ATKV beloon UP-toppresteerders in Afrikaans


Dit verg beslis harde werk, maar ook geesdrif oor jou studies om as ’n toppresteerder koning te kraai. Twee entoesiastiese Afrikaans-studente is vanjaar tydens die prysuitdeling van die Universiteit van Pretoria (UP) se departement Afrikaans beloon vir hulle uitstaande prestasie as toppresteerders in Afrikaans. Die ATKV borg jaarliks pryse vir hierdie geleentheid.
Ariana Eybers is besig met haar BA Tale-graad aan die UP en is tans in haar tweede jaar. Ariana gesels entoesiasties oor Afrikaans en verklap dat sy in 2017 die ATKV se Afrikaanse Olimpiade gewen het. Reeds op laerskoolvlak het die Laerskool Constantiapark haar uitgesonder om deel te neem aan ’n kompetisie wat die Hoërskool Menlopark aangebied het en Ariana is as die leier van haar graad aangewys, juis vir Afrikaans. Sy het ook op skool entoesiasties aan die ATKV se redenaarskompetisies deelgeneem. In graad 9 het sy begin poësie skryf en haar Afrikaans-onderwyser aan die Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria, me. Danielle Heyns, het haar aangemoedig om vol te hou daarmee, aangesien sy beslis talent het. Tydens die Poort-poësiekompetisie is van haar gedigte ook gepubliseer. Toe sy dus aan die einde van haar skoolloopbaan moes besluit op ’n studierigting, kon dit nie anders nie: sy wou baie graag BA Tale studeer.
“Die tema van my redenaarstoespraak in Graad 11 was ‘Afrikaans moet bly’. Daarmee het ek my liefde vir Afrikaans aan die wêreld uitbasuin. Eintlik is ek lief vir alle tale en vyf van my ses modules is tans tale: Afrikaans, Frans – my tweede groot liefde – Hebreeus en Grieks en Nederlands.
“Dit was ’n heerlike verrassing toe ek die uitnodiging na die prysuitdelingseremonie ontvang het. Al wat ek in my eerste jaar wou regkry, was om hard te werk om my groot liefde, tale en veral Afrikaans, so goed as moontlik te bemeester. Die ATKV-prys wat ek ontvang het, was beslis vir my ’n bevestiging dat dit waarmee ek tans besig is, die regte pad is. Dit is ook heerlike motivering en die mooi sertifikaat wat saam met die prys gekom het, gaan beslis geraam word en ’n ereplek teen my kamermuur kry. Ek was nog altyd entoesiasties oor die ATKV, en nou meer as ooit. Wanneer die ATKV êrens betrokke is, wil ek ook betrokke wees,” sê Ariana.
Sy hoop om ná die voltooiing van haar graad ook voort te gaan met nagraadse studies in Afrikaans, want sy wil baie graag eendag ’n loopbaan uitkerf waarin sy haar taalstudies kan gebruik.
Die toppresteerder in die UP se Afrikaans-honneursklas vir 2022 is Natasha Labuschagne. Natasha het in 2017 aan die Hoërskool Warmbad matrikuleer. Die grondslag van haar liefde vir Afrikaans lê beslis by haar oupa, Albertus Matthee, wat in 2021 oorlede is. Hy was ontsettend lief vir Afrikaans en het hulle altyd aangemoedig om hul taal mooi suiwer te hou. Oupa Albertus het ook altyd die oulikste sêgoed gehad en Natasha is vandag dankbaar oor die invloed wat hy gehad het op haar. In graad 10 het sy besef dat ’n mens maklik jou emosies op papier kan neerpen en haar onderwysers was mal oor die bespiegelende opstelle wat sy geskryf het. Sy het eers gewik en geweeg oor wat om te studeer, want dalk sou ’n meer wetenskaplike graad beter wees, maar vandag is sy dankbaar dat haar keuse BA Tale was.
“My voorgraadse studies en my honneursjaar was besonder lekker gewees. Die Afrikaanse modules, die literatuur en die dosente se passie het my teruggevat na die liefde vir Afrikaans wat ek in graad 10 ontwikkel het. Die historiese taalkunde was ook besonder interessant en soveel van my persoonlikheid, van wie ek is en waarvan ek hou, lê in my studies in tale. Ek was nog altyd besonder lief vir Afrikaans en ek glo ons moet seker maak daar is ’n plek vir Afrikaans in ons samelewing. Die verantwoordelikheid daarvan lê by ons geslag,” sê Natasha.
Haar honneursskripsie was ’n bondige ondersoek na die taaltegnologiese toepassings wat vir Afrikaans bestaan. Tans werk sy as ’n taalpraktisyn en kopieskrywer vir die maatskappy Tripco, wat LekkeSlaap.co.za bestuur. Dit is ’n beroep wat sy terdeë geniet, maar tog wil sy graag vorentoe haar meestersgraad in Afrikaans doen.
“Ek het vroeg in my lewe geleer dat dit belangrik is om hard te werk sodat jy die dinge wat jy graag wil hê, kan bereik. Niks val immers sommer net so in jou skoot nie. Die ATKV-prys wat ek ontvang het, was vir my ’n wonderlike bevestiging dat ek die regte keuse gemaak het. Al die ure se harde werk is beslis beloon.
“Dit is ook besonder lekker om te weet dat die ATKV soveel tyd en moeite en geld inploeg om erkenning aan studente te gee en só seker te maak dat Afrikaans ’n plek in die samelewing het. Sonder die ATKV sou Afrikaans veel armer gewees het,” sê Natasha.