ATKV-Crescendo gee vlerke aan nuwe stemme

Ná ’n week van opleiding deur van die bestes van die Suid-Afrikaanse musiekindustrie is die ATKV-Crescendo-musiekmentorskapprogram van 2025 tydens die ATKV-Crescendo GOUD-produksie afgesluit.
Daar is iets onbeskryfbaar dapper aan ’n kunstenaar wat sy of haar eie musiek skryf en aan die wêreld openbaar. Dit is soveel meer as woorde wat rym of melodieë wat harmoniseer – dit is ’n hartoopmaaksessie vir vreemdelinge om te maak of breek soos hulle wil.
Op 4 Oktober steek Salvador Mouers, Tamryn Paulse, Mark Pekeur en Lizl Simoes hulle vrese in hulle sak en ontbloot hulle siel aan die publiek. Darem nie alleen nie, maar in die gerusstellende teenwoordigheid van die briljante Crescendo-orkes, voormalige Crescendo-wenner, Petronel Baard, en The Voice South Africa-wenner, Craig Lucas.
Alhoewel verskillende genres, deel die nuutskeppinge van al die kunstenaars eienskappe van unieke outentiekheid wat op ’n meesterlike wyse deur regisseur Whaden Johannes met treffers soos “Lyfie”, “Timbuktu” en “Voshaarnooi” saamgestel en op ’n meesterlike voorsienigheid deur William Jacobs musikaal bymekaargevoeg is.
Benewens afronding aan hulle eie komposisies, is hulle deur die loop van die finale afrondingskool touwys gemaak in baie spesifieke aspekte van die vermaaklikheidsbedryf, onder andere die belangrikheid van publisiteit, die bepaling van kaartjiepryse, die kies en skryf van musiek vir die radio en die skep van ’n unieke kunstenaarsidentiteit.
Laasgenoemde was veral vir die kunstenaars van groot waarde.
“Wanneer jy gemaklik is met wie jy is, word jou musiek nie die kern van jou menswees nie, en dit is nie die einde van die wêreld as jy ’n fout op die verhoog maak nie,” vertel Lizl, ’n musiekstudent en -onderwyseres van Pretoria.
As ’n ma van drie beaam Tamryn dat dit soms moeilik is om getrou te bly aan wie jy is.
“Dit voel of ek met elke kind myself opnuut moet herontdek en herdefinieer. Ek wil deur my musiek graag aan mense toestemming gee om hulself te wees, eerlik te wees oor wie en wat hulle is. Nie bang te wees om hulself te wees nie.”
Salvador Mouers van Namibië moet homself so elke nou en dan nog knyp om seker te maak dat hy nie droom nie.
“Wat is die kanse dat hierdie outjie van Narraville, Walvisbaai deel van hierdie projek geword het? Ek wil hê my musiek moet die boodskap dra dat ’n mens se komvandaan nie die einde van jou reis beteken nie. Dit is juis die struikelblokke uit my verlede wat my die krag gee om aan ander hoop te bring.”
Mark Pekeur van die Paarl vertel dat hy by ATKV-Crescendo sy familie gevind het.
“Ek voel nie meer vreemd omdat ek nie soos die persoon langs my is nie. Ek het ’n uitlaatklep vir my emosies gekry. As ek kan verwoord wat iemand anders voel, het my musiek in hulle doel geslaag.”
So uniek soos hierdie kunstenaars se persoonlikhede, so divers is die genres waarin hulle skep.
“Die emosie op Tamryn, Lizl, Salvador en Mark se gesigte Saterdagaand sal my altyd bybly,” vertel Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van kultuur by die ATKV.
“Die entoesiasme waarmee elkeen hulle liedjie opgevoer het en die blink musiekloopbaan wat op elkeen van hulle wag, verseker my dat ATKV-Crescendo daarin slaag om die Afrikaanse musiekbedryf volhoubaar van nuwe stemme en kunstenaars te voorsien.”
Morné van Staden, projekkoördineerder van ATKV-Crescendo, vertel dat die vier opnamekunstenaars deur die week verskillende vervaardigers ontmoet het.
“Alhoewel daar aan elke musikant ’n begroting beskikbaar gemaak word, moet hulle self onderhandelings doen en die logistieke reëlings tref. Die Crescendo-familie is altyd daar vir raad en moed en ’n platform, maar die uiteindelike doel is om aan vier kunstenaars die vaardighede te gee om vanuit die staanspoor ’n suksesvolle musiekloopbaan te kan hê.
“Deur die loop van 2026 sal hierdie vier kunstenaars se albums in afsonderlike konserte vrygestel word. Ons is meer as opgewonde om hierdie vier mense met hulle unieke talent en klanke aan die wêreld te gee.”
Die volledige konsert word op 10 Oktober 2025 op ATKV-Crescendo se YouTube-kanaal uitgesaai.
Vir meer besonderhede oor ATKV-Crescendo of hoe om vir 2026 se mentorskapprogram in te skryf, gaan maak ’n draai by www.crescendo.org.za. Kontak gerus vir Marlize Leyden per e-pos by marlize.leyden@outlook.com of stuur ’n WhatsApp-boodskap na 067 883 0077 vir onderhoude of meer inligting.