ATKV 95: Ná byna ’n eeu steeds brugbouers

Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) vier vanjaar sy 95ste verjaardag, en sedert sy stigting in Kaapstad op 19 Augustus 1930 is dit ’n organisasie wat by ’n veranderende samelewing aanpas en ’n ware baken van hoop bly. Die ATKV bly getrou aan sy visie om die Afrikaanse taal, kultuur, kennis en kreatiwiteit deel van nasiebou, versoening en ’n suksesvolle Suid-Afrika te maak.
Die ATKV is destyds deur 12 mense gestig as ’n organisasie waar mense die lekkerte van Afrikaans-wees met mekaar kon deel. Sybie van der Spuy word tereg as die “vader van die ATKV” erken. Hoe onbeduidend sy voorstel van ’n debatsvereniging vandag ook al mag klink, was dit tog die eerste keerwal wat ’n Afrikaanssprekende spoorwegman teen die verspoeling van sy taal opgerig het. Hy sou egter nooit kon voorsien dat die bedrywighede van die ATKV veel verder as dié van ’n debatsvereniging sou strek nie.
Deur die jare het die organisasie se ingrypende bydrae tot die bevordering van Afrikaans op verskeie vlakke resultate getoon. Die eerste mylpaal was die totstandkoming van die ATKV se tydskrif, Die Taalgenoot, in Desember 1931. In 1935 stig die ATKV die Suid-Afrikaanse Noodhulpliga. In 1936 word die landgoed Hartenbos aangekoop en word die ATKV die eerste kultuurvereniging in Suid-Afrika om sy eie vakansieoord te besit. Sedertdien het die ATKV-oorde landswyd bewys dat vakansie hou ook kultuurskeppend kan wees.
Vandag is die ATKV dié Afrikaanse kultuurtuiste met ongeveer 70 000 hooflede en 80 kultuurprojekte per jaar, wat bykans 55 000 inskrywings genereer en meer as 220 000 mense regstreeks betrek.
Verskeie projekte, kursusse en opleidingsgeleenthede het mettertyd die lig gesien en het gelei tot nuwe geleenthede en ’n wye verskeidenheid platforms. Dat die ATKV in die proses boonop kan bydra tot die ontwikkeling van individue, gemeenskappe én ons land, is iets waarop die organisasie baie trots is. Dit is ook inspirerend om te sien dat hierdie projekte daagliks help brûe bou – nie net tussen mense nie, maar ook tussen taalgroepe.
Nou, 95 jaar ná die ATKV se stigting, bly taal en kultuur die kernfokus van die organisasie, terwyl die ATKV se takstruktuur sy voetspoor in gemeenskappe vergroot. Verskeie fokusse maak deel uit van die hartklop van die ATKV se projekte. Die afgelope jaar was takke se hoofprojekfokusse gerig op onderwys en opleiding, sosiaal-maatskaplike inisiatiewe en die kunste. Takke fokus verder ook op onder meer leesbevordering, taal en erfenis.
Die ATKV het ook die afgelope jaar merkwaardige groei in die aantal jeugtakke beleef. Tans is daar 128 jeugtakke en 188 takke vir volwassenes in Suid-Afrika en Namibië. Altesaam 1 224 projekte is die afgelope jaar deur ATKV-takke onderneem – statistiek wat tekenend is van die ATKV se belangrike bydrae op grondvlak.
Ander mylpale wat die ATKV onlangs gevier het, sluit in die Vriende van Afrikaans, ’n afdeling van die ATKV, se dertigste bestaansjaar, ATKV-Crescendo se vyftig jaar van talentontginning en -ontdekking en ATKV-Tienertoneel wat al vir meer as sestig jaar aan jongmense die geleentheid bied om hulself op die verhoog uit te leef.
Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, beskryf die organisasie as ’n boom met ’n verhaal so diep soos sy wortels en so wyd soos sy takke wat uitstrek na die horison. Oor dekades heen het dit gegroei en ontwikkel tot ’n monument van kulturele standvastigheid en omgee vir Suid-Afrikaners.
Die krag van hierdie boom lê egter in sy sterk, diep wortels. Die ATKV se kernwaardes van gemeenskapsontwikkeling, inklusiwiteit, versoening en nasiebou anker ons en verseker dat ons boom sal bly staan, selfs in stormweer.
Ons boom floreer in ’n diverse landskap van kulture en gemeenskappe danksy die Afrikaanse taal, ons kultuur en ons mense se kennis en kreatiwiteit.
Anders as ’n gewone boom, kan hierdie een op meer as een plek groei. Dit groei waar ons dit plant – in elke gemeenskap, in elke huis en in elke hart waar die Afrikaanse taal en kultuur gekoester word.
Soos hierdie boom sy sade saai, groei nuwe boompies – nuwe generasies wat die fakkel van kultuur en gemeenskapsdiens oorneem. Hierdie boom is lewendig, sterk en altyd vernuwend – net soos die kultuur en die gemeenskappe wat dit verteenwoordig.
Die ATKV verseker dat ons erfenis nie net bewaar word nie, maar vernuwe, versterk en oorgedra word aan dié wat ná ons kom. Onder die takke van die ATKV is daar plek vir almal. Kom staan in sy skaduwee, pluk van sy vrugte en word deel van sy groei.
Die ATKV nooi almal wat lief is vir Afrikaans, en wil deel wees van die toekomstige en blywende impak wat die organisasie daagliks in ons land maak, om saam met die ATKV ’n pad te stap om ’n lewende erfenis te bou. Sluit aan by die reis waarop ons Afrikaans vier en ’n nalatenskap skep wat die rykdom van ons taal, kultuur en kunste omhels. Kom bou saam aan ’n brug na ’n toekoms waar elke hart ’n huis vind en elke droom vlerke kry.