ATKV-Crescendo in goud geset

Die temalied “My Crescendo”, met frases soos “jy was die ritme van my hart vol hoop”, was die kroonlied wat die onlangse 50-jarige viering van ATKV-Crescendo vir altyd in die harte en gedagtes van kunstenaars en ondersteuners ingeëts het.
Sowat 200 uitgesoekte gaste het die ATKV-opskopkonsert, Goud, in die Daisy Jones-teater by die Summerhill-landgoed in Stellenbosch bygewoon om 50 jaar van talentontdekking en -ontwikkeling te vier.
Die teater is die tuiste van Crescendo, waar drie platformsessies en die Sit dit aan-vertoning gehou is en waar daar met die Goud-konsert afgesluit is.
Goud was ’n viering der vieringe waar legendes soos die befaamde Karin Hougaard, Petronel Baard, Sarah Theron en Rouel Beukes (die eerste wenner van Crescendo) saam met meer onlangse legendes soos Selby Williams, Lucia Poggenpoel, Alzanley Lizemore en Marsha Bothma op die verhoog ’n kragtoer gelewer het. Hulle het hulde gebring aan besondere kunstenaars soos Anneli van Rooyen, Jak de Priester en Rina Hugo, wie se loopbane met Crescendo afgeskop het.
Ander ATKV-kunstenaars en -mentors waaraan legendariese liedjies opgedra is, is wyle Randall Wicomb, Jannie du Toit, Joe Niemand, Deon Meiring, Riana Nel, Whaden Johannes en Jodi Jantjies.
Die nostalgiese liedjiekeurspel het uit nagenoeg 35 musiekverwerkings bestaan, wat saamgestel is deur die geniale musiekregisseur William Jacobs en sy orkes, terwyl die talentvolle Robin-Dean Fourie kreatiewe leiding aan die kunstenaars verleen het. Dit was die perfekte kombinasie tussen ou en nuwe ATKV-Crescendo-wenners, met ou liedjies wat afgestof is en nuwer liedjies wat vlerke gekry het om nog hoër te vlieg.
Dit het amper soos oëverblindery gevoel om die legendariese Karin Hougaard met haar kragtige sololied, “Bly”, weer op die verhoog te sien. ’n Melodie van “Lui lui telefoon”, “Ek lewe” en “Drakensberge van verlange”, wat Karin saam met die divas Sarah Theron en Petronel Baard gesing het, het die nostalgie-koorspen laat styg.
Rouel, wat destyds die eerste wenner van Crescendo was, het die hartsnare geroer met verwerkings van “Gee my vrede”, “Dans met die rooi rok” en Gé Korsten se “Lied van die lewe”.
Volgens Rouel is hy dankbaar dat hy 50 jaar later nog kan vermaak. “Vyftig jaar gelede was die helfte hier nog nie gebore nie, en vandag is ek ’n ou man van 70 jaar.”
Die jonger talentvolle kunstenaar, Selby Williams, was ’n groot gehoorgunsteling met sy gekleurde sokkies wat vir ’n stofopskop op die verhoog gesorg het, veral met die ritmiese “Dans” van Riana Nel.
“Wat ’n voorreg om deel te wees van so ’n geskiedkundige geleentheid vir ATKV-Crescendo, en om te sien en ervaar watter impak die ATKV gemaak het. Dit was so ’n groot eer om saam met Rouel op te tree. Hierdie is ’n show wat ons sommer op die pad kan vat om mee te toer.
“Dis ongelooflik om met Petronel en Karin skouers te skuur, te hoor wat vir hulle gewerk het en hoe ons dit beter of anders kan benader, en hoe ons die beste kan doen met die geleenthede wat ons teëkom. Ek is ook so dankbaar dat ek Deon Meiring se “Deur die vallei”, wat deur wyle Helmut Meijer verwerk is, kon sing. Toe ek dit die eerste keer gehoor het, het ek geweet dit gaan ’n hit wees. Die liedjie is beautiful, dit loop soos soet stroop op die radio,” sê Selby.
Die projekkoördineerder van ATKV-Crescendo, Morné van Staden, is vol lof vir die briljantheid van Crescendo se musiekregisseur, William Jacobs, wat verwerkings van liedere doen wat nie net asemrowend is nie, maar ook die kunstenaars se stemme, persoonlikhede en fenomenale talent komplementeer.
“Wat lê in die toekoms voor? Die toekoms is die toekoms; ons gaan uit, ons soek. 2025 is die eerste jaar van die volgende 50 jaar, en ons gaan meer talent ontdek, ontgin en mooi nuwe Afrikaanse musiek maak, en ons gaan nóg produksies vervaardig, én albums – ons bou voort op die vorige 50 jaar se fondasie, en ons bou sterk mure daarop,” sê Morné.