ATKV-Applous: Mpumalanga, Limpopo en NW gereed

Die 286 koordirigente en hul koorlede wat in 2025 vir ATKV-Applous ingeskryf het, is reeds voluit besig met stemopwarming- en oefensessies. Stemgroepe en solosangers is geïdentifiseer en die kore werk onverpoos aan intonasie, melodie en harmonie, dinamika, tempo, ritme en klankkleur.
Dit is daarom glad nie ’n verrassing dat die ATKV-Applous-span besonders opgewonde is vir die landswye streeksfeeste wat in Meimaand op hulle wag nie.
Die span, vergesel van ’n afvaardiging van Suid-Afrika se mees kundige en gesaghebbende koorbeoordelaars, reis gedurende Mei na 18 bestemmings regoor Suid-Afrika en Namibië met die doel om 40 topkore te identifiseer.
In die laaste week van Mei maak die ATKV-Applous-span draaie in Mpumalanga, Limpopo en die Noordwes, waar kore in Witbank, Nelspruit, Polokwane en Rustenburg mekaar die stryd sal aansê.
Die streeksfees in Witbank vind op Maandag 26 Mei by die HTS Witbank plaas en sal om 15:00 begin. Ses hoërskoolkore neem aan hierdie streeksfees deel.
Op Dinsdag 27 Mei reis die ATKV-Applous-span na Nelspruit waar kore van die Laerskool Nelspruit sal deelneem. Die geleentheid begin om 12:00. Na afloop van die streeksfees bied die ATKV ʼn Koorklets aan, waar koor-entoesiaste kan deelneem aan ʼn gesprek oor die kuns van koorsang. Die Koorklets begin om 14:00 by die Laerskool Nelspruit.
Die span maak Woensdag 28 Mei ’n draai in Polokwane. Die streeksfees, aangebied by die Hoërskool Pietersburg, sal om 14:00 afskop. Vier hoërskoolkore en 10 laerskoolkore is ingeskryf vir hierdie streeksfees.
Laaste aan die beurt is Rustenburg op Donderdag 29 Mei. Twee hoërskoolkore en drie laerskoolkore neem aan die streeksfees deel wat by die Gereformeerde Kerk Rustenburg-Wes aangebied word. Die program begin om 18:00.
Almal word uitgenooi om die streeksfeeste in hul kontrei by te woon, om inspirerende jong koortalent te ondersteun en die toewyding van ’n nuwe generasie musici te vier.
Na afloop van die landswye streeksfeeste sal die kore wat na die finaal van ATKV-Applous 2025 deurgedring het, bekendgemaak word. Tydens die finaal sal die topskoolkore van Suid-Afrika en Namibië mekaar uitdaag om die titel van die beste skoolkoor te verower.
Die finaal van ATKV-Applous 2025 vind vanaf 30 Julie tot 2 Augustus 2025 in die ZK Matthews-saal by Unisa plaas. Hou gerus die pers dop vir meer inligting oor vanjaar se finaal, wat reeds beloof om ’n spoggeleentheid te wees.
Moenie hierdie onvergeetlike fees van talent, passie, en die vreugde van koormusiek misloop nie!
Kontak gerus vir Corneli Quinn, ATKV-Applous-projekorganiseerder, per e-pos by corneliq@atkv.org.za of telefonies by 011 919 9012, of vir Bessie Keun, ATKV-Applous-organiseerder, by bessie@applous.co.za of telefonies by 072 598 1480 vir enige navrae.