ATKV-Crescendo 2025: Finaliste bekend

Ná ’n week van wik en weeg is 22 finaliste aangewys uit vanjaar se inskrywings vir die ATKV-mentorskapprogram wat van 30 Maart tot 6 April in die Paarl gaan plaasvind.
Deelnemers kon hulle oorspronklike liedjies digitaal inskryf of persoonlike oudisies by ATKV-Crescendo se talentsoekers in die Tuinroete, Klein-Karoo, Weskus, Atlantis of Worcester doen. Vanjaar is daar ook vir die eerste keer oudisies in Namibië gehou, wat twee finaliste opgelewer het.
Radiopromotor en vervaardiger Gershwin Koen, wat saam met vorige Crescendo-finaliste Olga Leonard en Deon Meiring van Glaskas-faam die digitale inskrywings beoordeel het, vertel dat dit beslis nie ’n maklike taak was nie. “Daar is soveel talent daar buite – inspirerende liedjieskrywers, pragtige melodieë en die mooiste stemme.”
Deelnemers aan die mentorskapprogram is in alfabetiese volgorde soos volg:
Jo-Ann Albertus (32) van Wolseley, ’n menslikehulpbronbeampte wat jare lank aan verhoogvrees gely het.
- Feliciano Arendse (aka Linzi), 43, ’n musiekprodusent van Walvisbaai, wat geïnspireer word deur onder andere Michael Jackson, Steven Spielberg, Danny Elfman en Spoegwolf.
- Carmen Basson (26), musikale hustler van Kroonstad, wat haar dae verdeel tussen sang, musiekteater én ’n unieke boerdery … met varkies!
- Denryck Davids (aka Davy, die Drrrrrk), 26, van McGregor, ’n talentvolle kunstenaar en Breyten Breytenbach-aanhanger.
- Dalareese Davids (39) van Atlantis, werker in ’n chemiese aanleg, wat geïnspireer word deur Henoline Goedeman, Veronica Meyer, Die Lekker Crew en Pearl Adams, om maar net ’n paar te noem.
- Frederico Fortuin (25) van Oudtshoorn, ’n musikant wat ’n passie het om met kinders te werk.
- Laniëlle Hartzenberg (aka LanieXpressed), 37, van Kuilsrivier, ’n entrepreneur en besigheidstrateeg, wat geweldig geëerd voel om as praatdigter as finalis vir ’n musiekmentorskapprogram gekies te word.
- Jessica Hattingh (38), Nelspruit, ’n besigheidsvrou wat te sien is in ’n kinderproduksie met die naam Ronnie die renoster.
- Clive Horak (51) van Johannesburg, ’n navorser en ontwikkelaar vir ’n rubbermaatskappy, wat erken dat hy so ’n klein bietjie “maanmal” is.
- Ethan Jacobs (28), ’n verkoopsassistent van Atlantis, wat nie net musikaal is nie, maar ook as hip-hop-danser sy lyf kan wriemel dat die stof so staan.
- Clifford Jantjies (38) van Mosselbaai, ’n hospitaaldrywer wat deeltyds menslikehulpbronbestuur studeer.
- Jozua Joubert (aka Joubert), 41, ’n voltydse musikant van Nigel wat nie musiek kan lees nie, maar alles op gehoor doen.
- Angela Kotze (26) van Calitzdorp, ’n gastehuiseienaar en -bestuurder wat ’n hele bord nachos soos blits kan verorber.
- Salvador Mouers (31) van Walvisbaai, ’n stoorman wat ook ’n groot diereliefhebber is.
- Phillip Murray (40) van Benoni, ’n onderwyser wat al om die hele aardbol gereis en 22 lande besoek het.
- Tamryn Paulse (31) van Wellington, ’n pastoor met ’n passie vir musiek en hoe dit mense se harte raak.
- Mark Pekeur (21) van die Paarl, ’n dramastudent wat sy storie deur musiek en teater vertel.
- Krisché Plaatjies (19) van Atlantis, ’n musikant wat in haar vrye tyd karate doen en netbal vir die Jaguars-netbalklub speel.
- Felécia Pretorius (37) van Lydenburg, ’n fotograaf en sangeres, met ’n missie om deur haar musiek hoop te saai.
- Lizl Simoes (23) van Pretoria, ’n klavierjuffrou wat besig is met ’n meestersgraad in musiek.
- Carlo Theunissen (33) van Mosselbaai, ’n sekuriteitsbeampte met ’n groot glimlag en ’n nóg groter liefde vir musiek.
- Vincent van As Jnr. (aka Vanas Rain), 39, ’n kreatiewe siel en sentrumbestuurder van Centurion, wat op die outismespektrum is en emosies die diepste deur musiek beleef.
Die mentorskapprogram bestaan uit ses dae se intensiewe opleiding deur van die grootste name in die Afrikaanse musiekbedryf. Daar word nie net musikale mentorskap in die vorm van melodie- en liriekontwikkeling gegee nie, maar deelnemers word ook touwys gemaak in onder andere handelsmerkontwikkeling, bemarking en entrepreneurskap.
