ATKV-Crescendo: Die goue stemme van môre

Maak ’n knoop in jou oor, want op 4 Oktober 2025 moet jy gereed wees om ATKV-Crescendo: GOUD by die Daisy Jones-teater buite Stellenbosch by te woon!
Tydens hierdie produksie gaan Crescendo-legende, Petronel Baard, en die The Voice South Africa-wenner, Craig Lucas, saamspan om vier talentvolle kunstenaars wat die ATKV se musikale mentorskapprogram in 2025 opgelewer het aan Suid-Afrika bekend te stel.
Whaden Johannes, opnamekunstenaar van ATKV-Crescendo, is die regisseur en vervaardiger van hierdie produksie.
“Ek wil nie te veel weggee nie, maar die gehoor kan hulle gereed maak vir iets anders. Al hierdie kunstenaars gaan iets uniek na die verhoog bring.”
Vir Whaden gaan Crescendo nie net oor nuwe musiek nie.
“Dit gaan ook oor fakkeldraers – kunstenaars wat die nalatenskap van Crescendo in hul eie reg oordra.”
“Die vertoning is ’n bietjie retro,” verklap Whaden wel. “Verlede jaar het Crescendo ’n halfeeu van talentontginning en -ontwikkeling gevier. Met hierdie vertoning wil ons die spreekwoordelike fakkel aan die nuwe generasie oorgee.”
Voormalige Crescendo-wenner in die tyd toe die projek nog ’n kompetisie was, Petronel Baard, meen dat dit visioenêr is om vir Craig deel van hierdie opwindende vertoning te maak.
“Dit sluit aan by ATKV-Crescendo se visie dat talent nie gegee is om teen mekaar te kompeteer nie, maar eerder om mekaar te verryk en te komplementeer. Sodoende vind kruisbestuiwing en blootstelling vir beide platforms plaas.”
Die projekkoördineerder van ATKV-Crescendo, Morné van Staden, is daarvan oortuig dat GOUD beloof om ’n trefferproduksie uit die Crescendo-produksiehuis te wees.
“Ek kan nie wag om hierdie vier kunstenaars aan die wêreld bekend te stel nie. Hulle gaan beslis nog diep spore in die Afrikaanse musiekbedryf trap. Hou hulle dop, is al wat ek kan sê.”
Die vier kunstenaars wat op 4 Oktober 2025 deur Petronel Baard, Craig Lucas en die merkwaardige Crescendo-orkes onder leiding van William Jacobs aan Suid-Afrika bekendgestel gaan word, is:
- Lizl Simoes, ’n klavierjuffrou, meestersgraadstudent, liedjieskrywer en sanger van Pretoria.
- Mark Pekeur, ’n Paarliet wat aan die Musical Theatre Masterclass studeer.
- Salvador Mouers, ’n hiphop- en R&B-kunstenaar al die pad uit Windhoek, Namibië.
- Tamryn Paulse, ’n pastoor en ma van drie van die Paarl.
Produksiebesonderhede:
- Plek: Daisy Jones-teater, Stellenbosch
- Datum: 4 Oktober 2025
- Tyd: Die deure open om 18:00 en die vertoning begin om 19:00.
- Kaartjies: R150 per persoon, beskikbaar op Quicket.