ATKV-Applous 2025: Oos- en Suid-Kaap oorgehaal

ATKV-Applous is ’n invloedryke skoolkoorkompetisie in Suid-Afrika met ’n merkwaardige 286 kore wat in 2025 vir die kompetisie ingeskryf het. Hierdie kore verteenwoordig meer as 20 000 hoër- en laerskoolleerders.
Die koordirigente en koorlede is reeds voluit besig met stemopwarming- en oefensessies. Stemgroepe en solosangers is geïdentifiseer en die kore werk onverpoos aan intonasie, melodie en harmonie, dinamika, tempo, ritme en klankkleur.
Dit is daarom glad nie ’n verrassing dat die ATKV-Applous-span besonders opgewonde is vir die landswye streeksfeeste wat in Meimaand op hulle wag nie.
Die span, vergesel van ’n afvaardiging van Suid-Afrika se mees kundige en gesaghebbende koorbeoordelaars, reis gedurende Mei na 18 bestemmings regoor Suid-Afrika en Namibië met die doel om 40 topkore te identifiseer.
Gedurende die derde week van Mei reis die ATKV-Applous-span na die Oos- en Suid-Kaap, waar kore in Oos-Londen, Gqeberha en George mekaar die stryd sal aansê.
Die Oos-Londense-streeksfees vind op Maandag 19 Mei by die Clarendon High School plaas en sal omstreeks 15:00 begin. Vyf hoërskoolkore en drie laerskoolkore neem aan hierdie streeksfees deel.
Op Dinsdag 20 Mei reis die ATKV-Applous-span na die Hoërskool Andrew Rabie in Gqeberha. Hier sal twee uitdunrondes plaasvind, met die eerste wat omstreeks 14:30 begin, en die tweede sessie om 17:00. Nege hoërskoolkore en ses laerskoolkore sal tydens die streeksfees meeding.
Laaste aan die beurt is George op Woensdag 21 Mei. Twee hoërskoolkore, nege laerskoolkore asook ’n koor van die Inkcubeko Youth & Science Centre neem aan die streeksfees deel wat by die NG kerk Denneoord aangebied word. Die program begin om 14:00.
Almal is uitgenooi om die streeksfeeste in hul kontrei by te woon, om inspirerende jong koortalent te ondersteun en die toewyding van ’n nuwe generasie musici te vier.
Na afloop van die landswye streeksfeeste sal die kore wat na die finaal van ATKV-Applous 2025 deurgedring het, bekendgemaak word. Tydens die finaal sal die topskoolkore van Suid-Afrika en Namibië mekaar uitdaag om die titel van die beste skoolkoor te verower.
Die finaal van ATKV-Applous 2025 vind vanaf 30 Julie tot 2 Augustus 2025 in die ZK Matthews-saal by Unisa plaas. Hou gerus die pers dop vir meer inligting oor vanjaar se finaal, wat reeds beloof om ’n spoggeleentheid te wees.
Moenie hierdie onvergeetlike fees van talent, passie, en die vreugde van koormusiek misloop nie!
Kontak gerus vir Corneli Quinn, ATKV-Applous-projekorganiseerder, per e-pos by corneliq@atkv.org.za of telefonies by 011 919 9012, of vir Bessie Keun, ATKV-Applous-organiseerder, by bessie@applous.co.za of telefonies by 072 598 1480 vir enige navrae.