ATKV-DigiSpel: Verbeter jou spelling só
Ons lewe in ’n digitale wêreld waarin die belangrikheid van korrekte spelling dikwels misgekyk word. My speltoetser kan mos al die foute vir my uitwys, sal sommige sê. Jongmense kommunikeer in sogenaamde SMS-taal, wat ligjare verwyderd is van korrekte Afrikaans – en dikwels gebruik hulle daardie SMS-taal nie net wanneer hulle ’n boodskap op ’n selfoon tik nie.
Navorsing het die waarde van korrekte spelling in die werkplek al deur en deur bewys. In ’n opname wat deur ’n toonaangewende Britse sekretariële- en kantoorpersoneelkonsultantfirma gedoen is, het 84% van werkgewers gesê die beste werk is waardeloos indien dit vol spel- en grammatikale foute is. 53% van kantoorbestuurders het gesê hulle lees niks verder indien dit wemel van taal- en spelfoute nie. Net só het navorsing bewys dat ’n mens se leesspoed met 11% afneem wanneer daar spelfoute in ’n leesstuk is en boonop trek dit ook die leser se aandag af van die boodskap wat hy moet kry.
Korrekte spelling is belangrik: by die invul van vorms, die skryf van briewe – e-pos of ander – en verslae, die saamstel van notules, en vir leerders veral wanneer hulle besig is met kreatiewe skryfwerk. Selfs op jou oudag moet jy korrek kan spel indien jy jou inkopielysie saamstel vir iemand om namens jou winkel toe te gaan. Leerders moet ook besef dat swak spelling hulle vermoë om akademies te presteer, of uiteindelik ’n suksesvolle loopbaan te hê, ernstig benadeel. Boonop dra goeie skryfvaardighede by tot beter begrip en kommunikasie en dit voorkom verwarring. Dit laat ook die indruk dat detail vir jou belangrik is en dat jy trots voel op jou werk.
Prof. Gerhard van Huyssteen van die Noordwes-Universiteit stem volkome saam dat goeie spelling baie belangrik is vir effektiewe kommunikasie en dat dit noodsaaklik is om uiteindelik in jou werkplek te presteer. Met tegnologie tot ons beskikking, sê hy, is swak spelling deesdae onverskoonbaar. Hy gee die volgende wenke aan enigeen wat hul spelling wil verbeter.
- Gebruik altyd tegnologie as jy skryf. Op jou rekenaar is ’n spel- en grammatikatoetser en jou selfoon het sleutelborde wat jou spelling in verskillende tale kan voorspel. VivA (die Virtuele Instituut vir Afrikaans) se woordeboekportaal en Pharos Aanlyn (pharosonline.co.za) moet altyd oop wees op jou rekenaar, dan is dit blitsvinnig om ’n antwoord te kry.
- Indien jy jou spelling wil verbeter, moenie die outomatiese korrigeerder (autocorrect) op jou rekenaar aanskakel nie. Sodra daar dan ’n rooi strepie onder ’n woord verskyn, kyk of jy nie kan sien hoekom dit foutief is nie, voordat jy voorstelle vir die korrekte spelling vra. Só leer jy nie net wat fout is nie, maar ook hoe om dit te korrigeer.
- Hou VivA se Windows-toepassing permanent oop langs jou. As jy net vir ’n oomblik twyfel, soek die woord vinnig op in die toepassing.
- Een van die groot probleme wat tegnologie nie vir ons kan oplos nie, is wanneer ’n woord los of vas geskryf moet word. As jy onthou dat twee soortname langs mekaar GEWOONLIK vas geskrywe word, dan het jy ongeveer 83% van dié probleem opgelos.
Suléne Pilon, die voorsitter van die Afrikaanse Taalkommissie, gee die volgende wenke oor ’n paar woorde wat dikwels verkeerd gespel word:
- Dis altyd beter om in ’n woordeboek seker te maak of woorde vas of los geskryf word. Die een-begrip-een-woord-beginsel werk nie altyd goed nie.
- “Nog steeds”, “op pad” en “huis toe” is almal twee woorde. Leer vir jouself dié sin: Ek is nog steeds op pad huis toe.
- “Gunsteling” en “reuse” is naamwoorde en daarom word dit vas geskryf aan die naamwoord wat daarop volg. My gunstelingkos is pannekoek. Die reusebyeenkoms is deur duisende bygewoon.
- “Privaat” en “aanlyn” is byvoeglike naamwoorde wat los geskryf word van die naamwoord wat daarop volg. Dit is dus privaat skool, privaat funksie en aanlyn vergadering of aanlyn klas.
- Jy vra iemand “om verskoning”. Dit is altyd verkeerd om te skryf “omverskoning” of “onverskoning”.
By die ATKV is Afrikaans ’n belangrike fokuspunt en daar word op verskeie maniere gepoog om die korrekte gebruik van die taal te bevorder. Een daarvan is ATKV-DigiSpel. Hierdie is ’n opwindende kompetisie, waarin leerders en volwassenes se spelvermoëns aanlyn getoets word. Die kompetisie is oop vir leerders van graad 1 tot graad 12 en daar is ook ’n kategorie vir volwassenes.
Hopelik spoor ATKV-DigiSpel leerders aan om meer aandag aan hul taalgebruik en spelling te gee en op te hou om in SMS-taal te kommunikeer. Vir volwassenes is dit ’n heerlike uitdaging om te sien of hulle spelling so goed is as wat hulle dink. Die inskrywingsgeld beloop R120, maar indien jy voor of op 24 Februarie inskryf, kos dit slegs R100 per inskrywing. Alle inskrywings sluit op Vrydag, 3 Maart. Meer inligting oor ATKV-DigiSpel is beskikbaar by https://adobe.ly/3lRmCWW.