ATKV-Crescendo ’n musiekskat vir almal

Vanaf die oorspronklike bestaan van ATKV-Crescendo het dit verskeie gedaanteverwisselinge ondergaan om vandag ’n musiekplatform te wees wat alle weergawes en variëteite van Afrikaans omarm. Nie net word met talente gewoeker om nuwe legendes te maak nie, maar die gevestigde legendes word ook gevier.
Tydens verlede jaar se Goud-konsert in die Daisy Jones-teater by die Summerhill-landgoed, het legendes soos Karin Hougaard, Petronel Baard, Rouel Beukes en Sarah Theron saam met opkomende kunstenaars Selby Williams, Lucia Poggenpoel, Alzanley Lizemore en Marsha Bothma op die verhoog ’n kragtoer gelewer.
Vorige ATKV-Crescendo-wenners en mentors is ook vereer. Ikoniese liedjies is aan legendes soos Rina Hugo, Jannie du Toit, Joe Niemand, Deon Meiring, Riana Nel, Jak de Priester, Whaden Johannes, Jodi Jantjies en wyle Randall Wicomb opgedra.
Deur die jare het Crescendo se formaat van die tradisionele kompetisie in ’n mentorskapprogram verander waar toekomstige sterre met raad en daad bygestaan word met betrekking tot hul reis in die musiekbedryf.
Die ATKV het met drie invloedryke persone gesels wat in hulle tyd deel daaraan gehad het om ATKV-Crescendo tot nuwe hoogtes te neem en dit tot die inklusiewe platform wat dit vandag is, te ontwikkel.
Volgens Morné van Staden, ATKV-Crescendo-projekbestuurder, was hy baie dankbaar toe Rudi Prinsloo, ATKV-Crescendo-projekbestuurder van 1977 tot 1982, die aand ná die Goud-konsert vir hom gesê het hy hou van die mure wat gebou is op die fondasies wat destyds gelê is.
“Dit beteken dat ons iets reg doen,” sê Morné.
Rudi Prinsloo het in 1977 by die ATKV aangesluit as senior projekorganiseerder.
“Ons het begin om die beeld van Crescendo na ’n nuwe vlak te neem. Waar dit eers net ’n kompetisie was, het ons dit as ontwikkeling en eietydse kompetisie begin bemark. ’n Groot dryfkrag was toe Sonja Heroldt, wat ses keer die Sarie-wenner was, gesê het ons kan meer talent in Suid-Afrika ontwikkel.
“Ons het Crescendo op ’n oudisie-basis gedoen in samewerking met die SAUK (Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie), wie se ateljees ons gebruik het. Ons het ook vir Bennie Bierman, hoof van musiek van die SAUK, ingespan om as reisende beoordelaar na oudisies te gaan,” vertel Rudi.
“Die SAUK se bydrae ten opsigte van verwerkings was uitstekend. Hulle het ook besluit om ATKV-Crescendo as ’n produksie aan te bied.
“Die kaartjies vir die optrede in die stadskouburg was omtrent elke jaar uitverkoop. Die mense het omtrént tou gestaan om kaartjies te kry. Hierdie projek het die ATKV baie sterker gemaak,” sê hy.
In 1982 het Rudi die ATKV verlaat en bestuurder van die nasionale simfonieorkes geword. Dawie Weyers het vir ’n paar jaar Crescendo se leisels oorgeneem en nuwe name soos Johan Badenhorst en Innes en Franna Benadé bekendgestel.
Japie Gouws, voormalige besturende direkteur van die ATKV, het van Mosselbaai gery om die Goud-konsert by te woon.
“Ons het destyds een van twee goed gedoen. Ons het Crescendo gehad, wat sterre soos Anneli van Rooyen, Rina Hugo en Randall Wicomb opgelewer het.
“Dan het ons ook die Ligteliedjiewerkskool gehad, waar enigeen kon inskryf om vir ’n week saam met bekendes soos Jannie du Toit, Johan Stemmet, Anneli van Rooyen, Christa Steyn en Lucas Maree te werk as deel van ’n mentorskapprogram.
“Nie almal kon dit bekostig om in te skryf nie. Daar was egter geen keuring om vas te stel of hulle potensiaal het nie,” sê Japie. “Toe sê ek vir Gerrie Lemmer, die ATKV se uitvoerende hoof van kultuur, ons moet dit verander. Dis toe dat die Ligteliedjiewerkskool met Crescendo saamgesmelt het.
“Ons het hier in die Kaap met oudisies begin, waar ons kunstenaars genooi het om liedjies te skryf en hulle potensiaal te wys. Hulle moes gekeur word en ’n kursus doen. Dis waar die nuwe jong musikante tot hulle reg gekom het. Dit was nie meer vir dié wie se pa’s baie geld het nie, maar vir diegene wat oor die potensiaal beskik.
“Dit het by die skryf van liedjies begin en daarna het die oudisies gevolg. So het alles amper in een jaar verander tot waar dit nou is, en dit was die regte besluit,” vertel Japie.
In 2006 is die formaat van Crescendo herverpak en as ATKV-CrescendoKreatief bekendgestel. Dit het toe net uit ’n liedjieslypskool bestaan. In 2016 begin Morné van Staden en Pedro Kruger toe weer ATKV-Crescendo.
“Ons het finaliste KKNK (Klein Karoo Nasionale Kunstefees) toe geneem en met optredes begin. Crescendo het weer begin groei,” vertel Morné.
“Ons het wegbeweeg van die idee van kompetisies en eerder ’n platform geskep waar mentors die nodige leiding aan musikante gee.
“Ons het ook begin fokus op die Afrikaans wat jy in plekke soos Atlantis, Mitchells Plain, Roodewal en Kimberley kry. As almal die Afrikaans sing wat van Pretoria af kom, sê ons: ‘Nee, sing jou liedjie in jou dialek, daar waar jy vandaan kom.’
“Ewe skielik is ons musiekskat nou totaal inklusief. Dit verteenwoordig die totale Afrikaanse gemeenskap, ook die rymkletsers.
“Dit is ware diversiteit en sorg vir die oorlewing van Afrikaans,” sê Morné, wat al 16 jaar by die ATKV en 12 jaar by ATKV-Crescendo betrokke is.
“God het ons met talente gemaak wat ons moet gebruik om eerder mekaar te komplementeer as om te kompeteer,” sê hy.