ATKV-DigiToneel-stuk word kykNET-storiefilm
Tydens verlede jaar se ATKV-DigiToneel het veral een monoloog, Miss Delivery, die aandag getrek en is dié stuk onlangs as ʼn kykNET-storiefilm vrygestel. Miss Delivery is geskryf deur Marista van Eeden, en deur Carla Hugo van Hoërskool Zwartkop in Centurion vir DigiToneel opgevoer. Deelnemers is uitgedaag om die liefde vir toneel te bevorder deur slegs nuutgeskrewe monoloë binne ’n voorgeskrewe temawolk (kop, mondig, rebellie, sleutel en toekoms) in te skryf. Carla Hugo het die waagmoed gehad om in te skryf vir DigiToneel en het Marista genader om ʼn monoloog volgens die voorgeskrewe temawolk te skryf. Die monoloog het in die monoloogbundel verskyn. Hoewel Carla nie die hoofrol vir die kykNET-storiefilm vertolk nie, het sy indirek ʼn bydrae gelewer tot die vervaardiging van ʼn nuwe Afrikaanse kortfilm. Carla is in haar noppies dat juis dié stuk wat spesiaal vir haar geskryf is, en wat sy as monoloog opgevoer het, in ʼn film verwerk is. Sy sê: “Ek was so trots op Marista wat die teks vir Miss Delivery geskryf het. Sy het eers net vir my laat weet dat sy die teks verleng het en die konsep voorgelê het as film. Ek is net só dankbaar dat die teks kan aanhou leef en kon ‘spring’ van kamera tot kamera. Miss Delivery was die begin van my DigiToneel-reis. Dit was ongelooflik om die uitdaging aan te pak. Ek het ʼn hele rukkie geneem om die karakter, Ansu, ten volle te ken en eg te speel. Die teks en ervaring het my geïnspireer om weer hierdie jaar in te skryf vir DigiToneel.”
Miss Delivery se reis
Marista van Eeden, skrywer van Miss Delivery, sê nog voordat sy die pen opgetel het om aan Miss Delivery te begin skryf, was Carla se natuurlike aanslag vir komedie in haar agterkop. “Ek dink dit was met dié, en die skielike toename van delivery fietsies ten tye COVID, dat die twee idees maar in my kop begin saamsmelt het. So ja, dit is uit dié 'saadjies' wat die konsep gegroei het – dit het natuurlik op papier weer 'n heel nuwe rigting ingeslaan,” sê sy.
Die storie gaan oor Ansu, 'n jong meisie wat altyd 2000% gee, selfs in situasies wat net 10% verg. Dit maak egter nie saak hoeveel effort sy insit nie, populariteit en sukses bly maar net buite haar bereik. Dit is dan nou natuurlik tot 'n uiters aantreklike fietsryer – Karel – eendag haar oog vang en sy net daar besluit om self die tweewielsport aan te durf. Ansu se tekort aan talent stuit haar nie om steeds 2000% te gee nie. Om hierdie obsessie te befonds (lycrafietsrypakkies is duur) begin Ansu pakkies aflewer op haar fiets. Dit is dan juis by een so 'n Miss Delivery-kliënt wat die monoloog homself afspeel en Ansu vertel wat sy al alles moes prysgee om fiets te ry, en dat dít wat begin het met 'n duidelike eindbestemming dalk nou ontaard het in 'n eindelose hamster-op-ʼn-wiel-situasie.
En so word dit ʼn film…
Marista vertel: “Nadat ons saamgewerk het aan 'n silwerskermkortfilm, Bennie Bingo, het JC Snooke (uitvoerende vervaardiger van Life ETC) my gekontak en gevra of ek nie 'n konsep vir 'n 50-minuut-TV-filmkomedie het nie. Ek het eers 'n bietjie gewik en geweeg, maar Carla se monoloog het by my bly opkom. Ek het die konsep ingestuur en wraggies, daar keur KykNET dit toe goed. Om die monoloog na 'n film te verwerk was nogal 'n proses. Ek moes eerstens die stuk heelwat uitbrei – van 1.5 bladsye na 50. Om dit te doen, moes ek natuurlik die karakter herontdek en inkleur. Ansu wat langs haar fiets met 'n gehoor staan en gesels, het nie nou meer bestaan nie – daar was nou ander karakters, stokperdjies, vrese, ideale en spasies waarin sy kon op die skerm beweeg. Die verandering van medium was dan ook 'n belangrike aspek waaraan ek deurlopend myself moes herinner. Waar Ansu op die verhoog 'n paar pittige lyne kon sê, moes haar aksies dit nou op die skerm uitbeeld, dit wat met haar gebeur, wat sy veroorsaak, ens. Die goue reël was maar show, don't tell. Oftewel, dit was die intensie.” JJ van Niekerk, ATKV-DigiToneel se projekorganiseerder, sê: “Die ATKV het al vir 58 jaar die liefde vir toneel ontwikkel deur ATKV-Tienertoneel, maar met die ontstaan van ATKV-DigiToneel ontwikkel ons nou spesifiek spel vir die kamera. Dit is nuut, maar ons dapper deelnemers gryp die geleentheid aan en wys hul kreatiwiteit op ’n hoogstaande gehalte. Vandaar die vervaardiging van die realiteitsreeks op VIA, Gekies vir die Kollig, waar die toekoms van spel vir kamera hul buiging op TV maak en aan die publiek wys waarom hulle so talentvol is en wat na ses maande se mentorskap deur mentorbeoordelaars wat in die bedryf werk, in hulle steek. Die jaarlikse publikasie van nuwe monoloogbundels word gebruik as nuwe inhoud vir akademiese en literatuurgebruik en, in hierdie geval, die ontwikkeling van kortfilms wat weereens bewys dat die ATKV die voorloper is met die skep van geleenthede vir die ontwikkeling van kuns en kultuur in Suid-Afrika.”
Die tweede seisoen van Gekies vir die Kollig word vanaf Dinsdag, 11 Oktober, om 19:30 op Via (DStv-kanaal 147) uitgesaai.