ATKV en BrainTribe se loodsprojek skop af
BrainTribe is ’n kreatiewe program vir leerders wat van die neurowetenskap kinderspeletjies maak. Verskeie afdelings binne die ATKV het hande gevat met ’n ATKV-BrainTribe loodsprojek in Graaff-Reinet en Bloemfontein, waartydens BrainTribe se Manie Botha sessies aangebied het by agt skole. Volgens Elda Kruger, bestuurder van ATKV-takke, was die terugvoer “ongelooflik positief” en die impak in die jongmense se lewens onbeskryflik.
Die ATKV-streekbestuurders het ook die geleentheid gekry om ’n BrainTribe-sessie in persoon by te woon en deel van die belewenis te word. “Dit is vir ons ’n voorreg as streeksbestuurders om as ’n span een van die sessies by die Laerskool Gericke te kon bywoon. Om so iets in persoon te beleef het net soveel meer waarde as om beplanning op papier te doen,” sê Elda. Elda en haar span streekbestuurders is opgewonde oor die vooruitsig om BrainTribe by skole in die res van die land bekend te stel.
Sy sê, “Die takke-afdeling binne die ATKV bestaan uit nege dinamiese streeksbestuurders wat die Afrikaanse taal- en kultuurvoetspoor deur takke – 293 takke landswyd en in Namibië – lewend hou en groei binne gemeenskappe, waar projekte aangepak word wat regtig ’n impak en verskil maak in individue se lewens. Hierdie projek dien dus as een van ons tema-projekte wat ons verder neem na die res van die land, in samewerking met BrainTribe se bekwame span.”
Sterk emosionele intelligensie is ’n kritiese element binne elke mens se daaglikse bestaan. By die ATKV is opleiding en ontwikkeling ’n groot fokus wat soos ’n goue draadjie dwarsdeur alle projekte loop. BrainTribe se aanslag om kinders op ’n prettige manier te ontwikkel op hierdie gebied versoen met die ATKV se fokus op jeugontwikkeling.
“Dit is dus ’n voorreg om met BrainTribe ’n vennootskap aan te gaan om hierdie doelwit te realiseer,” sê Elda. “Daar is so baie elemente in die wêreld waarin ons tans leef wat mense se konneksie met mekaar inperk. Sosiale media, onder andere, asook alternatiewe maniere waarop ons met mekaar kommunikeer wat so ’n bietjie onreg aandoen aan ons sosiale vaardighede. Daarom voel ons hierdie projek bou net weer aan die ‘menswees-element’ en selfbeeld en selfstandigheid van ons kinders. Die belangrikheid daarvan om jou emosies te verstaan en bestuur, wat dan lei tot ’n beter verstaan van jouself en ander. Ons is opgewonde om saam met BrainTribe ons jongmense op ’n prettige wyse toe te rus met ’n sterk gereedskapskis wat hulle vir die res van hul lewens saam met hulle kan dra.”