte are vloei om goeie dinge te laat gebeur – soos in een familie, deur wie se gene koorsang met oorgawe bruis. Met hul begeesterde deelname én prestasies in verskeie ATKV-projekte oor geslagte heen verdien hulle individueel en gesamentlik ’n plek op die ererol.
Dié begaafde familie stel só ook ’n puik singende en sprekende voorbeeld van hoe die ATKV oor generasies heen ’n tuiste vir oud en jonk bied. Meer belangrik, wys die familie se ellelange lys ATKV-prestasies wat moontlik is wanneer geleenthede met hierdie organisasie se vele kreatiewe platforms heelhartig aangegryp word.
Dit sluit in die gewilde, jaarlikse ATKV-Applous-skoolkoorkompetisie, wat die ideale kans bied om te spog met koorsang, taal en kultuur. ATKV-Applous is die oudste skoolkoorkompetisie in die land en vanjaar se finaal het op Saterdag 29 Julie by Unisa in Pretoria ten einde geloop.
Vir een ouma en oupa was vanjaar se ATKV-Applous ’n besondere hoogtepunt. Ingeborg en Christo Botes van Durbanville het nie minder nie as vyf kleinkinders gehad wat aan die finale ronde deelgeneem het. Dié vier niggies en ’n nefie het almal in die prestige-afdelings vir laerskool- en hoërskoolkore gesing.
Hulle is die 16-jarige tweeling van Pretoria, Milla en Nicole Botes van die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria se bekende Blou Engele-koor. Die tweeling se Kaapse niggies, wat albei in die Hoërskool Durbanville se koor sing en 14 jaar oud is, is Leila Bezuidenhout en Mischka Louw. Leila se broer, Paul (12), het ook aan die finale ronde deelgeneem as ’n lid van die Laerskool Durbanville se koor.
Boonop was Mischka se ousus en die oudste niggie, Ingeborg Louw (22), ook ’n gerekende koorsanger. Nou al ’n Puk-student, was sy ’n lid van André van der Merwe se Stellenberg-meisieskoor, wat die die ATKV-Applous-wenners was in 2016 en ook weer vanjaar die eerste plek in die hoërskool: prestige-afdeling vir meisies gedeel het met die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria.
Ingeborg snr. (75) se jonger sus, Marié Gräbe, se lewenspad is eweneens nou met die ATKV vervleg. Dié afgetrede Afrikaansonderwyser van Pretoria, wat steeds by Solidariteit werk, was tussen 1985 en 2016 by verskeie ATKV-kultuurprojekte (ATKV-Debat, ATKV-Redenaars, Afrikaanse Olimpiades, ATKV-Litdink, ens.) betrokke – en nou sit haar uitgebreide familie dié verbintenis trots voort.
Volgens Marié was sy juis met die pas afgelope ATKV-Applous-kompetisie opnuut onder die diepe indruk van hoe die ATKV sedert 1930 steeds ’n warm kultuurtuiste vir opeenvolgende generasies bly skep.
“Ná my eie jare lange verbintenis en betrokkenheid, kon ek met heimwee en vreugde my wyer familie se deelname aan vanjaar se ATKV-Applous-kompetisie volg,” vertel Marie, ’n tweede ouma vir die niggies en nefie, trots.
Sy kan hoeka eerstehands getuig hoe die vreugde, intellektuele ontwikkeling en selfwaarde wat gesamentlike koorsang ontwikkel van onskatbare waarde in enigeen se ontwikkeling tot volronde mens is.
Marié en ander lede van haar singende famililelede het oor jare die voorreg gehad om in verskeie bekende Suid-Afrikaanse kore onder leiding van ervare en gerekende koorleiers te sing.
“My suster Ingeborg en van haar kinders se koormeesters was Hein en Dirk de Villiers, Kobus de Wit, Hennie Loock, Pieter van der Westhuizen, Acama Fick, Leon Starker, André van der Merwe en die 2023-koorleiers Anne-Marie Dippenaar (Laerskool Durbanville), Renette Bouwer (Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria) en Maria Viviers (Hoërskool Durbanville).”
Die liefde vir saamsing het om haar familie se etenstafels ontstaan, verklap Marié. Dit het veral tydens aandhuisgodsdiens beslag gekry, en ook gesorg dat bergklimuitstappies, kerkkampe en selfs lang “vervelige” vakansieritte met FAK- en Duitse liedjies opgehelder kon word.
“Ons familie se liefde vir musiek en samesang stam en strek van ver uit die verlede. Ons voorgeslagte het al in die 1800’s orrels in Nederland gebou.”
Marié benadruk die ATKV se kernrol om aktief taal en kultuur kreatief te bly bevorder en só nasiebou te versterk. “Ek wens die ATKV nog lang, kultuurryke jare toe.”