ATKV belê in kampustoneel

Die Amerikaanse aktrise Bette Davis het gesê toneelspel moet groter as die lewe wees; draaiboeke moet groter as die lewe wees; dit moet álles groter as die lewe self wees. Tydens vanjaar se NWU Kampustoneel het studente groter as die lewe self gegaan met toneelspel, teks en verhoogbestuur wat vir seker ’n glimlag op Bette se gesig sou sit. Volgens Jaco van der Walt, senior bestuurder van NWU Kunste, was kampustoneel vanjaar ’n besonderse affêre, want dit was die eerste keer wat al die koshuise weer kon deelneem voor ‘n lewendige gehoor in die Sanlam Ouditorium.
“Kaartjies het elke aand soos soetkoek verkoop en die studenteproduksies was van ’n baie hoë gehalte. Die Noordwes-Universiteit het nie ’n Dramadepartement nie en tog, as die publiek en die beoordelaars die verhoogproduksies kom kyk, is hulle altyd verbaas oor die gehalte wat die studente lewer. NWU Kampustoneel is ’n broeiplek vir talent in Suid-Afrika en ek is seker ons sal in toekoms hierdie talent weer op ons land se verhoë of televisie te sien kry,” sê Jaco.
Die wenstuk, Agter die Gordyn, is geskryf deur Pierre-André Viviers, en opgevoer deur Patria-manskoshuis. Die stuk het die gehoor laat skaterlag en laat deel voel van die teaterlewe waar drie jong sukkelende akteurs se drome om eendag beroemd te word, gedeel is. In die tweede plek was Vergeet-My-Nie-dameskoshuis en Wanda-dameskoshuis in die derde plek. Die wenner kry weer die geleentheid om op 9 Oktober tydens Aardklop op te tree.
“NWU Kunste skep en ondersteun elke jaar verskeie platforms vir studente om hul talente te ontwikkel en maak instansies soos die ATKV, wat as hoofborg opgetree het tydens vanjaar se NWU Kampustoneel, dit vir ons moontlik om die beste moontlike platform te skep,” sê Jaco.
Gerrie Lemmer, die ATKV se uitvoerende hoof van kultuur, sê die ATKV bied laerskole toneel (ATKV-Tjokkertoneel) en hoërskole toneel (ATKV-Tienertoneel) op ’n nasionale vlak aan. “Daarom is dit belangrik om vir studente ook ’n platform te skep om hul skryf- en toneelspelvaardighede ten toon te stel. Tans ondersteun die ATKV die NWU se kampustoneel en die US Dramadepartement se Première-toneelfees. By die US het ons ten doel om deur studenteteater nuwe dramaturge en akteurs te identifiseer en op hierdie unieke wyse beroepsteater tot hulp te wees. In die proses word daar met dié projek verseker dat Afrikaanse teater in ’n meertalige konteks steeds sterker sal word.”