ATKV bekroon ondersoekende joernaliste
In ’n era waarin mediagebruikers dikwels oorweldig voel deur die hoeveelheid inligting waarmee hulle daagliks te make het, is dit belangriker as ooit tevore om die koring van die kaf te skei. Daarom was dit vir die ATKV belangrik om vanjaar weer tasbare erkenning aan ondersoekende joernalistiek te gee. Prysgeld van altesaam R30 000 was op die spel.
Joernaliste kon artikels, programme of insetsels in drie kategorieë, naamlik LEES, LUISTER en KYK, inskryf, en inskrywings uit al hierdie kategorieë is ontvang.
“Ons was op soek na joernaliste wat nie bang was om moeilike vrae te vra of diegene in magsposisies se aksies – of gebrek daaraan – bloot te lê nie. Vreeslose joernalistiek is immers een van die hoekstene van ons demokrasie en iets wat Suid-Afrika van talle ander lande onderskei,” sê Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW.
Dit was ook vir die ATKV belangrik dat inligting op ’n verstaanbare, dog prikkelende manier oorgedra moet word en tot die kern van die kwessie moet deurdring.
Die algehele wenner van die 2023 ATKV-Mediaveertjie vir ondersoekende joernalistiek is Anneliese Burgess van Vrye Weekblad. Haar werk is deur die beoordelaars beskryf as “besonderse ondersoekende joernalistiek, en ’n goeie voorbeeld van dapper en uitdagende joernalistiek. Die werk van ’n vaardige én ervare joernalis wat sonder skroom ’n vyandige en nogal wrede wêreld invaar en die antwoorde kry op uitdagende vrae.” Een voorbeeld van haar werk wat die paneel beïndruk het, is die artikel “Twee sluipmoorde, ’n kanselier van staal en die ‘ontkaping’ van Fort Hare”.
Oor haar “Spesiale verslag | Die anatomie van ’n mislukte munisipaliteit” (oor Komani, voorheen bekend as Queenstown) sê beoordelaars dat Burgess se skryfwerk “krap aan jou siel tot die sug uit die wonde sypel. Dit stel die plaaslike regering se onvermoë bloot om die gewone mense op straat se behoeftes hoegenaamd te probeer raaksien, laat staan nog bevredig. Dit gaan verder as om net bloot te lê – dit krap oop en laat die stinkende korrupsie opborrel sodat dit nie meer onder die peperduur handsakke en skoene toegestoot kan word nie. Haar woorde laat hulle nie keer nie, dit spreek duidelik tot elkeen en laat jou dit aan jou eie vel voel.” Burgess ontvang R15 000 as prys.
Die tweede plek behoort aan Willemien Brümmer, spesialis-joernalis van Netwerk24. Die beoordelaars meen Brümmer se verslaggewing “vra moeilike vrae sonder om maklike antwoorde te probeer gee, maar dui terselfdertyd op diepgaande bemoeienis met haar onderwerp.” Twee van haar artikels oor haweloses is deur die beoordelaars uitgesonder, met veral “Ek soek net een harde push in die lewe ... net één harde push, verstaan?” wat beïndruk het. “Die menslike kondisie lê haar kennelik na aan die hart. Met hierdie reeks artikels gee sy erkenning en ’n ‘gesig’ aan die menigte gesiglose hawelose mense rondom ons, en gee die leser ’n kykie in hul lief en leed.” Brümmer ontvang R10 000.
Die vryskutjoernalis De Wet Potgieter behaal die derde plek. Oor sy artikel “Onder die sekelmaan” (oor die aktiwiteite van die terreurgroep Isis in Mosambiek en ook in Mpumalanga) sê die beoordelaars die volgende: “De Wet Potgieter stel die plaaslike trawante van Isis in sy DEKAT-artikel aan ons voor sonder vrees vir enige nagevolge. Hy volg vorige navorsing op met die jongste inligting, wys die kontakte, hul meesters en hul pionne. Hierdie is ’n smeulende kruitvat wat niemand durf ignoreer nie. Dis ’n lêer wat duidelik ernstig opgeneem behoort te word.” Potgieter ontvang R5 000.
Met hierdie toekennings wil die ATKV erkenning gee aan die kritieke rol wat die media in die huidige samelewing speel om die publiek in te lig en op te voed. Hartlik geluk aan hierdie drie joernaliste, en ’n groot dankie aan alle Afrikaanse joernaliste wat belangrike vrae vra en vreesloos berig oor dit wat in ons land en die wêreld gebeur.
Die ATKV bedank ook graag die beoordelaars Kirby van der Merwe, Bettina Wyngaard en Martie Pansegrouw.