ATKV-Crescendo se top-11-finaliste bekend!
Ná heelwat oorweging het ATKV-Crescendo, een van Suid-Afrika se oudste musiekontwikkelingsprogamme, die 11 finaliste aangewys wat gekies is om aan die volgende ronde van vanjaar se ontwikkelingsprogram deel te neem.
Volgens die Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, Sarah Theron, wat een van vanjaar se mentors was, is ATKV-Crescendo soveel meer as “net nóg ’n mentorskapprogram”.
“Dit is ’n helende, veilige omgewing waar liedjieskrywers gekoester en bemagtig word, terwyl daar terselfdertyd aan hul vaardighede geslyp word. Dit is ’n wonderwêreld waarvan alle kunstenaars net droom,” het Theron gesê.
Volgens projekkoördineerder Morné van Staden het vanjaar se mentorskapprogram alle verwagtinge oortref. Die 21 musikante wat gekies is om aan die program deel te neem, het die geleentheid gehad om deur kenners met verskillende spesialisgebiede touwys gemaak te word. Die groep het leiding ontvang van groot name in die Suid-Afrikaanse musiekindustrie soos Petronel Baard, Sarah Theron en Keanu Harker. Musiekvervaardiger Helmut Meijer, publisis Clayton Morar van Clayton Morar Media, asook die handelsmerk- en bemarkingsentrepreneur Jarrod Morkel van COGNITIV, was ook deel van die mentorspan.
“Die naweekprogram was volgepak met opleiding in liriek-, melodie- en handelsmerkontwikkeling. Publisiteit, industriedinamika en selfs neuroprogrammering is maar net ’n paar onderwerpe wat tydens die geleentheid behandel is.
“Die program is spesifiek daarop gemik om finaliste met die nodige kennis, vakmanskap, ingesteldheid en integriteit toe te rus, sodat hulle hul musiekloopbaan sommer van die begin af suksesvol kan afskop. Verder poog dit natuurlik om kwaliteit-liedjieskrywers op te lewer wat die diversiteit van die Afrika-mark verteenwoordig,” het hy gesê.
Mentor Petronel Baard erken dat dit beslis nie maklik was om die top-11-deelnemers te kies nie. “Die top-11-deelnemers wat uiteindelik aangewys is, kan regtig baie trots wees, want hulle is gekies uit kandidate van uitstaande gehalte. Die keuringsproses is demokraties en reflekteer menings van verskillende invalshoeke. Ek wil graag vir die kandidate wat nie na die volgende ronde deurgaan nie verseker dat almal by ATKV-Crescendo wenners is. Hou aan woeker met daardie talent!”
Kreatiewe direkteur, Robin-Dean Fourie vertel dat hy ongelooflik opgewonde is oor die toekoms van hierdie groep musikante. “Ons hede is verbind aan ons toekoms. Ons het nodig om nóú in kunstenaars te belê as ons wil seker maak daar is ’n toekoms vir musiek in hierdie land. Ek voel so geëerd om deel te wees van hierdie hele proses. Om te sien hoe ontvanklik die deelnemers van ATKV-Crescendo se mentorskapprogram is, gee vir my ’n vaste oortuiging dat die toekoms van musiek in Suid-Afrika in goeie hande is.”
Die finaliste gaan deelneem aan ATKV-Crescendo se finale opleidingsprogram wat tussen 1 en 8 Oktober 2023 gaan plaasvind. Die program sal op 7 Oktober afgesluit word met die ATKV-Crescendo-televisieproduksie, Sit dit aan..., wat dan ook die finaliste se debuutvertoning gaan wees.
Die deelnemers sal deur die loop van 2023 in verskeie Platformsessies te sien wees.
Die finaliste is:
- Jason Baartman (Ceres)
- Jacques Verster (Mowbray, Kaapstad)
- Nicole van der Merwe (Pretoria)
- Marizaan Uys (Pretoria)
- Kerischnie Pfeiffer (Wolseley)
- Lucia Poggenpoel (Pretoria)
- PJ Janse van Rensburg (Upington)
- Tauriq Claasen (Worcester)
- Nadene Wessels (Graaff-Reinet)
- Kurt-Lee Hammond (Jeffreysbaai)
- Walonisha Rayners (George)
Vir meer inligting aangaande ATKV-Crescendo en enige opkomende projekte, besoek die ATKV-webwerf by https://atkv.org.za/neem-deel/musiek-en-dansprojekte/crescendo/.