ATKV-AbbAsorg: Van Coke hardloop vir hoop
Toe die Kaapstad-marathon op die laaste oomblik weens stormsterk winde afgelas is, het dit vir duisende voornemende deelnemers ’n einde aan maande se voorbereiding beteken. Die meeste van hulle het eenvoudig huis toe gegaan. Maar vir Francois van Coke, die gewilde musikant en voorsanger van die Afrikaanse rockgroep Fokofpolisiekar, het dit die begin van ’n nuwe uitdaging beteken.
Francois het, in plaas daarvan om sy nommer af te skeur en moed op te gee, sy hardloopskoene aangetrek en 42 kilometer op sy eie aangepak. Hy het besluit dat, indien hy nie saam met die ander deelnemers kan hardloop nie, hy dit in elk geval op sy eie vir ’n groter doel sou doen: R1 vir elke meter wat hy voltooi – ’n mikpunt van R42 000 vir Breadline Africa, ’n organisasie wat vroeëkinderontwikkelingsfasiliteite oor Suid-Afrika heen oprig, en die ATKV se AbbAsorg-program, wat gehalte- voorskoolse ontwikkeling vir benadeelde kinders bied.
Die fondse word bestem vir AbbAsorg se Educare-sentrum in Cloetesville, waar ’n nuwe, veilige speelarea en klimraam opgerig sal word.
“Ek was nie bereid dat die stormwinde en die afgelasting van die marathon my planne in die wiele ry nie,” sê hy.
Die 42-jarige musikant, wat voorheen reeds twee volle marathons en ’n ultramarathon voltooi het, het die uitdaging aangepak ondanks ’n voetoperasie wat hy in Februarie ondergaan het wat sy voorbereiding tydelik onderbreek het. Hy het gehoop om die marathon in minder as vier uur te voltooi – ’n ambisieuse doelwit gegewe sy herstelproses.
Die amptelike wedloop sou die klimaks van sy voorbereiding wees, maar die weer het anders besluit. Die teleurstelling was groot.
“Ek was uiteraard baie teleurgesteld. Ek het baie geoefen en was gereed, sterk en oorgehaal,” sê hy.
Maar eerder as om tou op te gooi, het Francois deur Kaapstad se woonbuurte gehardloop – net hy, sy musiek en sy missie. Die plan het boonop sedertdien ’n groter omvang geneem.
Francois sou op 6 November, op die dag van die amptelike oorhandiging van die nuwe sentrum, van Bellville tot Cloetesville hardloop “om die momentum aan die gang te hou.”
Sy poging het van oral aandag getrek. Jacaranda FM se Good Morning Angels het hom met ’n verrassingskenking van R10 000 ondersteun, waarna hy sedertdien nog R9 000 ingesamel het. Hy is reeds naby aan die helfte van sy teiken.
“’n Groot dankie aan almal wat my al om en by 40% van my doelwit laat bereik het. Julle ondersteuning beteken die wêreld vir my. Kom ons steek saam die eindstreep oor,” sê hy.
Francois sê dit is vir hom as ’n bekende musikant belangrik om sy platform te gebruik om goeie sake soos AbbAsorg te ondersteun.
“Ek het twee klein kinders,” sê hy.
“Ek sien hul behoeftes en, omdat ek hulle so liefhet en hulle my lewe verryk, is ek uiters stoked om ander kinders se lewens op enige manier te help verbeter.”
Sy keuse om saam met Breadline Africa te werk, was doelbewus.
“Ek het al ’n paar keer saam met Breadline Africa gewerk. Toe hulle my weer nader, het ek dadelik gevoel ek kan my met hulle missie en visie verbind. As ek ’n kind op enige klein manier kan help, is ek sommer self dankbaar.”
Buiten musiek is hardloop al jare lank deel van Francois se lewe. Hy het tydens die Covid-19-pandemie met langafstande begin en daarna by marathons betrokke geraak.
“Dit is iets wat ek op hierdie stadium in my lewe nodig het. Dit is vryheid en vrede vir ’n paar uur elke week.”
Selfs op toer los hy nie sy tekkies by die huis nie.
“Ek hardloop waar ek kan. Ek was gelukkig genoeg om vanjaar in Nieu-Seeland, Australië, Sjina, Engeland en Nederland te hardloop. Dis ook ’n ongelooflike manier om ’n stad te sien.”
Hoewel hy erken dat sy solo-marathon lekker was, sê hy tog: “Nee, dit sou baie meer beteken het om die Kaapstad-marathon behoorlik te kon doen.”
Maar sy boodskap bly eenvoudig. Die wedloop is nie alles nie. Die kinders is. En dít is waarom hy steeds hardloop – weer, wind of afgelasting ten spyt.
Jerome Steenkamp, nasionale bestuurder van AbbAsorg, sê: “Dit laat die hart warm klop om te sien hoe Suid-Afrikaners hande vat en tyd maak om aktiewe bydraers te wees tot die verbetering van ons land deur in die lewens van jong kinders te belê.
“As meer van ons aktiewe burgers kon word om die verandering teweeg te bring wat ons graag in die wêreld wil sien, sou die wêreld ’n baie beter plek wees.”
Jerome verwys na prof. Jonathan Jansen, ’n gerespekteerde naam in die Suid-Afrikaanse onderwyslandskap, wat die katalisator geword het wat die vennootskap tussen AbbAsorg en Breadline Africa moontlik gemaak het.
“Prof. Jansen het tydens die openingsgeleentheid van AbbAsorg Cloetesville op Donderdag 6 November genoem dat baie navorsers saamstem dat die beste manier om ’n blywende impak en verandering in die samelewing te bewerkstellig, is deur in die lewens van jong kinders te belê,” voeg Jerome by.
“Ons wil vir Francois bedank dat hy ’n aktiewe burger is en bydra om te verseker dat jong kinders in Suid-Afrika gehalte- vroeë onderwys kan ontvang wat hulle kanse op gelyke onderwysgeleenthede in die toekoms sal verbeter.”