ATKV-DigiToneel 2021: En die TOP 20 is ...

Vir maande lank al word ons daaglikse wel en wee deur die Covid-19-pandemie belemmer, maar een ding wat definitief nie ingeperk is nie, was die kreatiwiteit van die deelnemers aan ATKV-DigiToneel 2021.
Nodeloos om te sê het dit vanjaar kopkrap geverg om die TOP 20 aan te wys.
Mentors Pietie Beyers, Fatima Abdool, Schoemé Grobler, Mari Molefe van Heerden, Wilhelm van der Walt, dr. André Gerber en Lea Vivier is dit eens, “ons is verstom oor die gehalte van die werk”.
Deelnemers is vanjaar weer uitgedaag om die liefde vir toneel te bevorder deur slegs nuutgeskrewe monoloë binne ’n voorgeskrewe tema-wolk (kop, mondig, rebellie, sleutel, toekoms) in te skryf.
Daar is dus geen kortpaaie deur reeds bestaande werk af te stof en lewe in te blaas nie. Die ATKV wil die grense met ATKV-DigiToneel verskuif deur nuut te skep en dan vir kamera te verfilm.
“Elke inskrywing wat ek beoordeel het, was soos ’n warm trotse kombers wat my omvou het,” gesels Mari (Molefe van Heerden) oor die jong mense se werk.
“Ek kan nie wag om te sien hoe dié uitskieters hulself verder gaan strek nie, want om self te kan skryf en dan nog dit oortuigend te vertolk sit nie in enige een se broek nie.”
Wilhelm (van der Walt), ook ’n mentor, glo die hoeveelheid nuwe oorspronklike tekste spreek boekdele oor die jaar wat agter ons is. “Tieners het baie tyd met hulleself bestee en deur goed gegaan wat hulle neergepen het om met ander te deel.”
“Die deelnemers het vanjaar baie meer aandag in die algemeen gegee aan kamerawerk en redigering om hul puik spel te ondersteun,” sê Wilhelm.
JJ van Niekerk, projekorganiseerder van ATKV-DigiToneel, is van mening dat die groeitempo in kwaliteit van vanjaar se inskrywings die projek aanspoor om ’n nuwe fase van ontwikkeling binne te gaan om aan die gehalte van hierdie kreatiewe vraag te voldoen.
“Die deelnemers verstaan die medium beter en hul kreatiewe skryfwerk, verfilming, redigering en vertolking van interessante karakters laat jou voel asof jy na hoogtepuntfilmgrepe kyk!” sê hy.
“Maak nie saak watter temas ons vir hierdie tieners gooi nie, hulle skep kreatiewe karakters met interessante storielyne wat jou binne vyf minute boei.”
Al die deelnemers wat ingeskryf het, ontvang benewens hul toekennings vir prysenswaardige prestasie in die eerste ronde, persoonlike stemnotas van twee mentors op die paneel wat hulle kan gebruik om aan hul werk te skaaf of as inspirasie te dien om aan te hou skryf en speel.
Die TOP 20 sal nou aan hul inskrywings skaaf en dan verder deur vier ander beoordelaars gementor word op hul reis na die nasionale finaal wat vanjaar ook as ’n TV-reeks van vier episodes vanaf 21 Oktober op Via (DStv-kanaal 147) uitgesaai sal word.
Die TOP 20 is:
Alma van Heerden van die Kuswag Skool in Amanzimtoti met Writers Block.
Ancois Bodenstein van die C & N Sekondêre Meisieskool Oranje in Bloemfontein met Kop eerste-koebaai.
Bianca Janse van Vuuren van die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria met Clarice-Marie.
Carla Hugo van die Hoërskool Zwartkop in Centurion met Miss Delivery.
Danielle Evans van die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp met Pakkies van Drie.
Edrócha Orr van die Hoërskool Tygerberg in Parow met Beskerming.
Elzaan Daniels van die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad met My Future is Innie Verliede.
Giulia Nel van die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad met Laatnag Terapie.
Hanno van der Walt van die Hoërskool Rustenburg met Dinkie Bus.
Jene van Heerden van die Hoërskool Witteberg in Bethlehem met Mond-dig.
Karli Marais van die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp met Heg.
Kaylene Nel van die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp met Koppie jy?
Kaylin Schafer van die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria met Janeelia.
Kristen Fichardt van die C & N Sekondêre Meisieskool Oranje in Bloemfontein met Pers.
Luciano Fredericks van die Hoërskool Tygerberg in Parow met Manne en manne.
Marelee Ferreira van Windhoek Gimnasium met Die laaste kleur.
Merize Vlietstra van die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad met Grootste Pot Snot.
Nadine Booysen van Hoërskool McLachlan in Joubertina met Wat "matter" die meeste?
Themelios Demas van Hoërskool Tygerberg in Parow met Dis mos wat pa's doen.
Zara van der Westhuizen van die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch met K O P.
Hou die ATKV se webwerf en sosiale media dop wanneer die TOP 10 op 30 Julie bekendgemaak word.
Die TOP 10 se voorlaaste monoloog-opname sal ook op die ATKV se webwerf en sosialemediaplatforms in Augustus vir die kykerskeuseveldtog gelaai word sodat kykers vir hul gunsteling kan stem.
’n Digitale bundel met die toptekste (wat ’n goue [80-89%] of cum laude- [90-100%] toekenning ontvang het) word ook in Oktober bekendgestel.