ATKV-Boomfees plant saadjie van bewusmaking
Boomfees 2022 is nie sommer enige fees nie – dit vier die lewe, groei en volhoubaarheid. Volgens Magon Mouton, streekbestuurder: takke, is die Boomfees, in samewerking met die Khuthazastigting, ’n omgewingsinisiatief wat werk om ’n kultuur van bome plant in gemeenskappe, skole en openbare plekke te versprei, om kwessies van honger, besoedeling en volhoubaarheid aan te spreek en om omgewingsbewaring te bevorder. Die Boomfees vind van 24 tot 29 Oktober in vyf dorpe plaas en die doel is om vanjaar 1 500 bome te plant. Bome word in Springs, die Vaaldriehoek, Randfontein, Thabazimbi en by die ATKV-Buffelspoort geplant.
“Stap by jou voordeur uit en ek waarborg dat jy nie ver van ’n boom af sal wees nie. Van denne- en eike- tot akasia- en jakarandabome, word ons omring deur ’n groot verskeidenheid – en hoewel hulle almal mooi en wonderlik is om na te kyk, strek hul belangrikheid veel verder as skoonheid. Die waarde en doel van bome is enorm en hulle bestaan is noodsaaklik vir ons oorlewing,” sê Magon.
As die grootste plante op die planeet gee bome ons suurstof, vang koolstofdioksied vas, stabiliseer die grond en gee lewe aan die wêreld se wild. Hulle voorsien ook die materiaal wat ons gebruik vir gereedskap en bied selfs skuiling en behuising.
Magon sê, “Nie net is bome noodsaaklik vir lewe nie, maar as die spesies op aarde wat die langste lewe, dien hulle ook as ’n skakel tussen die verlede, hede en die toekoms. Die ATKV se Boomfees gaan dus oor bewusmaking rondom die belangrikheid van bome en die nodigheid om aandag te gee aan ons onmiddellike omgewingsbehoeftes.”
Magon se passie vir bome plant het begin toe sy saam met haar ma en redenaarsjuffrou in 2009 op pad was na die nasionale ATKV-Redenaarsfinaal in Bloemfontein. Sy vertel, “Ons het deur Kuruman gery toe ek drie minderbevoorregte mense sien wat die vrugte eet van ’n lemoenboom oorkant die vulstasie op die sypaadjie. Ek onthou ek het gedink, ‘mense wat nie geld het nie moet ook ’n geleentheid kry om lekker te kan eet’. Ek vra toe my ma en juffrou hoekom die plaaslike munisipaliteit van Keimoes (waar ek grootgeword het) nie óók meer vrugtebome in die strate en op die sypaadjies plant nie, sodat mense gratis vrugte kan eet wanneer hulle honger is.
“Die volgende week het ek tien lemoenbome in my straat geplant en briewe aan al my ma se vriende geskryf om donasies te vra sodat ek meer bome kan aankoop en plant. Hoekom my ma se vriende vra? Want grootmense het geld vir baie dinge, terwyl ek en my pelle se geldjies reeds geoormerk was vir die snacks.”
“Intussen het die munisipaliteit my ma ingelig dat ek nie vrugtebome in die strate kan plant nie, met verwysing na die wet wat dit verbied. Ek het egter ’n ambisie en ’n passie gehad om bome te plant en wou hierdie kultuur aan alle mense in my dorp versprei.”
Toe Magon in 2021 ’n vennootskap met die Khuthazastigting sluit, was die doelwit om elke jaar soveel as moontlik bome in gemeenskappe te plant, sodat die kultuur van doen en omgee vir mekaar ’n ingesteldheid kan raak.
Die Verenigde Nasies se 17 volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (VOD’s) is die mensdom se mees ambisieuse plan vir ’n beter wêreld. In September 2015 het 193 lande ooreengekom oor hierdie 17 doelwitte, en 169 subdoelwitte is by die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering vasgemaak. Aangesien die doelwitte teen 2030 bereik moet word, word dit ook die 2030-agenda genoem.
Magon sê, “Die VOD’s verskaf wêreldwyd leiding vir die aanspreek van globale uitdagings wat die internasionale gemeenskap in die gesig staar. Dit gaan oor die beskerming van die natuurlike fondamente van lewe en ons planeet oral en vir almal, en die behoud van mense se geleenthede om in waardigheid en voorspoed oor geslagte heen te lewe. Die 17 doelwitte dek al drie areas van volhoubare ontwikkeling: ekologies, ekonomies en sosiaal.
“As ’n verantwoordelike burgerlike organisasie wat in die kulturele en kreatiewe industrie van Suid-Afrika funksioneer, is dit vir die ATKV belangrik om toonaangewende projekte en inisiatiewe aan te pak wat ’n blywende nalatenskap sal skep waarop toekomstige geslagte kan voortbou.”