ATKV-Crescendo 2026: Jou tyd is nou!
Met nog net twee maande oor, word aspirantliedjieskrywers aangemoedig om hul oorspronklike liedjie in te skryf vir oorweging vir deelname aan die ATKV-Crescendo-mentorskapprogram in 2026. Om voornemende deelnemers by te staan, word ’n aantal gratis liedjieskryfwerkswinkels regoor die land aangebied.
“Jy kry soms net een kans. As jy by die huis sit en dink jy is nie goed genoeg nie, gaan jy nie goed genoeg wees nie. Kom uit jou kamer uit, uit jou kar of stort, of waar ook al jy sing. Jy weet nooit of daai spesifieke tyd die regte tyd vir jou is nie. As jy ’n liedjie het, ’n song het of woorde het, skryf in. Wie weet – dis dalk jou tyd.”
Sanger en televisieaanbieder, Brandon October, weet waarvan hy praat. Nie net was hy die naaswenner in die eerste Suid-Afrikaanse Idols-kompetisie nie, maar ook ’n beoordelaar op die realiteitstelevisiereeks Ons soek die sanger. Boonop gaan hy tydens die 2026-mentorskapprogram ’n mentor wees.
Inskrywings om deel te wees van hierdie unieke mentorskapprogram in Maart/April 2026 in die Paarl sluit op 31 Desember 2025. Tien voornemende kunstenaars gaan gekies word om saam met ander musikante met dieselfde passie vir musiek en lirieke hierdie program by te woon, waar groot name in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf hulle gaan touwys maak om ’n volhoubare loopbaan van musiek te maak. Die onderwerpe wat aangebied word, wissel van die kuns van goeie lirieke tot hoe om musiek te skryf wat deur radiostasies gespeel gaan word, hoe om kaartjiepryse te bepaal en hoe sosialemediabemarking werk.
Jacques de Villiers van Joshua na die Reën stel dit pragtig: “Crescendo gee nie net vlerke aan kunstenaars se drome nie, maar is ook die vlerke van ondersteuning waarmee kunstenaars leer om te vlieg. As jy iemand is wat self musiek skryf en jy wil die plek in jou hart vind waar jy iets kan skryf wat gehoor word, is Crescendo die kanaal vir jou om jou hart uit te stort voor mense wat in-diepte luister.”
Die bekkige radio- en televisie-aanbieder, Lyntjie Jaars, noem haarself tereg ’n “Crescendo groupie”: “Crescendo se slagspreuk is ‘waar legendes gebore word’. Jy kan nie jou besigheid of talent in jou laaikas of iewers wegsteek nie. Hierdie mense vat jou droom en hulle ontgin dit. As jy dalk gedink het dat jy iets kan maak van jou musiek of dat jou woorde iets beteken, sê ek vir jou: ‘Miskien is verby. Jóú tyd is nou.’”
’n Voormalige finalis en mentor, Whaden Johannes, meld dat Crescendo al die goue status van 50 jaar bereik het en dat dit nog vorentoe gaan.
“Glo in jouself en maak jouself oop vir die mentors, want hulle gaan jou laat jou groei. Crescendo vat jou egalig vorentoe om lank in die industrie te wees.”
Op die “aanhou beweeg en geraas maak”-noot sê radiopromotor, Gershwin Koen, dat dié mentorskapprogram nie net ’n plek is waar jy ongelooflike persoonlike groei ervaar en netwerke opbou nie, maar ook ’n platform om jou oorspronklike musiek te kan skep en slyp tydens werkswinkels met die kans om dit op te neem vir radio, televisie en gehore.
“Die talent wat uit hierdie mentorskapprogram gekom het, het die ATKV genoop om ATKV-Crescendo-produksies te begin, wat nuwe produksies op die planke bring en finaliste help om hulle liedjies, albums en musiekvideo’s vry te stel,” vertel projekorganiseerder, Morné van Staden.
“Hierdie produkte kan op aanlyn platforms soos YouTube gesien word en liedjies word op radiostasies en stroomplatforms soos Apple Music, YouTube Music, Spotify, Amazon Music en Deezer vrygestel. Op hierdie manier voorsien ATKV-Crescendo ’n konstante vloei van nuwe stemme, kunstenaars en liedjies aan die Afrikaanse musiekindustrie.”
Besonderhede van die liedjieskryfwerkswinkels:
- Stellenbosch op 8 November by Gebou 2, The Vineyard-besigheidspark, Devon Valleylaan, Stellenbosch om 09:00 (registrasie begin reeds 08:30). Aangebied deur Brandon October, Whaden Johannes en Gracia Louw.
- Mosselbaai op 15 November by The Townhouse, Marketstraat 3, Mosselbaai om 09:00 (registrasie begin reeds 08:30). Aangebied deur Petronel Baard, Whaden Johannes en Hakkiesdraad Hartman.
- Fisantekraal op 22 November by The Father’s Heart, Milkwoodstraat, Greenville, Fisantekraal om 09:00 (registrasie begin reeds 08:30). Aangebied deur Jitsvinger, Deon Meiring van Glaskas en Olga Leonard.
Besoek crescendo.co.za om vir dié gratis werkswinkel te bespreek.
Kunstenaars hoef nie ’n werkswinkel by te woon om in te skryf nie. Deur www.crescendo.org.za te besoek, kan liedjies ook digitaal ingeskryf word.
Vat ’n kans en skryf in! Dit is tyd dat jy jóú liedjie in die taal van jóú hart deel.