ATKV bou jong miljoenêrs

Ons almal kan mos doen met ’n miljoen, en as dit van Albert van Wyk en die ATKV afhang, sal die meeste van Suid-Afrika se jeug een van die dae miljoenêrs word.
“Om jou eie besigheid te hê én winsgewend te wees, is baie makliker as wat mense dink,” sê Albert, ’n suksesvolle entrepreneur en selfgemaakte miljoenêr.
Met sy eie suksesverhaal en passie vir entrepreneurskap, inspireer Albert nou ook duisende jong entrepreneurs. In die TV-program Maak my ’n miljoenêr – wat deur die ATKV geborg word en tans op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai word – deel hy praktiese wenke en strategieë om finansiële onafhanklikheid te bereik.
In die program identifiseer Albert hoërskool-entrepreneurs wat hy kan mentor om hul finansiële drome te bewaarheid. Die top-20-entrepreneurs se vermoëns word getoets en die wenner stap met ’n kontantprys weg.
Albert sê is die program se doelstellings is tweeledig.
“In die eerste plek probeer ons bewusmaking oor entrepreneurskap onder ons jeug skep. Dit ís moontlik om jou eie besigheid te begin en jou eie toekoms te skep,” sê Albert.
Hy meen daar word nie in skole en in kinders se huise genoeg oor entrepreneurskap gepraat nie.
“Met die program identifiseer ons jong entrepreneurs in ons skole en hulle word gementor om moontlik miljoenêrs te word. Daar is soveel entrepreneurs in ons skole wat net ’n bietjie raad en leiding nodig het.”
Saam met die ATKV het Albert en sy span vanjaar 82 skole besoek en meer 93 000 leerders toegespreek.
Albert, wat al van ’n vroeë ouderdom eie inisiatief geneem het, kon homself op die ouderdom van 22 ’n miljoenêr noem en het deesdae onder meer ’n konstruksiemaatskappy en ’n media-agentskap.
Hy sê hy wens daar was iemand wat vir hom op skool die nodige leiding gegee het wat hy tans aan leerders bied.
“Daar was nie so iemand vir my nie – ek moes lesse op die harde manier leer deur my eie ervaring op te bou. Ek wil nou graag daardie entrepreneur wees wat jong entrepreneurs touwys maak en inspireer om finansiële onafhanklikheid te bereik.”
Albert sê hy is ook dankbaar vir die ondersteuning wat die ATKV bied.
“Sedert die ATKV betrokke geraak het, het ek net weer besef hoe baie die organisasie vir die jeug van Suid-Afrika omgee – nie net met die jeugprojekte wat hulle aanbied nie, maar ook met hul bydrae tot die Maak my ’n miljoenêr-projek.
“Dit is duidelik dat die ATKV passievol is oor ons jongmense en hulle graag wil bemagtig.”
Wat is sy raad aan jong entrepreneurs?
“Begin net. Begin boeke oor besigheid lees en bou kennis op. Neem dan aksie en pas toe wat jy geleer het. Jou besigheid sal groei uit die lesse wat jy langs die pad leer. Dit is eenvoudig – kennis en ervaring maak van jou ’n suksesvolle entrepreneur.”
Maak my ’n miljoenêr is elke Donderdag om 20:00 op VIA, kanaal 147 op DStv, te sien.