Gershwin Koen se kursus bevat byvoorbeeld praktiese wenke oor hoe om ’n liedjie te skryf wat geskik is vir radio, want, soos hy verduidelik, “’n liedjie kan miskien vir jou goed wees, maar dit beteken nie noodwendig dat dit gaan werk vir radio nie”. Deon Meiring, wat ook ’n mentor in vanjaar se program gaan wees, vertel dat hy dit geweldig geniet om met mense te werk wat nou net met hulle musikale reis begin.
“Vir my wat nou al baie jare liedjies skryf, is dit verfrissend om te sien hoe ’n wêreld van kreatiwiteit met die regte leiding vir die finaliste oopgaan. Dit neem my terug na daardie magiese tyd toe ek as skoolkind my liedjieskryfvermoë ontdek het.”
“ATKV-Crescendo is nie ’n talentkompetisie nie,” verduidelik projekorganiseerder Morné van Staden die projek se benadering. “Ons filosofie is dat talent nie gegee is om teen mekaar te kompeteer nie, maar eerder om mekaar op te bou en te versterk. Die inhoud van die program is spesifiek daarop gemik om finaliste met die nodige kennis, vakmanskap, ingesteldheid en integriteit toe te rus sodat hulle hul musiekloopbaan sommer van die begin af suksesvol kan afskop. Verder poog ons natuurlik om kwaliteit-liedjieskrywers op te lewer wat die diversiteit van die Afrikaanse musiekbedryf verteenwoordig.”
Van Staden vertel verder hoe opgewonde hy is oor die gehalte van inskrywings wat ontvang is. “Dit is ook verblydend om te sien hoe divers die inskrywings was, en hoe mense met verskillende ouderdomme en beroepe regoor Suid-Afrika en Namibië gebruik gemaak het van die geleentheid om in te skryf. Ek sien baie uit na die mentorweek – om mense te sien groei, en hul vreugde en blydskap te deel tydens die konsert aan die einde van die program.”
As deel van die week moet deelnemers soms opdragte voltooi soos om binne ’n uur hulle eie liedjies te skryf. Musikant en mentor Petronel Baard verseker dat die mentorskapprogram ’n veilige omgewing is om sulke kreatiewe uitdagings aan te pak. “Almal kry dieselfde uitdagings. Jy is nie alleen nie. Die hele proses is daarop gemik om al die skakerings van die deelnemers se kunstenaarskap te ontgin en in ’n rigting te lei wat hulle musiek en loopbaan net kan baat. Dit gaan eerste oor die mens en dan die musiek.”
Aan die einde van die week is daar ’n afsluitingskonsert waar finaliste ’n kans kry om hulle oorspronklike liedjie met die ATKV-Crescendo-orkes uit te voer. Uit hierdie 23 deelnemers word daar uiteindelik ’n paar finaliste gekies wat deur die res van 2025 nog mentorskapprogramme gaan bywoon en die geleentheid kry om in ATKV-Crescendo-produksies op te tree. Van hierdie finaliste kry ook die kans om liedjies, albums en musiekvideo’s op te neem.
Inskrywings vir 2026 se mentorskapprogram is reeds oop en deelnemers het tot 31 Desember 2025 kans om hulle oorspronklike liedjie in te skryf. Vir beoordelaar Olga Leonard was dit belangrik dat deelnemers reeds ’n begrip het van die komponente van ’n liedjie. “As die inskrywing struktuur, ’n idee van akkoordprogressie en goeie lirieke het, het dit my stem gekry. Dit hoef nie perfek te wees nie, want dit is mos waarvoor die mentorskapprogram daar is. Ek wil mense aanmoedig om die kans te waag om in te skryf. Dit het my lewe verander. Dieselfde kan vir jou gebeur.”
SÓ SKRYF JY IN
- Digitale inskrywings is 365 dae, 24 uur, 7 dae ’n week oop. Belangstellendes het tot 12:00, 31 Desember 2025 tyd om vir ATKV-Crescendo 2026 in te skryf. Besoek https://www.crescendo.org.za/ om jou oorspronklike liedjie te laai.
- Oudisies kan ook in persoon gedoen word deur die volgende persone te kontak:
- Expression Sessions in Worcester elke laaste Donderdag van ’n maand. Kontak Robin Fourie by robindf9@gmail.com.
- Expression Sessions in Kuilsrivier elke laaste Sondag van ’n maand. Kontak Jerome Rex by info@jeromerex.co.za.
- Keuring vir deelnemers aan die Weskus word behartig deur William Jacobs, wat by williamjr.1@hotmail.com gekontak kan word.
- Petronel Baard hou oudisies in die Tuinroete-omgewing. Sy kan gekontak word by petronel.baard@gmail.com.