ATKV-Crescendo: Petronel en Alzanley in Pta te sien

Die welbekende en bekroonde Suid-Afrikaanse sanger Petronel Baard kom maak in Vrouemaand ’n Gautengse draai by die Pierneef-teater.
In 2020 is Petronel deur die Cordis Trust met die Orde van die Beiteltjie vereer vir haar bydrae tot Afrikaans en by vanjaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees met ’n staande ovasie toegejuig vir haar sonderlinge produksie, ’n Blom in Elke Vrou, wat ook by die opkomende 2023 Woordfees in Stellenbosch te sien sal wees.
Op 3 Augustus kom sing sy van die mooiste oorspronklike musiek en toonsettings uit haar pen vir die Pierneef se gehoor, asook van haar gunstelingmusiek uit musiekblyspele van haar kinderdae, soos The Sound of Music, Cats, Evita en vele meer, want in haar woorde: "Musiek verewig die stories van ons lewens".
Petronel is een van die mentors vir die finaliste van ATKV-Crescendo, die kompetisie wat ook haar loopbaan in 1999 help afskop het, en daarom is dit dan ook haar voorreg om die lieflike sanger Alzanley Lizemore op die verhoog saam met haar te verwelkom.
Alzanley, ’n fantastiese musikant, sanger en een van 2022 se topfinaliste, kom deel haar splinternuwe, opkomende enkelsnit "Klein oneindigheid", asook so ’n paar van haar gunstelingliedere.
Saam bring hulle ’n aand wat beloof om propvol pragtige musikaliteit, deernis, droommooi sang en so ’n stukkie nostalgie te wees, aangebied in samewerking met ATKV-Crescendo.
Kom ons droom vandag! Kom deel in ons Vrouemaandvieringe met twee van Suid-Afrika en ATKV-Crescendo se vroulike legendes.
Om kaartjies te bespreek, stuur ’n e-pos na info@pierneefteater.co.za of ’n WhatsApp-boodskap na 072 460 5568.
*ATKV-lede en -personeel betaal slegs R100 per kaartjie – verskaf asseblief jou naam en lidnommer of naam en posbeskrywing om van hierdie spesiale aanbod gebruik te maak.