ATKV-Applous 2023: Luisterryk, lewensverrykend
ATKV-Applous is reeds in sy 46ste bestaansjaar – dit maak hierdie kompetisie vir skoolkore in Suid-Afrika en Namibië die oudste van sy soort in die land. Vanjaar se finale ronde van ATKV-Applous het dit egter ook duidelik gemaak dat die kompetisie ook beslis oor die jare van die hoogste standaarde vir skoolkore daargestel en gevestig het. Die beoordelaars van ATKV-Applous 2023 was dit eens dat die kore wat vanjaar na die finale ronde deurgedring het sonder twyfel op ’n internasionale standaard is – en enigiemand wat die finale ronde, wat van Woensdag 26 Julie tot Saterdag 29 Julie in die ZK Matthews Great Hall by UNISA plaasgevind het, bygewoon het, sal kan getuig dat die finale ronde ’n sonderlinge tentoonstelling van die sangtalent van ons jeug was.
Tydens die finale ronde van ATKV-Applous is daar in verskillende afdelings om die louere meegeding. Woensdag en Donderdag was die laerskoolkore in die meriete-afdeling, die ope-afdeling en die prestige-afdeling aan die beurt saam met hoërskoolkore wat in die ope-afdeling deelgeneem het, terwyl die hoërskool-meriete- en prestige-afdelings op Donderdag en Vrydag plaasgevind het (rol af om die uitslae in die onderskeie afdelings te sien).
’n Roemryke geskiedenis en impak
Die langslewendheid van ATKV-Applous het dalk ook te doen met die opleiding van koorleiers wat self deur die kompetisie geslyp is, meen Bessie Keun, projekorganiseerder van ATKV-Applous sedert 1999. Heelwat van die koorleiers wat tydens vanjaar se finale ronde aan die stuur van die kore gestaan het, het byvoorbeeld self ook in hul skooldae aan ATKV-Applous deelgeneem.
Bessie noem ook die geweldige hoeveelheid nuwe koorwerke wat hul bestaan te danke het aan die komposisiekompetisie wat deel vorm van ATKV-Applous (inskrywings vir vanjaar se komposisiekompetisie sluit op 29 Augustus 2023 – sien die brosjure hier vir die riglyne en die inskrywingsvorm). Rondom 700 nuwe koorwerke is sedert die aanvang van dié kompetisie by die lys van koorwerke vir skoolkore gevoeg.
“Dit gee my ’n ongelooflike gevoel van dankbaarheid dat wat jy doen, nie verlore is nie – dis nie van verbygaande aard nie. Dit is die opbou van koorsang in Suid-Afrika,” sê Bessie.
Uiteindelik is ATKV-Applous ’n geleentheid vir skoolkore om nie net hul talent en harde werk ten toon te stel nie, maar ook om met hul eweknieë by ander deelnemende skole skouers te skuur en verhoudings te bou. Ten spyte van die sterk kompetisie wat ongetwyfeld die kore gestu het om hul beste te lewer, het hulle ook aan die einde van elke aand in samehorigheid saamgesing en -gekuier. DECA (Douw Steyn en Herman Steyn), die instrumentale gaskunstenaars wat die gehoor elke aand terwyl die beoordelaars beraadslaag het, vermaak het, het die jonges op hul voete en aan die sing gehad, en ’n viering van koorsang was op ’n baie werklike manier tasbaar gemaak vir elke gehoorlid wat hul kind kom ondersteun het.
Johan Esterhuizen, bestuurder: jeugprojekte by die ATKV, noem ATKV-Applous se ewig-veranderende aard as iets wat hom bybly. “Applous is lekker in die sin daarvan dat dit elke jaar anders is. Daar’s ’n magic daaraan,” sê Johan. Daar’s ’n gemaklike warmte tussen die kore, koorleiers en organiseerders, meen Johan, en dit maak elke jaar se ATKV-Applous soos ’n reünie.
Braam de Kock, projekorganiseerder: jeugprojekte, sê die talent op die verhoog laat hom elke jaar stom. “Ek het nie gedink ek sal nog ’n jaar verstom word nie,” sê Braam. “Jy dink jy’t alles gehoor, maar jy het nie – dit raak net beter.”
Johan gaan akkoord. “’n Mens is dankbaar vir die kore en dis ’n voorreg om na hierdie kore te luister, want van die streeksfeeste af tot nou toe het nie een plek of een koor ons teleurgestel nie. By elke koor was daar ’n oomblik wat wow was – daai wow-faktor.”
Ook ’n geleentheid om Lizz se lof te besing
Lizz Meiring is al vir meer as twee dekades by ATKV-Applous betrokke as seremoniemeester vir die finale ronde en haar teenwoordigheid word telkens deur koorleiers en kore genoem as ’n kalmerende faktor wat hulle op hul gemak stel voor hulle die verhoog bestyg.
