ATKV bied geleentheid vir jong leiers

’n Wenresep vir leierskap wat werklik werk. Dit klink belowend, of hoe?
Indien jy in 2026 ’n leier by jou skool is, is daar een geleentheid wat jy eenvoudig nie kan misloop nie: die ATKV-Jeugleiersimposiums wat vanaf 1 tot 4 Desember 2025 by ATKV-Buffelspoort en vanaf 8 tot 11 Desember by ATKV-Goudini Spa aangebied word.
Volgens Ewaldt Scholtz, die ATKV-projekorganiseerder wat hierdie transformerende geleentheid fasiliteer, is die ATKV-Jeugleiersimposium ’n “byeenkoms vir al die nuutste leiers van die land en ’n plek waar hulle byeen kan kom en voorberei kan word om hul nuwe rolle met selfvertroue en as ingeligte leiers aan te pak.”
Ewaldt verduidelik wie die teikengroep vir die simposiums is.
“Die simposiums is oop vir alle nuutverkose graad 11-leiers van skole vir die volgende jaar, ongeag watter skool of provinsie – selfs Namibiese skole word ingesluit. Dit maak die geleentheid werklik inklusief en verteenwoordigend van die diverse leierskap wat ons kontinent nodig het.”
Volgens Ewaldt is daar ’n paar aspekte wat hierdie simposium so uniek maak.
“’n Unieke kenmerk van die Jeugleiersimposium is dat jy eenvoudige, maar baie waardevolle wenke leer wat jy elke dag kan gebruik,” verduidelik Ewaldt.
“Die program fokus op praktiese toepassings eerder as teoretiese konsepte. Dit beteken jy stap weg met gereedskap wat onmiddellik ’n verskil in jou leierskapstyl kan maak.
“Die program konsentreer op kernbeginsels om werklike leierskapeienskappe te ontwikkel, met ’n fokus op spanwerk en samewerkende leierskap, kommunikasievaardighede wat werklik deurdring en konflikhantering in uitdagende situasies.”
“Die simposium maak van topklas-gassprekers gebruik wat absolute kenners in hul velde is. Hierdie sprekers praat oor onderwerpe wat relevant is tot hedendaagse leierskap en help deelnemers om die beste vaardighede te ontwikkel wat hulle as transformerende leiers sal onderskei.”
Meer as net vaardighede – ’n netwerk vir die toekoms
Ewaldt sê een van die grootste voordele verbonde aan die simposium is die geleentheid om ander leiers van verskillende skole te ontmoet.
“Hierdie netwerkgeleenthede skep lewenslange verbindings en bied ’n platform waar jong leiers idees kan deel en by mekaar kan leer,” sê hy.
Ewaldt lê klem op die blywende impak wat deelnemers uit die simposium kan put.
“Skoolleiers stap hier weg en besef dat hulle die nodige eienskappe het wat hulle kan help om in hul klein omgewings ’n reusebydrae te lewer en ’n beter samelewing te bou,” sê hy.
Die sleutelboodskap van die simposium is duidelik: Vandag se jeugleiers. Môre se verskilmakers.
Ewaldt praat verder van visionêre leierskap vir ’n nuwe era.
“Leierskap is aksie,” beklemtoon hy, “en by die Jeugleiersimposium leer ons jou hoe om ’n visionêre leier te wees, iemand wat paaie kan sien en vir ander paaie kan baan.”
Die program leer deelnemers ook die volgende: hoe om as ’n leier diensbaar te wees, hoe om toegewyd te bly aan dit wat gedoen moet word, en hoe om volhoubare leierskapstyle te ontwikkel.
“Alles by die Jeugleiersimposium loop oor van energie en drup van potensiaal. As jy kyk na die jeugleiers wat daar wegstap, weet jy die wêreld is in goeie hande. Hulle is die room van die oes,” sluit Ewaldt af.
Jou geleentheid wag. Die ATKV-Jeugleiersimposiums bied meer as net ’n leierskapskursus – dit bied ’n transformerende ervaring wat jong leiers toerus om die uitdagings van 2026 en daarna met vertroue en vaardigheid aan te pak.
As jy in 2026 ’n leier by jou skool gaan wees, kan jy hierdie geleentheid eenvoudig nie misloop nie.
Die deelnemersgids is hier beskikbaar. Klik hier vir die inskrywingsvorm en die vrywaringsvorm.
Kontak gerus vir Ewaldt Scholtz per e-pos by EwaldtS@atkv.org.za of telefonies by 011 919 9023 vir meer inligting.