ATKV-Crescendo oudisies by die Upington Expo

As jy met ’n hart vol lirieke en ’n kop vol deuntjies rondloop, kan jy gerus ’n knoop in jou oor maak, want op 1 September bied die ATKV-Crescendo oudisies by die Upington Expo aan. By dié geleentheid word aspirantliedjieskrywers uit die Noord-Kaap die geleentheid gebied om deel van die 2023 Crescendo-uitdunne te wees. Deelnemers sal op 2 September ’n werkswinkel bywoon wat deur Robin Fourie, Crescendo kursusleier en ambassadeur, asook Whaden Johannes, 2015-finalis, kunstenaar en TV-persoonlikheid aangebied word.
Die deelnemers wat na afloop van die werkswinkel gekeur word, sal die geleentheid hê om in 2023 die ATKV-Crescendo-mentorprogram by te woon, wat saam met kunstenaars soos Anna Davel, Danie du Toit (Spoegwolf) en Deon Meiring aangebied word. Hulle sal onderrig met elke aspek van liedjieskryf sowel as entrepreneurskap en produksiebestuur ontvang.
Hierdie projek fokus sterk op menslike ontwikkeling en die kern van die opleiding en ontwikkeling is gegrond op twee eienskappe – karakter en integriteit. Die span mentors is uit ’n diverse poel musikante en kunstenaars gekies, wat dus verseker dat elke finalis soveel moontlik kundigheid, kennis en toepaslike ervaring ontvang, wat elk van die mentors binne hul onderskeie verwysingsraamwerke kan bied.
Volgens AKTV-Crescendo se projekorganiseerder, Morné van Staden, is hierdie nie ’n talentkompetisie nie – dit is ’n ontwikkelingsprogram wat daarop gemik is om liedjieskrywers met kennis en kundigheid toe te rus. "Die projek fokus ook daarop om nuwe klanke in Afrikaans te ontdek en alle deelnemers word aangemoedig om in hul eie dialek te skryf en sing. Met hierdie aanslag verseker die projek dat daar ’n konstante vloei van nuwe talent, nuwe liedjies en nuwe klanke in die Afrikaanse musiekindustrie is."