ATKV-Bôrdienghuisteater dink in Afrikaans op Erfenisdag
Terwyl Suid-Afrikaners op Erfenisdag (24 September) om braaivleisvure gekuier het, was die ATKV-Bôrdienghuis by die Breytenbach-sentrum in Wellington stampvol taalgeesdriftiges en woordkunstenaars.
Die goue draad was Afrikaans. Sowat 80 gaste het byeengekom om na ’n gesprek rondom die tema “Hoe leef jy jóú Afrikaans?” te luister en oor hul eie komvandaan na te dink.
Hierdie diskoers val nie net saam met die viering van Erfenisdag nie, maar dit haak aan by die ATKV se onlangse verbintenis, naamborgskap en finansiële ondersteuning vir drie jaar aan die Breytenbach-sentrum.
“Dis baie gepas om op ’n dag soos vandag die erfenis, die geskiedenis en ontstaansgeskiedenis en verhale te kan deel. Ek hoop die inisiatief van die Breytenbach-sentrum en die ATKV sal van krag tot krag gaan vir ons Afrikaanssprekende gemeenskap in die Wes-Kaap,” het Sonél Brits, besturende direkteur: ATKV-MSW, gesê.
Volgens Louis Duvenage, voorsitter van die Breytenbach Sentrum Maatskappy, is ’n naamborg eintlik ’n samewerkingsooreenkoms.
“Dis ’n voorreg om geassosieer te word met die ATKV. Die Breytenbach-sentrum is ’n klein vissie en die ATKV ’n dolfyn. Dis vir ons belangrik om onafhanklik te bly, maar saam te werk.
Hy het bygevoeg: “Al wat ek sê, wie wat ook al sê, waar ook al, by die ATKV-Bôrdienghuis by die Breytenbach-sentrum sal ons Afrikaans praat. Wat die borgskap betref, sit dit ons in die posisie om te beplan en te begroot. Ons het ’n skryfskool, ’n aktiewe boekklub, skryfkursusse, ’n voorleesgroep in die grondslagfase by plaaslike skole en ander projekte op klein skaal. Sedert die Covid-19-pandemie kon ons nie meer ’n uitvoerende bestuur bekostig nie, nou kan ons weer begroot en beplan. Dit sit ons in die posisie om te droom,” het Duvenage gesê.
Die paneel is gelei deur dr. Lindie Koorts, historikus en biograaf verbonde aan die Universiteit van Pretoria. Die diskoersverhoog het bestaan uit prominente deelnemers. Emeritus professor Hein Willemse, verbonde aan die departement Afrikaans en Nederlands by die Universiteit van Pretoria en dr. Amanda Swart, verbonde aan die departement onderwys en sosiale wetenskappe by CPUT in Wellington het saam met die jongste deelnemer Mpumi Rakhudu, ’n matriekleerder by die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria, oor hul pad met Afrikaans gesels. Mpumi het onlangs talle harte aangeraak met sy toespraak tydens die nasionale finaal van die ATKV-Redenaarskompetisie. Sy toespraak met die onderwerp, “Afrikaans, my geheime wapen in die bokskryt van die lewe”, is reeds meer as ’n miljoen keer op die internet gekyk en derduisende kere op sosiale media gedeel.
Tydens die gesprek het Koorts gesê Afrikaans is ons lewende erfenis – dit wat nie tasbaar is nie, maar ons beleef dit daagliks.
“Daar is soveel verskillende maniere om Afrikaans te leef en om Afrikaans te beleef, ek dink nie een mens in hierdie vertrek het dieselfde storie as die ander een nie.” het Koorts gesê.
Die diskoers het grootliks gehandel oor die sprekers se komvandaan en hoe hul omgewings ’n rol gespeel het in hul ervaring van Afrikaans en hoe dit hulle toekoms geslyp het.
Die soeklig het ook geval op meertaligheid en die bevraagtekening van die aanbod van Afrikaans binne die vroeër nasionalistiese konteks. Daar is gekyk na die werklike inklusiewe geskiedenis wat veel ouer is as 100 jaar en die wyer, inklusiewe narratief rondom Afrikaans.
“Min mense is braaf genoeg om te sê dat die Afrikaanse letterkunde gebou is op die inheemse mondelingse tradisie. ’n Groot deel van die skywery het berus op die stories wat oorgeneem is,” het Willemse gesê.
“Die narratief van Afrikaans moet bevraagteken word,” het hy beklemtoon.
“Ons moet kyk na ’n verskeidenheid geskiedenisse van Afrikaans. Die dominante narratief het die ander narratiewe onderdruk. Dié vertel van een storie, dit word die storie van Afrikaans. Die een storie is gewoonlik die storie van die regerende party as die ‘enigste’ storie. In die proses word die ander onderdruk.”
Hierdie arrogansie van een groep lei tot “spanning in Afrikaans en maak dit armer,” het Willemse bygevoeg.
Die lewendige debat het die verskil tussen die noorde en die suide betreffende taal uitgewys, saam met uiteenlopende persepsies en ’n groter storie oor wát Afrikaans is, die meerderheid van Afrikaanssprekendes wat nie wit is nie, die taal van bevoorregting en onderdrukking, die konsep van suiwer Afrikaans en geleende woorde wat Afrikaans word, en die variëteite en wat beskou word as Standaardafrikaans.
Volgens Swart leef haar Afrikaans in die humor binne die alledaagse gesprekke met haar vriende en natuurlik in haar werk, waar sy kan sien hoe die studente vorder. “Ek sal aanhou om die taal te bevorder en Afrikaans te wees.”
Vir Willemse is dit die veelkantigheid van Afrikaans, die gedeelde geskiedenis, of die gevoel van die ervaring van vreugde waar sy Afrikaans leef.
“Ek kom uit ’n Setswana-huis. Ek is van jongs af blootgestel aan Afrikaans. Afrikaans was vir my iets natuurliks, dit was nie iets anders nie. Afrikaans het ’n baie persoonlike ding vir my geword. Afrikaans het ’n groot rol gespeel in wie ek nou is as ’n jong man. Ek sien ’n pad vorentoe met my Afrikaans,” sê Rakhudu.
“Dit was ’n baie lekker aand met ’n meelewende gehoor. Ek het gedink ons het wyd en breed oor Afrikaans gesels en ook gewys hoe gevarieerd Afrikaans en ons belewing daarvan is. Kom ons hoor hoe klink die verhale, kom ons vind wat ons met mekaar gemeen het en kom ons leer uit mekaar se ervarings,” het Koorts die aand se verrigtinge saamgevat.
“Afrikaans is nie net wat ons doen nie, maar wat ons leef,” het sy gesê.