ATKV-Applous 2025: VS en NK slaggereed

ATKV-Applous is dié toonaangewende skoolkoorkompetisie in Suid-Afrika. In 2025 het ’n asembenemende 286 kore vir die kompetisie ingeskryf, wat meer as 20 000 hoër- en laerskoolleerders verteenwoordig.
Die ATKV-Applous-span is besonders opgewonde vir die streeksfeeste wat gedurende Meimaand landswyd plaasvind.
Die span, vergesel van ’n afvaardiging van Suid-Afrika se mees kundige en gesaghebbende koorbeoordelaars, reis gedurende Mei na 18 bestemmings regoor Suid-Afrika en Namibië met die doel om 40 topkore te identifiseer.
In die tweede week van Mei reis die ATKV-Applous span na die Vrystaat en Noord-Kaap, waar kore in Bloemfontein, Kimberley en Upington mekaar die stryd sal aansê.
Die Bloemfonteinse-streeksfees op Maandag 12 Mei word by die C&N Sekondêre Meisieskool Oranje aangebied. Die eerste sessie begin omstreeks 14:45 en die tweede sessie om 19:00. Vyf hoërskoolkore en nege laerskoolkore neem aan hierdie streeksfees deel.
Op Dinsdag 13 Mei reis die ATKV-Applous-span na die Laerskool Newton in Kimberley. Hier begin die streeksfees omstreeks 15:30, met een hoërskoolkoor en vyf laerskoolkore, asook twee kore vanaf die Kimberley Academy of Music wat tydens die streeksfees sal meeding.
Laaste aan die beurt in die Noord-Kaap is Upington op Woensdag 14 Mei. Drie hoërskoolkore en twee laerskoolkore neem deel aan die streeksfees wat by die Hoërskool Duineveld aangebied word. Die program begin om 13:45.
Almal word uitgenooi om die streeksfeeste in hul kontrei by te woon, om inspirerende jong koortalent te ondersteun en die toewyding van ’n nuwe generasie musici te vier.
Na afloop van die landswye streeksfeeste sal die kore wat na die finaal van ATKV-Applous 2025 deurgedring het, bekendgemaak word. Tydens die finaal sal die top skoolkore van Suid-Afrika en Namibië mekaar uitdaag om die titel van die beste skoolkoor te verower.
Die finaal van ATKV-Applous 2025 vind vanaf 30 Julie tot 2 Augustus 2025 in die ZK Matthews-saal by Unisa plaas. Hou gerus die pers dop vir meer inligting oor vanjaar se finaal, wat reeds beloof om ’n spoggeleentheid te wees.
Moenie hierdie onvergeetlike fees van talent, passie en die vreugde van koormusiek misloop nie!
Kontak gerus vir Corneli Quinn, ATKV-Applous-projekorganiseerder, per e-pos by corneliq@atkv.org.za of telefonies by 011 919 9012, of vir Bessie Keun, ATKV-Applous-organiseerder, by bessie@applous.co.za of telefonies by 072 598 1480 vir enige navrae.