Arendsnes se Wakker Wagters is paraat
Verlede jaar het die ATKV-tak Arendsnes in Gauteng ’n hekelmarathon aangebied. Hierdie jaar moes hulle ’n nuwe projek aanpak, en só is die suksesvolle Wakker Wagters-projek gebore. Dié inisiatief is op Saterdag 21 Julie by die Laerskool Horison in Roodepoort aangebied.
Nagenoeg 300 mense, wat gesinne en vele rolspelers insluit, het die woelwaterdag bygewoon.
Wakker Wagters is ’n veiligheid-en-sekuriteitbewusmakingsinisiatief van die ATKV-tak Arendsnes, waarmee jongmense en gesinne opgelei word om gevaarlike en lewensbedreigende situasies trompop te hanteer.
“Ons het besluit om iets heeltemal anders te doen waar ons die hele gesin kon betrek. Ons wou fokus op die uitbou van vaardighede wat met ‘belê in jouself, belê in jou toekoms, #weesdieverskil’ [die ATKV se bemarkingslagspreuk] en ‘#onsasgesindoenditsaam’ verband hou,” sê Leandra van Wyk, ’n taklid van die ATKV-tak Arendsnes.
“Ek was sewe jaar oud toe ons as kinders destyds by Brixton se brandweerstasie gewys is wat om te doen as daar ’n brand uitbreek. Dit het ’n groot indruk op my gemaak.
“Ons het destyds elkeen ’n ‘Wakker Wagter’-aansteekspeldjie gekry. Daardie speldjie is ongeveer 50 jaar later steeds in my juweelkissie en was die inspirasie vir hierdie lewensvaardigheidsprojek.
“Dit was die vonkie om meer ‘wakker wagters’ op te lei en die projek ’n hupstoot te gee deur verskeie rolspelers in nooddienste sowel as ander persoonlike veiligheidsvelde te betrek.
“Ons het die volgende rolspelers in ons gemeenskap genader: SecureFire, Bee Save, Help24, CRD, ER24, die Helderkruin Voortrekkers, die NG-gemeente Constantiakruin, African Reptiles and Venom, André Brink (’n tradisionele dokter), Leandra Real Estate en die ATKV.
Met hulle samewerking was daar nagenoeg tien stalletjies en werkswinkels waarby kinders en volwassenes as gesinne op ’n rotasiebasis vir sowat dertig minute in verskillende alledaagse noodvaardighede opgelei is. Volgens Monique Brink, ook van die Arendsnes-tak, was daar nie net een spesifieke hoogtepunt nie ‒ elke 30 minute het die groepe roteer en het die pret van voor af begin.
“’n Groot gunsteling wat baie goeie terugvoer gekry het, was die kinders wat by SecureFire self met die brandslang kon werk, asook die slange by African Reptiles and Venom waaraan hulle blootgestel is,” sê Brink.
Ander lewensbelangrike vaardighede wat aangebied is, was mond-tot-mond-asemhaling, die aanleer van vuur- en brandbestrydingsvaardighede, sekuriteit en paraatheid, die behandeling van bysteke en slangbyte, noodhulp, beenbreuke en spalking, herwinning van ’n blikkie om kos in te maak en water te kook, depressie en emosionele intelligensie en die bewusmaking van noodnommers om met nooddienste in verbinding te tree.
Brandweermanne het waterspuitdemonstrasies met die kinders gedoen om hulle op te lei as ’n brandgevaar of noodsituasie uitbreek.
Deelnemers het aan die begin van die opleidingsroete elk ’n sertifikaat gekry wat na afloop van elke sessie by die stalletjies onderteken is. Die kinders was baie trots op hierdie sertifikate wat in hulle kamers kan pronk.
“Hierdie projek was baie na aan ons harte en was werklik ’n reusesukses. Elke deelnemer het ’n medalje en geskenksak ontvang en gesinne kon saam iets leer en die dag op ’n positiewe manier geniet,” sê Leandra.
Na afloop van die dag is dit nou nie net “Wagter” die hond by die huis wat paraat is nie, maar kan elke wakker wagter ook hul vaardighede tydens ’n noodgeval inspan.