Lizz is op die laaste aand van ATKV-Applous se finale ronde met ’n oorkonde vereer vir haar jare lange bydrae tot die uitvoerende kunste, vir Afrikaans en vir die gemeenskap, en haar ook op hierdie manier te bedank vir haar reusebydrae tot ATKV-Applous en haar betrokkenheid by verskeie ATKV-projekte oor die jare.
Inderdaad strek Lizz se paadjie met die ATKV ver terug – sy is reeds 40 jaar op die een of ander manier betrokke by die ATKV se vele projekte en bedrywighede. Maar hoekom bemoei sy haar al so lank met hierdie organisasie?
“Kyk, ek is mal oor die ATKV en ek voel dat wat hulle doen, nog altyd, gee terug aan die gemeenskap in elke opsig, en ek dink dit is ontsaglik belangrik dat daar ’n organisasie is wat wel die kreatiewe bedryf ondersteun. Hoeveel miljoene kinders is net deur die koorfees, en nou praat ek nie eers van die toneelfees en ander werkswinkels nie? Hoeveel loopbane – uiters suksesvolle loopbane – het die ATKV gebou? So, dit is ’n standhoudende betrokkenheid sonder enige bymotiewe en waar kry ’n mens dit? Dis baie skaars.
“Op ’n persoonlike vlak maak die goedheid, die guns en die geleenthede wat hulle vir my gee mý horisonne soveel breër.”
Lizz glo ook dat ATKV-Applous, waar sy al vir soveel jare ’n onmisbare deel van die geleentheid geword het, ’n bydrae tot die kinders wat daaraan deelneem se lewens lewer wat oor jare strek.
“As jy nou dink,” sê Lizz, “Baie van hierdie kinders gaan nie musici word nie, of in die musiekrigting gaan nie. Hulle gaan dalk in ander beroepe in, maar iewers in hulle lewens gaan hulle een aand nostalgies by ’n braaivleisvuur of by ’n ete of by ’n kuier met pelle verwys na hulle koordae, of die dae wat hulle toneelfees gedoen het, en die impak wat dit op hulle blote menslikheid gehad het, never mind op hulle emosionele, kreatiewe alfabet – wat ek noem die gereedskapkis van die lewe – hulle gaan dit nooit vergeet nie. Dít is iets wat vir my eggo in wat Applous doen.”
Vanjaar se ATKV-Applous-wenkore in die onderskeie afdelings was:
Woensdag 26 Julie
Laerskool: meriete (nie-Afrikaans)
Naaswenners: Newcastle Senior Primary School
Wenners: Pinedene Primary School
Beste uitvoering van ’n Afrika-lied: Newcastle Senior Primary School
Beste uitvoering van die voorgeskrewe werk: Pinedene Primary School
Beste uitvoering van ’n Afrikaanse komposisie: Pinedene Primary School
Laerskool: ope-afdeling
Naaswenners: Laerskool Kruinsig
Wenners: Laerskool Elarduspark
Hoërskool: ope-afdeling
Naaswenners: Hoërskool Jeugland
Wenners: C&N Sekondêre Meisieskool Oranje
Donderdag 27 Julie
Laerskool: meriete
Naaswenners: Willem Postma Primêre Skool
Wenners: Laerskool Elarduspark
Beste uitvoering van ’n Afrika-lied: Laerskool Garsfontein
Beste uitvoering van die voorgeskrewe werk: Willem Postma Primêre Skool
Beste uitvoering van ’n Afrikaanse komposisie: Laerskool Elarduspark
Laerskool: prestige
Naaswenners: Laerskool Durbanville
Wenners: Laerskool Gene Louw
Beste uitvoering van ’n Afrika-lied: Laerskool Mooirivier
Beste uitvoering van die voorgeskrewe werk: Laerskool Eversdal
Beste uitvoering van ’n Afrikaanse komposisie: Laerskool Gene Louw
Vrydag 28 Julie
Beste uitvoering van ’n Afrika-lied: Hoërskool Ferrum
Beste uitvoering van die voorgeskrewe werk: Hoërskool De Kuilen High School
Beste uitvoering van ’n Afrikaanse komposisie: Hoërskool De Kuilen High School
Hoërskool: meriete (gemeng)
Naaswenners: Benoni High School
Wenners: Hoërskool Ferrum
Hoërskool: meriete (meisies)
Naaswenners: Riebeek College Girls' High School
Wenners: Hoërskool De Kuilen High School
Saterdag 29 Julie
Beste uitvoering van ’n Afrika-lied: Die Hoërskool Menlopark
Beste uitvoering van die voorgeskrewe werk: Hoërskool Stellenberg
Beste uitvoering van ’n Afrikaanse komposisie: Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria
Hoërskool: prestige (meisies)
Naaswenners: Eunice Girls' High School
Wenners: Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria, Hoërskool Stellenberg
Hoërskool: prestige (seuns)
Naaswenners: Paul Roos Gimnasium
Wenners: Afrikaanse Hoër Seunskool
Hoërskool: prestige (gemeng)
Naaswenners: Hoërskool Durbanville
Wenners: Die Hoërskool Menlopark