ATKV-Crescendo se uithangaand
Om voor die legendariese sangeres, Anneli van Rooyen, op te tree is ’n voorreg wat die deelnemers aan die ATKV-Crescendo-mentorskapprogram onlangs tydens die Tuinroete-uitdunne in Mosselbaai beleef het. Volgende jaar vier die ATKV-Crescendo-program sy 50-jarige bestaan.
Dertien finaliste het onlangs by die Bravo Lounge in die Garden Route Casino hulle musikale sangtalente voor ’n meelewende gehoor ten toon gestel.
Dit was ’n luisterryke aand met ʼn gelaaide program van sing, kletsrym en instrumentale spel. Alles in ons geliefde taal, Afrikaans.
Die finaliste waarop die drie beoordelaars besluit het, is Onblusbaar, Crimson Hozay, Cronic, Ronel Potgieter, Janine Fourie, Alladin Tristen Buis en Robert Smallz.
Die beoordelaars, Petronel Baard, Anneli van Rooyen en Robin-Dean Fourie, het ’n gedugte taak gehad om uiteindelik hierdie sewe finaliste vir die ATKV-Crescendo-mentorskapprogram te kies.
Daar moes aanvanklik vyf finaliste wees. Volgens Petronel het die beoordelaars twee ekstra mense gekies wat met ATKV-Crescendo se goedkeuring sal deurgaan.
“Die talent is so groot. Die musiekbedryf en lewe is hard genoeg, daarom moedig ons eerder individualisme en volheid van lewe aan. Die Crescendo-familie is groot genoeg vir almal. Dis ongelooflik om te sien hoe mense bemagtig word,” sê sy.
Petronel is die Tuinroete-verteenwoordiger vir ATKV-Crescendo en die talentsoeker wat al ’n lang, kreatiewe pad saam met die kunstenaars van hierdie omgewing stap. “As gevolg van my betrokkenheid by die kultuurforum Mocca (Mosselbaai Kreatiewe Kulture Assosiasie), vir jare as bestuurder en tans as beskermvrou, het baie van die deelnemers voor my grootgeword of oor my pad gekom,” sê Petronel.
Petronel se loopbaan het self ’n groot hupstoot met ATKV-Crescendo gekry en sy beskryf die geleentheid as: “’n Groot eer en vol sirkel”.
Robyn-Dean, alias Die Hooflig, en ook die kursusleier vir ATKV-Crescendo, was die aanbieder vir die aand en het die tegniese verrigtinge gelei.
Die charismatiese Stef Kruger het sy buiging as gaskunstenaar gemaak. Petronel en Stef doen ook ’n vertoning saam genaamd Dubbel die geluk.
“Eerder komplementeer as kompeteer”
Vele bekende sangers soos Randal Wicomb, die beminde Anneli van Rooyen, Anna Davel, Deon Meiring, Lize Beekman, Karen Hougaard, Jak de Priester, Riana Nel en Petronel Baard kom uit ATKV-Crescendo se kompetisiedae.
Volgens Morné van Staden, die projekorganiseerder van ATKV-Crescendo, het die platform verander van ’n kompetisiegerigte program na ’n mentorskapprogram. Ons het dié projek vanaf 2013 herverpak. Ons moes diversiteit en agtergronde in ag neem.
“Afrikaans is nie klein nie. Afrikaans is só divers, talent is oral en jy kry dit van alle plekke af. Daarom het ons die idee van kompetisie verruil vir mentorskap en ’n platform geskep waar ons die musikante kon begelei.
“Ons het begin fokus op die Afrikaans wat jy ook in plekke soos Atlantis, Mitchell’s Plein, Roodewal en Kimberley kry.
“As almal instap en die Afrikaans sing wat van Pretoria af kom sê ons nee. Sing jou liedjie in die dialek van die plek waar jy vandaan kom.
“Dit is ware diversiteit en sorg vir die oorlewing van Afrikaans,” sê Morné wat al 16 jaar by die ATKV en 11 jaar by ATKV-Crescendo betrokke is.
“God het ons met talente gemaak wat ons moet gebruik om eerder mekaar te komplementeer as om te kompeteer,” sê hy.
Die sewe finaliste sal saam met ander uitgesoekte kunstenaars ’n slypskool in Maartmaand in die Paarl bywoon. Hulle sal tydens dié intense program die voorreg hê om nagenoeg 40 tot 60 Afrikaanse liedjies te skryf. Ná die program dring die top tien kunstenaars deur na die finale slypskool in Oktober, met ’n intensiewe opleidingsprogram wat alle aspekte van die musiekwêreld dek.
Hy noem dat ATKV-Crescendo vanjaar talentsoekers soos Petronel, wat hulle kunstenaars ken en musikale ontwikkelingswerk doen, in verskillende omgewings uitgestuur het om oudisies te hou.
“Petronel het byvoorbeeld drie oudisierondes gedoen. Aan die einde kies ons vyf of in hierdie geval sewe mense. Sy ken die projek, ken die hart en die mense wat deelneem.
“Vir my is dit ’n groot mylpaal in die lewe van Crescendo. As jy Crescendo verpak gaan dit oor die hartklop van die mense wat hierby betrokke is. En dis so ’n groot voorreg om Anneli hier te hê,” sê Morné.
“Waar legendes gebore word”
“Anneli was die inspirasie vir die frase ‘waar legendes gebore word’. Om haar hier te hê is die grootste voorreg en droom,” sê Morné.
Robyn-Dean sê hy is bevoorreg om na baie harte en talente te kyk.
“Een van die goed wat ATKV-Crescendo laat uitstaan is dat ons glo in lewende, lopende, selfregulerende kunste, waar ons die spasie geskep het vir mense om hulle talent uit te stal,” sê hy.
Die klankman en produk van ATKV-Crescendo, Selby Williams, het later die aand een van Anneli se eie liedjies, Ek wil jou ken, vir dié beminde legende opgevoer. Anneli het nader gestaan en die waardering het uit haar gestraal.
“Ek is so bevoorreg om die afgelope 19 maande in George te mag woon, ná ek 15 jaar probeer het om dit reg te kry. Ek is so bly dat ek betrek kon word by ATKV-Crescendo, waar my loopbaan in 1979 begin het.
“Dit was die sleutel wat my musiekloopbaan oopgesluit het. Hier word die gees en entoesiasme, die groei, die ondersteuning, die talent en die dryfkrag van die ATKV uitgebeeld. Elke spanlid se talent word onderskep wat dalk andersins verlore sou gegaan het.
“Jy as jong kunstenaar moet uitvind wie jy is, jy moet skryf en dit op ʼn kreatiewe manier doen.”
Sy onthou hoe sy destyds twee van haar eie skeppinge, Visioen en Ben Triovati, vir die vokale afdeling gesing het. En hoe sy Boerneef se Bantom hom so en flennie die snare en ook later Louis van Rensburg se Voshaarnooi, vir die toonsetgedeelte geïmproviseer het.
“Elkeen wat deelneem is ontsaglik bevoorreg dat daar mense is wat jou wil beskerm teen die aanslae van die lewe, maar wat jou ook uitgooi om te swem. Jy moet swem, die wêreld word wilder en kwaaier en jy moet sterk staan in jouself.
“Jy moet helderheid en oortuiging hê om die golwe te trotseer. As kunstenaar en boodskapper van die waarheid gee jy weer vir ander mense hoop,” sê die lewendige vrou wat nog lank in die geheue van baie Suid-Afrikaners gaan voortleef.